Laat sy liefde jou lei: Hoor jy reg?

image_pdfimage_print

Laat sy liefde jou lei: Hoor jy reg? – Milanie Vosloo

Abraham het 175 jaar oud geword. Hy het in ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf … Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseёn … Genesis 25:7, 13a *

 

Wonder jy soms of jy God reg hoor en twyfel jy met tye aan die sinvolheid van dit wat Hy van jou verwag? Staan dan vandag ’n oomblik stil by die Abraham-verhaal.

God het Abraham male sonder tal met die feitlik onmoontlike getoets. Eers beveel hy hom om – sonder dat hy weet waarheen hy gaan – uit sy land van herkoms te trek. Kort hierna belowe God hom dat hy die voorvader van ’n groot nasie sal word … maar dan kan sy vrou nie swanger raak nie. Abraham moet tot op 100-jarige leeftyd vir sy seun, Isak, wag. En toe … vra God dat Abraham hierdie selfde seun op ’n brandstapel moet gaan offer!

 

Abraham het rede gehad om telkens te wonder: ”Hoor ek reg?” en dan gerieflikheidshalwe ’n ander koers in te slaan. Maar hierdie man van God kies ánders. Hy maak die keuse om God te gehoorsaam ongeag die vreemdheid van sy beloftes en opdragte. En die uiteinde daarvan is dat die Here hom in alle fasette van sy lewe onmeetlik seёn en elke belofte in oorvloed nakom.

 

Wanneer jy oortuig daarvan is dat God met jou praat, wees dan gehoorsaam. Bly getrou en volg sy stem onvoorwaardelik. Jy sal die seёn van jou gehoorsaamheid in oormaat ervaar.

 

Here, help my om U rég te hoor en dan rég te doen asseblief!

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 

image_pdfimage_print

You may also like...