Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (2) – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Inhoudsmates

Die inhoudsmate is oorspronk­lik op net so ‘n eenvoudige wyse bereken. Die naam van die houer is gebruik as ‘n benaming van die inhoud. Die grootste mate wat vir droë items gebruik is, was die homer, wat ‘n “donkievrag” be­teken het, en dit is gebruik om graansoorte mee af te meet (Levitikus 27:16). Die efa was ‘n groot houer met ‘n deksel en volgens Sagaria 5:6-7 was dit groot genoeg vir ‘n vrou om daarin te kon sit. Dit was een tiende van ‘n homer (Ese­giël 45:11) en dit is ook ge­bruik om graan mee af te meet (Rut 2:17). Die gomer (“die gerf”) was die kleinste maat­eenheid waarmee graan afge­meet is en dit was ‘n tiende van ‘n efa (Eksodus 16:33). Dit was dus omtrent dieselfde grootte as ‘n issarion, wat soms met “tiende” vertaal word in moderne Bybelverta­lings; dit is gebruik om meel mee af te meet (Eksodus 29:40). Die vloeistofmaat wat met die efa gelyk was, was die bat. Die volgende tabel kan dus saamgestel word:

10 gomers/issarion = 1 efa/bat 10 efas/bat        = 1 homer

Die hin het egter geensins met bogenoemde verband gehou nie en dit is gebruik om olie­ en wynofferandes mee of te meet (dit was ongeveer 4 liter). Een sesde van ‘n hin was die minimum water wat vir een dag nodig was (Esegiël 4:11). Dit lyk of daar later meer akkuraatheid in die stelsel ingebou is. Die Assiriërs het ’n sisteem met die syfer ses as basis ontwikkel. Hulle stelsel het so gelyk:

6 ka                       = 1 situ

30 situs                 = 1 gur

Hierdie woorde klink baie soos die Hebreeuse woorde kab, seah en kor, en dit mag dus wees dat die Jode hierdie stelsel oorgeneem het en dit naas hulle eie stelsel gebruik het. Dit sou beteken dat:

6 kab                     = 1 seah

30 seahs               = 1 kor

Die kab word in die verhaal van die beleg van Samaria genoem, en ‘n kwart kab duiwemis is toe vir vyf sikkels silwer verkoop (2 Konings 6:25). Die seah is gebruik om meel of graan mee af te meet (2 Konings 7:1). Die kor is weer gebruik vir die afmeet van groot hoeveelhede vloeistowwe. Dit was die ekwivalent van die homer (Esegiël 45:14). Dit is egter nie moontlik om die presiese ekwivalente daarvan volgens ons stelsel te bereken nie, maar dit word geskat dat die “donkievrag” of die kor ongeveer tweehonderd en twintig liters was.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

image_pdfimage_print

You may also like...