My identiteit (1)

image_pdfimage_print

 

Most of us go through life worrying people will think too little of us. Paul worried people would think too much of him. —D.A. Carson

 

My identiteit (1)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Ons het reeds na dinge soos betekenis, tevredenheid en vryheid gekyk waarsonder die mens nie kan lewe nie. Ons kom nou by nog so ‘n item: identiteit. Dit is die antwoord op die vraag: Wie is ek? Wat is jou identiteit? Dit bestaan uit ten minste twee dinge:

  • ‘n Sin van jouself. Jy is lid van ‘n familie, ‘n vriend, ‘n kollega by die werk, ens. Om ‘n identiteit te hê is om iets te hé wat waar is van jouself op elke terrein. Wat van jou verander nie van plek tot plek nie?
  • ‘n Sin van waarde – ‘n bepaling van jou eie waarde. Selfkennis is een ding, maar selfagting is iets anders. Dit is een ding om te weet hoe jy is; dit is ‘n ander ding om dit te waardeer. Wat omtrent jouself laat jou voel jou lewe is sinvol en die moeite werd.

 

Identiteitsvorming is ‘n proses wat elke kultuur op sy lede afdruk – kragtig maar tog onsigbaar. In die moderne kultuur word aanvaar dat elke persoon ‘n kern van gevoelens en intuïsie het wat uitgedruk moet word. Die moderne samelewing glo dat ons onsself kan ontwikkel net deur na binne te kyk – ons moet ons eie keuses maak en self bepaal wie ons is. Jy moet jouself bevestig, want jy doen wat jy graag wil doen. Wees wie jy wil wees en dit maak nie saak wat ander mense dink nie.

 

In tradisionele kulture is die narratief selfopoffering – jou selfwaarde word bepaal deur die gemeenskap waarin jy sekere verantwoordelikhede het. In die moderne kultuur is die narratief selfgelding – jy is jou drome en begeertes. Ons moet ons van die gemeenskap losmaak om ons identiteit te ontdek. Die bron met wie ons moet verbind, is nou binne in onsself.

 

Maar identiteitsvorming in die moderne kultuur is nie sonder sy probleme nie. Daarna gaan ons in die volgende blog kyk.

 

 

image_pdfimage_print