Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(14) – JP Louw

image_pdfimage_print

Feeste

’n Aantal feeste is op sekere dae gevier-meestal in die droë dele van die jaar wanneer die manlike Jode makliker kon meedoen omdat dit van hulle verwag was om deel te neem. Eksodus 34:23 sê “drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here, verskyn”. Die beloning word in vers 23 gestel “Ek sal nasies voor jou uitdryf en vir jou ‘n land gee” en “dan sal Ek sorg dat niemand jou land begeer nie”. Hierdie feeste was die oesfeeste van danksegging vir die gars, koring en druiwe. Hierdie oeste het sodoende ‘n religieuse kleur gekry: dank aan die Here, en beloftes van beskerming en hulp van die Here. Feeste het dikwels ook die bring van offers behels.

Die fees van ongesuurde brode het met Paasfees saamgehang om die uittog uit Egipte te gedenk. Dan was daar ook die fees van die weke, ‘n koringfees wat met die gee van die Wet op die berg Sinai verbind is. Die veertig jaar in die woestyn, toe in tente geleef is, word tydens die druiwe-oes gevier, ens. Hierdie feeste was ook belangrike sosiale geleenthede. Van die feeste het ook familiegeleenthede geword. In 1 Samuel 1:21 word vertel dat Elkana en sy hele gesin gegaan het om die jaarlikse offer te bring. Jesus se ouers het elke jaar vir die Paasfees na Jerusalem gegaan (Lukas 2:41). Tydens die Paasfees het die Jode in groot getalle opgegaan na Jerusalem toe.

 

Paasfees en die fees van die Ongesuurde Brode

Hierdie fees is in die maand Nisan (ongeveer Maart/April) gehou van die 14de tot die 21ste van die maand (Levitikus 23:5-6). Hierdie feeste het die volk laat dink aan die tyd toe die Here hulle uit Egipte uitgelei het. ‘n Lam is in elke huis geslag as herinnering aan die bloed van die lammers op die deurkosyne in Egipte sodat die doodsengel daardie huis moes oorslaan. Die Hebreeuse woord “pesach” wat “verbygaan” beteken, is die oorsprong van die Griekse woord “pascha” waaruit die naam paasfees afgelei,is. Ongesuurde brode het herinner aan die haas om te trek toe die deeg nie nog eers kon rys voordat dit gebak is nie (Eksodus 12:11).

In die tyd van die Nuwe Testament was die Paasfees ‘n groot geleentheid. Baie het na Jerusalem gereis en paaie is versorg. Ook is grafte wit gekalk sodat hulle goed sigbaar was om te verhoed dat iemand daaraan raak en dus onrein vir die fees sou wees. Alle kookgerei is deeglik skoongemaak of met nuwes vervang. Op die 13de van die maand is die huis gefynkam om toe te sien dat geen brood met suurdeeg gebak in die huis is nie. In Jerusalem is kamers vir gaste gereed gemaak. ‘n Lam is gekoop en na die tempel geneem op die 14de om geoffer te word. Die vet en bloed is verbrand en die vleis weer teruggeneem huis toe om gebraai te word. Die vader van die huis het dan ‘n vaste ritueel gevolg waarin almal aan die uittog en sy voorskrifte herinner is. Die jongste lid het vrae hieroor gevra wat die vader geantwoord het. Ongesuurde brood, bitter kruie en sous het die haas om weg te kom uit die swaarkry in Egipte gesimboliseer. Deuteronomium 16:1-8 gee voorskrifte hoe die paasfees gevier moes word.

Skrywer: Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...