Kan ek kwaad wees en nie sondig nie?

image_pdfimage_print

 

In prayer it is better to have a heart without words, than words without a heart. —John Bunyan

 

Kan ek kwaad wees en nie sondig nie?

As julle kwaad word, moenie sondig nie (Efesiërs 4:26)

Is dit moontlik? Paulus haal hier moontlik Psalm 4:5 aan: As julle ontsteld raak, moenie sondig nie.

 

Wat is geregverdigde kwaad word? Dit is om kwaad te wees vir dinge wat God kwaad maak. God is basies regverdig. God se kwaad wees, is ‘n neweproduk van sy geregtigheid. God se geregtigheid is dat Hy altyd reg is; God is die definisie en standaard van goedheid; wat God sê en doen is goed. Wat God kwaad maak, is as ons verkeerd maak wat Hy reg gemaak het – God noem dit boosheid. Boosheid verdraai God se heerlikheid – dit onteer dit wat heilig is; dit verwring die werklikheid; dit vernietig wat waardevol is.  God se geregtigheid vereis dat Hy kwaad word hieroor en diegene wat sulke boosheid doen, straf. Regverdige kwaad wees, is as ons kwaad is oor boosheid wat God se heiligheid en goedheid aantas.

 

Wat is sondige kwaad wees? ‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie (Jakobus 1:20). Hoekom? Want die mens se kwaad wees het meer met mense as met God te doen. Ons word kwaad as ons trots aangetas word. Ons is dikwels selfgeregtig – soos die ouer broer van die verlore seun. Ons is soms selfsugtig kwaad – soos Jona oor ‘n plant wat doodgaan terwyl hy die welstand van 120000 mense ignoreer (Jona 4:9 – 11). Kwaad wees wat sy oorsprong in sonde het, lei tot twis, naywer, onbeheerstheid, selfsug, kwaadpratery, nuusdraery, verwaandheid en wanordelikheid (2 Korintiërs 12:20).

 

Sondige kwaad word, is so algemeen dat ons gereeld herinner moet word om woede, haat, nyd en gevloek te laat staan (Kolossense 3:8). In sy bergrede sê Jesus: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank (Matteus 5:22).

 

Goddelike regverdige kwaad wees, word beheer en gerig deur liefde. God is regverdig, maar Hy is ook liefde. En liefde is geduldig. God word nie gou kwaad nie, maar Hy sal diegene wat skuldig is en geen berou het nie, oordeel en straf. Jesus het geweet Hy sal weer kom om te oordeel, maar lank voor dit het Hy verlossing gebring. Jesus se kinders is ook geduldig met sondaars: Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19). Jesus het die tafels in die tempel omgekeer, maat Hy het ook oor Jerusalem gehuil.

 

Hoe lyk regverdige kwaad wees vir die Christen?

  • Regverdige kwaad wees word opgewek deur dinge wat God se heiligheid en goedheid aantas. Ons gee meer om oor God se reputasie as ons eie.
  • Reverdige kwaad wees, sien eerste die balk in ons eie oë (Matteus 7:5).
  • Regverdige kwaad wees is hartseer en nie net kwaad oor boosheid nie. Kwaad wees sonder trane oor die bose, is ‘n bewys van ‘n gebrek aan liefde.
  • Regverdige kwaad wees, word deur God se liefde beheer. Daarom word ons nie vinnig kwaad nie – ons probeer eers liefdesdade. Ons wil hê dat barmhartigheid oor oordeel moet seëvier.
  • Regverdige kwaad wees tree vinnig op as dit nodig is. Hier dink ons aan gevalle van kindermishandeling, ekonomiese ongeregtighede, vervolging, owerspel, ens.

 

Ons sal nooit regverdige kwaad wees volmaak in hierdie lewe regkry nie, maar ons kan groei daarin. Dit is wat God van ons verwag. God sê ons moenie kwaad word en sondig nie. Dit is een van sy opdragte. Ons moet dit onderhou.

 

image_pdfimage_print