Mense wat verdeeldheid in die gemeente saai

image_pdfimage_print

When I see Thee as Thou art, I’ll praise Thee as I ought. —John Newton

Mense wat verdeeldheid in die gemeente saai

Mense wat verdeeldheid saai ignoreer twee belangrike waarhede oor Christelike leiers (1 Korintiërs 3:5 – 17). Wat is hierdie twee waarhede?

  • Christelike leiers is dienaars van God – ons moenie aan hulle dieselfde mate van trou bewys as wat ons aan God bewys nie.
  • God gee om vir sy kerk en Hy hou sy leiers verantwoordelik vir hoe hulle sy kerk bou.

Baie belangrik is hoe Paulus hierdie twee waarhede oordra. Hy gebruik twee analogieë (een uit die landbou en een argitektonies) wat hy dan met ‘n kragtige retoriese vraag en gevolgtrekking opvolg.

 

Die analogie uit die landbou (3:5 – 9a)

Paulus het hulle reeds daarop gewys dat hulle verdeeldheid saai deur sekere leiers aan te hang. Hoe moet ons hierdie leiers sien? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Die antwoord is eenvoudig: Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Christenleiers is in die eerste plek net dienaars aan wie die Here sekere take toevertrou het.

Paulus verduidelik die analogie nou verder. Sommige plant, sommige gooi nat, maar dit is God wat laat groei het. Die dienaars het verskillende take, maar die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet. Die een is nie belangriker as die ander nie. God sal elkeen beloon volgens sy werk. Dit is egter belangrik dat ons die groter prentjie verstaan: Ons is medewerkers in diens van God – hulle is mededienaars wat aan God behoort en deur God gebruik word. Die saailand van God is die Korintiërs; die werkers is mense soos Paulus en Apollos en hulle is God se medewerkers; Hy gee aan die werkers hulle take; Hy alleen laat die saad groei.

Die analogie uit die argitektuur (3:9b – 15)

Julle is ook die gebou van God. Nou is die gelowiges God se gebou en die leiers is die bouers. Ons moet onthou dat bouwerk destyds ‘n stadige proses was. Dit het soms dekades geneem om ‘n tempel te voltooi. Daarom mag die een bouer die fondament gelê het en ander bouers ander fases van die projek. Die les is duidelik: Paulus het die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Dit is die hele projek wat belangrik is en dit sou dwaas wees om op net een van die bouers te fokus. Die bouers het ‘n gemeenskaplike doel gedeel.

Daar is twee aspekte waar hierdie analogie van die vorige een verskil:

  • God vervul ‘n ander rol. Hier is niks wat groei nie. Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Die gebou behoort aan God en Hy beoordeel die gehalte van elke bouer se werk.
  • Hier word baie klem gelê op die aanpreeklikheid van die bouers. Sommer vroeg-vroeg waarsku Paulus: Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou. Paulus self het die fondament soos ‘n goeie bouer gelê. Hy waarsku ook dat niemand ‘n ander fondament kan lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.  Al is die fondament Jesus Christus is daar steeds die gevaar van slegte vakmanskap en minderwaardige materiaal later. Bouers mag goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi gebruik. Die materiaal wat gebruik word, is nie vir Paulus belangrik nie. Hy ken net twee soorte boumateriaal: die wat die toets van die vuur weerstaan en dié wat dit nie kan weerstaan nie. Die vuur skei die goeie van die slegte. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word.

 Uit hierdie analogie is dit duidelik dat God vir sy kerk omgee en dat hy die leiers verantwoordelik hou.

Paulus se retoriese vraag en sy ontstellende gevolgtrekking (3:16 – 17)

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? Die gebou word nou God se tempel. Hier verwys God se tempel na die kerk. Dit is die tempel waaraan al die bouers gewerk het. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle. Hierdie waarskuwing word gerig teen bouers wat minderwaardige werk gedoen het – werk wat nie die vuur kan weerstaan op die dag wat Christus weer kom nie. Maar die waarskuwing geld ook vir ander: as iemand die tempel van God beskadig.

Daar is baie maniere om die kerk te beskadig: verdeeldheid, dwaalleer, as ons ons oë van die kruis afwend, skinder, bitterheid, Bybelse ongeletterdheid, selfbevordering, materialisme, ens. Hierdie waarhede het die persone verantwoordelik vir die verdeeldheid in Korinte geïgnoreer. Hierdie waarhede word vandag steeds geïgnoreer. Dit is tyd vir selfondersoek.

image_pdfimage_print

You may also like...