Nuwe wyn vir ou wyn

image_pdfimage_print

 

God sweetens outward pain with inward peace. —Thomas Watson

Nuwe wyn vir ou wyn

‘n Baie interessante gedeelte is Johannes 2:1 – 4:46. Dit begin en eindig in Kana. Daar loop ‘n goue draad deur hierdie gedeelte: Jesus vervul en vervang die ou orde van Moses met iets nuut.

 

  • Nuwe wyn. Jesus is die gas by ‘n bruilof in Kana. Daar vervang Hy die water wat vir seremoniële reiniging gebruik word met nuwe wyn. Wat doen Hy? Hy wys daarop dat die voorsiening in die ou orde onvoldoende is. Die offersisteem kon nie die vreugde bring wat dit veronderstel was om te bring nie. Die ou water gee seremoniële vergifnis oor die kort termyn. Wat Jesus in die evangelie gee is ewigdurend.
  • ‘n Nuwe tempel. Jesus reinig die tempel. Die mense wil weet met watter gesag hy hierdie dinge doen. Profeties verwys Jesus dan na sy eie dood en opstanding. Hy doen dit deur te verwys na die afbreek en opbou van die tempel. Vir die Jode was die tempel die belangrikste gebou op aarde; vir Jesus was dit slegs ‘n skadu. Christus self is die nuwe tempel.
  • Nuwe geboorte. Nikodemus kom een nag na Jesus toe. Hy was  ‘n bekende leermeester in Israel, maar hy verstaan nie die openbaring van God in die Skrif nie. Al sy geleerdheid help hom niks nie. Al wat sal help is ‘n nuwe geboorte: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Jesus gee hierdie nuwe geboorte.
  • Nuwe water. Jesus praat met die Samaritaanse vrou. Jesus praat van lewende water. Die vrou verstaan dit nie en sê: Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het nie. Dit is die hele punt: Jesus is groter as Jakob. Aan die voorvaders is die beloftes gegee; Jesus was die vervulling van die beloftes. Jakob se water les die vrou se dors slegs tydelik. Jesus gee water wat sal maak dat sy nooit weer dors sal kry nie.
  • Nuwe lewe. ‘n Regeringsamptenaar kom na Jesus. Sy seun lê op sterwe. Sy saak was hopeloos. Die wet van Moses kon nie sy seun weer lewend maak nie. Wat hier nodig was, was nuwe lewe … en Jesus gee dit.

Wat leer ons uit hierdie insidente? Ons kry ‘n leidraad in 2:11: Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. Johannes het reeds hierdie beginsel in 1:17 verduidelik: God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Ons moet toelaat dat Jesus Christus ons heeltemal vernuwe.

 

image_pdfimage_print