Laat sy Liefde jou Lei: soms is die wind uit jou seile

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: soms is die wind uit jou seile – Milanie Vosloo

Soms is die wind uit jou seile!

Hy het op sy knieё neergesak en hard uitgeroep: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Handelinge 7:60a

Het jy al gevoel asof iemand die wind uit jou seile neem?

Jy het nog ewe rustig op die see van die lewe gevaar, toe jy uit die bloute deur ‘n rukwind van aanvalle onkant gevang word en jy heeltemal van koers af gedwing word. Dis dan wanneer jy sprakeloos wonder hoe dit moontlik is dat mense mekaar so verkeerd kan hanteer. Meer as dit maak sulke ongevraagde optredes nogal vrek seer. Dis asof dit sommer sulke repe uit jou hart skeur.

 

Die vraag is dan: Wat nou? Kap jy terug, val jy aan, retireer jy of hanteer jy dit in stilswye. ‘n Klinklare antwoord is daar nie, want elke situasie en mens is immers uniek. Wat wél belangrik is om die Gees te vra om onmiddellik goddelike beheer oor die situasie te neem. Bid dat Hy aan jou die selfbeheersing sal gee om vir ‘n oomblik terug te staan, werklik te luister en te probéér verstaan. Vra dat Hy jou sal help om as’t ware in daardie mens se skoene te klim en met begrip na sy/haar situasie te kyk. Bid dan veral dat jy die wysheid sal hê om te weet hoe jy moet reageer.

 

Dis nooit maklik om moeilike mense en situasies te hanteer nie. Deur die Gees is dit egter wel moontlik om ook dán die liefde te laat seёvier.

 

Bly vandag in beheer van my emosies sodat ek sal wéét wat om te doen, Vader.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 

 

 

 


 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 

image_pdfimage_print

You may also like...