Heiligmaking

image_pdfimage_print

Heiligmaking – Jan van der Watt

Jan Smit skryf ‘n lang brief waarin hy verskeie sake noem. Soos ek die brief verstaan gaan sy probleem in essensie om die vraag wat beteken heiligmaking en wat is die vereiste vir die gelowige ten opsigte van heiligmaking?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

As dit oor heiligmaking gaan, is daar ‘n paar perspektiewe wat ‘n mens in gedagte moet hou:

a)      God maak ons deur Jesus en sy Gees heilig, met ander woorde, Hy sonder ons af om Syne te wees. Dit kan ons nie self doen nie. Deur die bloed van Jesus word ons rein gewas. Dit gaan dus oor die status wat God vir ons gee. In sy oë kan ons dus sy kinders wees en voor Hom staan, maar nie uit eie verdienste nie.

b)      Daar is tog ook die verwagting dat die gelowige uit dankbaarheid vir wat die Here vir hom of haar gedoen het, positief in gehoorsaamheid moet reageer deur te lewe in ooreenstemming met die doel waarvoor die Here die persoon afgesonder het. Jy moet dus ook heilig lewe. Die verdienste van die ‘heilig lewe’ word egter nie as die basis van ons saligheid gemaak nie, hoewel dit tog ‘n vereiste is dat mense wat gered is so moet leef. Hoe is dit dan moontlik dat dit nie basis van die saligheid is nie, maar tog nodig is? Die antwoord lê in die manier waarop daar in die Bybelse tyd na mense gekyk is. Jou handelinge is nie van jou as persoon geskei nie. Wie jy binne in jouself is, het deur jou woorde en dade duidelik geword. Jou woorde en dade is eintlik maar net die stempel van dit wat binne in jou aangaan. Dus: as jy voordurend optree soos iemand wat God nie ken nie, sal daar afgelei word dat jy nie aan die binnekant veel van God hou of aan Hom behoort nie. Die omgekeerde is ook waar. Wat jou red is dat jy aan die binnekant aan God behoort (met ander woorde in Hom glo en in ‘n verhouding met Hom staan). Dit sal in jou dade duidelik word – dit is net ‘n afspieëling van jou verhouding.

Die gevaar is dat mens so op die dade kan konsentreer dat jy begin somme maak en sê dat jy meer goeie dade as slegte dade gedoen het en dus moet God jou aanvaar. God aanvaar jou omdat jy in ‘n verhouding met Hom staan en nie omdat jy goeie dade doen nie; tog verwag Hy van jou dat as jy aan Hom behoort jy moet leef op ‘n manier wat vir hom waardig is.

As jy egter foute maak (sonde doen) moet jy jou verhouding met God regmaak deur jou geloof te bely. Dit herstel die verhouding.

Outeur: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print