Hoe kan ek ooit verander?

image_pdfimage_print


“I have decided to stick with love. Hate is too great a burden to bear.”
Martin Luther King, Jr

 

Hoe kan ek ooit verander?

As ek een ding van myself kan verander, wat sal dit wees? Meeste van ons stel belang in verandering; God wil hê dat ons moet verander; ‘n lewe wat weier om te verander, is ‘n vermorste lewe. Verandering is ‘n noodsaaklike deel van ‘n lewe wat groei. Ons het verandering nodig om vars te bly en vooruit te gaan.

 

Maar dikwels vind ons dat al die idees wat ons in boeke en by seminare kry tydelik verandering teweeg bring, maar geen permanente gevolge het nie. Hoekom? Ons werk aan die buitekant – eksterne gedrag – en nie intern – ons motiewe – nie. Enige blywende verandering moet intern begin – en dit is God se werk.

 

In die storie van Jakob in Genesis 32 sien ons die proses wat God gebruik om ons te help om die soort mens te word wat Hy graag wil hê ons moet wees. Genesis 32 was ‘n draaipunt in Jakob se lewe. Dit is ‘n dramatiese voorbeeld van hoe God ons kan verander.

 

Jakob was maar ‘n skelm persoon. Selfs sy naam beteken bedrieër. Maar ‘n lewensveranderende ondervinding verander sy lewe radikaal – hy word ‘n nuwe persoon. Selfs sy naam verander – hy word nou Israel. Na hierdie ondervinding was hy nooit weer dieselfde mens nie.

 

In hierdie storie sien ons die proses wat God gebruik om mense te verander. Dit sê dat ons nie hoef te bly soos ons is nie; dat God ons kan help om te verander. Ons moet net toelaat dat Hy dit doen. Hoe laat ons God toe om ons te verander?

 

Ons lees dat Jakob een aand alleen was toe ‘n man tot dagbreek met hom gestoei het. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. Nou wat het ‘n stoeigeveg duisende jare gelede te doen met verandering in my vandag? Hierdie gebeurtenis beskryf die vier stappe wat vir transformasie nodig is.

 

  1. Krisis

Dit was ‘n lang geveg. Die man kom agter dat hy nie vir Jakob kan wen nie – dit was ‘n situasie buite sy beheer. As God ons wil verander, begin Hy deur ons aandag te trek – deur ons in ‘n situasie volkome buite ons beheer te plaas. Ons kan nie wen nie; ons word net moër en moër. God gebruik ondervindings en probleme en krisisse om ons aandag te trek. Ons verander nooit voor ons nie ontevrede met ons huidige situasie word nie. As ons ongemaklik en ontevrede genoeg is, laat ons toe dat God iets in ons lewens doen. Ons verander nooit voor die pyn wat ons tans ondervind meer is as ons vrees vir verandering nie.

 

  1. Toewyding

Toe die man vir Jakob vra om hom te los, antwoord Jakob: Ek sal jou net los as jy my seën. Jakob was toegewy – hy volhard. Nadat God ons aandag gekry het deur ‘n probleem, los Hy dit nie onmiddellik op nie. Hy wag eers om te sien of ons werklik ernstig is. Baie mense gooi te gou tou op – hulle word ontmoedig. Ons moet soos Jakob sê: “God, ek gaan U nie los voordat U my seën nie.”  Ons moet altyd onthou dat ons nie sommer oornag in ons huidige situasie beland het nie. Ons gesindhede, optrede, gewoontes en swakhede het oor jare ontwikkel. Soms verwyder God hulle laag vir laag. Volhard.

 

  1. Belydenis

Die man vra vir Jakob wat sy naam is. Hoekom vra hy dit? Hy wil hê dat Jokob sy karakter moet stel – Jakob beteken bedrieër. Toe hy homself as Jakob indentifiseer, erken hy sy karakterswakhede. Dit is ‘n belangrike deel in God se proses om ons te verander. Ons verander nooit voor ons eerlik ons foute, sondes, swakhede erken nie. God werk eers aan ons probleem as ons erken dat ons ‘n probleem het. Dan kan Hy aan die werk spring. Maar wat doen ons? Ons maak allerhande verskonings vir ons probleme. Ons is veral geneig om ander te blameer, want dit is baie moeilik om te erken dat die fout by ons self lê. Hoekom moet ons ons foute erken? Om God daaroor in te lig? Nee, Hy weet reeds daarvan. Nee, ons erken dat Hy reg was en dat ons ‘n probleem het. Dit hou ons nederig as ons ons foute erken. Doen ons dit gee God aan ons die krag en nodige hulpbronne om ons te help om die mens te word wat hy wil hê dat ons moet wees.

 

  1. Samewerking

God begin om Jakob te verander toe hy erken wie en wat hy is en toe hy begin saamwerk aan God se plan.Jakob noem die plek waar hy gestoei het Pniël, want ek het God van aangesig tot aangesig gesien. Almal van ons moet op een of ander stadium God van aangesig tot aangesig sien en as dit gebeur, verander God ons.

 

God verlang die beste vir ons en Hy sal alles in sy vermoë doen om dit te bewerkstellig- Hy wil nie hê dat ons ons lewens moet mors nie. God wil en kan ons lewens verander – maar op sy manier.

 

 

 

image_pdfimage_print