Ek moet bewus wees van my swakhede

image_pdfimage_print

The New Testament without the miracles would be far easier to believe. But the trouble is, would it be worth believing? —J. Gresham Machen

Ek moet bewus wees van my swakhede

Rick Warren sê dat ons nie ons swakhede moet probeer wegsteek of ontken nie. Ons moet hulle herken. As God ons werklik gaan gebruik sal ons soos Jakob vir die res van ons lewens mank loop. Een les wat ons altyd moet onthou, is dat God swak mense gebruik – God gebruik nie supermense in sy bediening nie. Die doel is dat bedienings moet volhoubaar wees. Watter soort bedienings is volhoubaar? Dié wat eg en kwesbaar en eerlik en nie vals oor ons swakhede is nie.

 

Hy glo dat bediening op twee groot pilare staan:

  • Petrus se belydenis: U is die Christus (Markus 8:29).
  • Paulus se belydenis aan die mense in Listra: Ons is maar net sulke mense soos julle (Handelinge 14:15).

Ons is baie gou om ons geestelikheid te verklaar, maar nie so gou om ons menslikheid te verklaar nie.

God gebruik swak mense: En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam (1 Korintiërs 1:27). God plaas sy groot gawes in gewone houers sodat Hy alleen die krediet kry.

Wat is die voordele van swakhede in ons lewens?

  • Swakheid lei tot afhanklikheid van God.
  • Swakheid verhoed trots.
  • Swakheid lei tot ‘n groter afhanklikheid van ander mense.
  • Swakheid brei ons vermoë vir bediening uit.

Ons swakhede sal slegs ander mense in die geloofsgemeenskap help as ons bereid is om dit te deel. Kwesbaarheid versterk jou leierskap. Almal van ons is ‘n samevoeging van sterk- en swakpunte. Nederigheid beteken nie dat ek my sterkpunte ontken nie, maar dat ek eerlik oor my swakhede is. Hoe ons die swakhede in ons lewens hanteer, bepaal of hulle ons help of hinder. Mense hou van mense wat opreg is. As jy eerlik oor jou swakhede is, sien mense jou as opreg. Hoe meer opreg mense jou sien, hoe meer geloofwaardigheid het jy; hoe meer geloofwaardig jy is, hoe meer invloed het jy. Hoe meer invloed jy het, hoe meer kry jy gedoen.

Word opreg.

image_pdfimage_print