Luister die gemeente?

image_pdfimage_print

You may know God, but not comprehend him. —Richard Baxter

 

Luister die gemeente?

Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie (Openbaring 3:2).

Erwin Lutzer sê dat hierdie woorde van Jesus Christus die opdrag vir vandag se kerk is. Hier het ons opdragte gerig aan ons in ons kultuur.

‘n Tragedie wag op ons as ons nie luister nie.

 

Jesus begin sy boodskap aan die gemeente in Sardis met hierdie diagnose: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Die gemeenskap het hierdie gemeente hoog aangeslaan, maar Jesus plaas sy stetoskoop op die gemeente se hart … en Hy hoor geen hartklop nie. Die goeie werke van die gemeente steek die tekens van die dood weg. Sardis het ‘n reputasie, maar geen lewe nie.

 

Vandag evalueer ons gemeentes op grond van hulle getalle, hulle begrotings of al die verskillende bedienings wat mense in staat stel om te aanbid en te dien. Maar die gemeente se impak op die morele en geestelike agteruitgang van ons hedendaagse kultuur is skaars waarneembaar. Dit is tragies dat party gemeentes moet sluit as gevolg van verdeeldheid, gebrek aan fondse of ‘n gebrek aan belangstelling. God se reputasie in ons samelewing word hierdeur afgetakel. Dit is iets om oor te huil.

 

Maar alles is nie verlore nie. Alhoewel die gemeente in Sardis dood was, wys Jesus dat daar tog tekens van lewe is: Maar julle het darem ‘n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie. As Jesus nie deur die totale gemeente kan werk om die lewe in die gemeente te herstel nie, kan Hy deur ‘n klein groepie wat geweier het om kompromieë met die kultuur aan te gaan, werk. Hy werk deur diegene wie se harte reg is en wat getrou aan hulle roeping is.

 

Jesus skryf nou ‘n genesing vir die gemeente voor:

  • Word wakker; erken die neerdrukkende werklikheid van julle leweloosheid. Hulle moes begin deur hulle eie swakheid en afname in invloed te ondersoek. Hulle moenie langer met die vals versekering dat hulle lewe, maar in werklikheid dood is, saamleef nie. Eerlikheid is die eerste tree.
  • Versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Diegene wat getrou gebly het, moet diegene wat geestelik lam is, help om weer te lewe. Daar is baie mense en programme in ‘n gemeente wat behoue behoort te bly … as hulle maar net nuwe lewe kon kry. In ons gemeentes vandag is daar baie om ons te bemoedig; daar is nog tekens van lewe, maar dikwels is daar ook die tekens van die dood.
  • Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Baie van ons gemeentes het vergeet van die evangelie. Hulle plaas allerhande plaasvervangers in die plek van die evangelie. Dit is aan die voet van die kruis waar die kerk lewe en asemhaal. Net die evangelie kan lewe in ‘n lyk blaas. Dit is alleenlik as lidmate duidelik die evangelie verkondig en uitleef dat die gemeente gered kan word.
  • Bekeer julle. Draai weg van die sonde; draai na Christus. Hulle moet bid dat hulle Christus weer opnuut sal liefhê en van al hulle afgode afstand doen. Dit sal pynlik, maar noodsaaklik, wees as hulle wil hê dat hulle gemeente weer lewe moet kry.

 

Jesus het geleer dat die kerk in die wêreld maar nie van die wêreld moet wees nie. Dit beteken die kerk is soos ‘n skip in die oseaan. As weet dat as die oseaan in die skip kom, is daar moeilikheid. Vandag moet ons erken dat die kerk lek en water stroom in. Ons kan nie mense uit die water red as ons self besig is om onder te gaan nie.

 

Wat sê God vir die kerk vandag? Ons, soos baie gelowiges in Sardis, het ons klere besoedel deur morele kompromieë aan te gaan. Dit verswak ons en weerspreek ons getuienis. Die kerk het hom aan die kultuur uitverkoop. Ons konsentreer op die meer positiewe aspekte van die Christelike leer, maar ignoreer die moeilike sake soos oordeel en hel. Die probleem is dat ons nie meer ons kompromieë en sondes raaksien nie.

 

Wat kan ons doen? Ons moet wat Christus vir die gemeente in Sardis gesê het vir onsself toeeien. Gemeentes moet die stand van hulle geestelikheid in alle nederigheid evalueer. Ons moet toelaat dat Jesus sy stetoskoop op ons harte plaas en vir ons presies sê wat die stand van ons geestelike gesondheid is. Hierna volg belydenis – nie net individueel nie, maar ook die gemeente as geheel. Ons moet die strekpunte wat daar nog is identifiseer. Ons moet voortdurend ons geestelike toestand evalueer.

 

Wat gaan gebeur as ons dit nie doen nie? As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ‘n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle afkom nie. Dit is ‘n waarskuwing aan die gemeente dat Christus die gemeente sal oordeel; Hy sal die gemeente teregwys en dissiplineer. Vandag is daar nie ‘n kerk waar Sardis eens was nie. Dit is ‘n herinnering dat ons nie sommer ons eie toekoms kan aanvaar nie.

 

Maar Jesus maak ook ‘n belofte aan die getroues in Sardis: Hulle sal altyd in wit klere by My wees … Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

 

Jesus sluit sy boodskap aan die gemeente in Sardis af met die woorde: Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees vir die gemeente sê.

 

Luister ons?

 

 

image_pdfimage_print