Leef uit jou Doop: 3.7 Kom ons kyk terug

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: 3.7 Kom ons kyk terug – Adrio König

3.7 Kom ons kyk terug

Ons sou nog die verband tussen die doop en die etiek (ons nuwe lewe) kon ondersoek, maar ons het so duidelik aandag daaraan gegee toe ons na Romeine 6 en veral Kolossense 2-4 gekyk het, dat ons maar net weer na daardie behandelings kan gaan kyk. In Kolossense bou Paulus ons hele nuwe lewe op ons doop, of liewer op ons vereniging met Christus wat God deur die doop (en die geloof) aan ons gee.

 

Dit geld nie net dele soos Kolossense waar die doop spesifiek genoem word nie. Ons het vroeër al daarop gelet dat dit soms net die geloof is wat genoem word, maar dat die doop dan veronderstel word. Dink maar net aan Efesiërs 2:4-7 waar die doop ongetwyfeld veronderstel word. Daarop is dan weer ons hele lewe gebou (2:8 tot die einde). En ook Galasiërs 2:19-20 waar ook net die geloof genoem word, maar waar ons kruisiging en opstanding saam met Christus duidelik die doop veronderstel (Rom 6; Kol 2). Dit is duidelik dat Paulus se hele argument dat ons net op Christus kan vertrou vir ons redding, ook op die doop gebou is. Omdat God ons deur die doop met Hom verenig het, hoef ons nie naas Hom ander hulp te soek nie.

 

As ons nou terugkyk na die betekenisse van die doop (hoofstuk 2) en die verskillende verbande waarin die doop voorkom (hoofstuk 3), is dit duidelik dat dit nie losstaande sake is wat geen verband met mekaar het nie. Dit is dinge wat op ’n merkwaardige manier onderling aan mekaar verbind is. Kom ons kyk eers na die verbande. Hulle vorm saam ’n geïntegreerde eenheid.

♦   Tussen die werk van Christus en die doop, die geloof en die woord is daar direkte verband.

♦   Tussen die doop en aspekte uit die Ou Testament soos die versoeningsoffers en die besnydenis is daar verbande.

♦   Tussen die doop, die woord en die geloof aan die een kant, en ons nuwe lewe aan die ander kant, is daar sterk verband.

♦   Tussen ons verbondenheid aan Christus en ons nuwe lewe is daar die allernouste verband. Hy is ons nuwe lewe!

 

Kom ons kyk ook na die betekenisse van die doop: vereniging met Christus, inlywing in sy liggaam, die gemeente, inlywing in die verbond, vergifnis en reiniging van sonde, ontvangs van die Gees en die nuwe lewe, afkondiging van die gesag van God oor ons lewe.

 

Dit is eenvoudig aspekte van een groot saak: hoe ons aan die heil deel kry. Dis interessant om van hier af nou na die Bybel as ’n geheel te kyk. Ek het onlangs ’n boek gepubliseer: Alle paaielei na Jesus (CUM, 2010). Die subtitel is: Hoe die groot temas van die Bybel op Jesus uitloop. Hier het dieselfde verskynsel na vore gekom. Die Bybel is nie ’n klomp loshangende, onsamehangende sake nie, maar die groot en belangrike sake is op merkwaardige maniere onderling aan mekaar verbind. Dit is nie waar dat ’n mens maar net alles as los eenhede bymekaar moet tel nie. Daar is samehang en geïntegreerdheid in die Bybel. Dis merkwaardig omdat die boeke oor eeue geleidelik ontstaan het, en daar nie iemand was wat aan die begin alles eers mooi beplan en in gedeel het nie. Mense het in totaal verskillende situasies geroepe gevoel om in die Naam van die Here te getuig van wat hulle ervaar het.

Maar omdat alles met dieselfde Bron verband gehou het, staan die groot temas van die Bybel onderling in bepaalde verbande, en loop op Jesus uit.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 


 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...