Laat sy Liefde jou Lei: Christus – Die Vredemaker

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Christus – Die Vredemaker – Milanie Vosloo

Christus – die Vredemaker

As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Romeine 5:1

Broers en susters kan góéd baklei! Vele pa’s of ma’s moes al as vredemakers tussen beide tree wanneer die hare tussen die twee partye begin waai.

Met ons Jesus-broer is dit so anders. Hy is die Een wat in sy hele wese vrede ís en daarom alles doen om ons in daardie vrede te laat deel. Wanneer ons Vader alle rede het om vir ons woedend te wees, tree Hy na vore en pleit dan namens ons vir vergifnis. Wanneer ons van Hom af wegloop, gaan soek Hy ons totdat Hy ons kry en weer huis toe kan bring. In hartseertye sit Hy sy Ouboet-arm met groot teerheid om ons skouers en wanneer ons raad nodig het, staan Hy in sy wysheid gereed om dit uit te deel. Hierdie vredemakersrol voer Jesus daagliks uit sonder dat ons dit enigsins verdien. Soos Paulus in sy brief aan die Romeinse Christene skryf:

Deur Jesus Christus het ons op grond van die geloof toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee. Romeine 5:1-2

Hoe groot is ons Here! Hoe groot en omvattend is sy liefde en hoe omvangryk sy genade-goedheid.

Dankie Jesus, dat U die groot Vredemaker van hierdie wêreld is. Dankie dat U mý Vredesbroer is.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...