Het ons ons godsdiens afgewater? Volg My … al is die pad moeilik

image_pdfimage_print

God’s mercy is so great that you may sooner drain the sea of its water, or deprive the sun of its light, or make space too narrow, than diminish the great mercy of God –  C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? Volg My … al is die pad moeilik

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

In die vorige blog het ons gesien dat ons die pad wat ons moet loop om Jesus te volg maklik probeer maak. Is dit reg? In Matteus 7:13 – 14 praat Jesus van twee paaie en twee poorte.

Jesus Christus ken die mens en daarom waarsku Hy ons hier teen ons neiging om altyd na die breë pad af te dwaal. Hoekom? Want dit is ‘n maklike pad en ‘n gewilde pad – daar is baie mense op daardie pad. Hoekom is dit maklik? Want ons neem een maal ‘n besluit vir Jesus en daarna het ons geen verdere bekommernisse nie – sy opdragte, standaarde en heerlikheid bekommer ons nie meer nie. Jy het nou ‘n kaartjie hemel toe en al jou sondes word langs die pad verdra.

Maar nou sê Jesus vir ons dat dit nie sy pad is nie. Hy sê dat die poort in die pad wat na die hemel toe lei nou is en dat min mense dit kry. Sy pad is een van pyn, swaarkry, verdrukking, vervolging, ens – ‘n moeilike pad om te loop. Hier waarsku Jesus sy dissipels dat swaarkry hulle voorland is. Daarom moet hulle op hulle hoede wees.

Niemand kan sê dat Jesus vir ons ‘n vals beeld voorgehou het nie. Hy sê presies vir sy dissipels wat hulle kan verwag:As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor sal dit terugkry (Matteus 16:24 – 25). (Dit is interessant dat hierdie uitspraak van Jesus volg kort na Petrus se belydenis dat Hy die Seun van die lewende God is.) Geen wonder daar is maar min mense op hierdie pad nie.

Min mense is bereid om die prys wat Jesus hier van sy dissipels eis, te betaal. Ons is nie bereid om ons lewens te verloor en ons oor te gee aan sy wil nie – om Hom te volg waar Hy ons ook al lei. In ons haas om God se genade te verkondig, sê ons nie alles wat Jesus gesê het nie – dat ons aan ons vrugte geken sal word. Nog erger: Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi (Matteus 7:19).

As Jesus Christus mense se lewens verander, lyk hulle anders. Christene wie se lewens nie verander het en wie se lewens nie anders lyk as nie-Christene se lewens nie, is nie Christene nie – hulle mislei hulleself. Maar hoe word jy werklik ‘n volgeling van Jesus Christus? Daarna kyk ons volgende keer.

image_pdfimage_print

You may also like...