Ontnugtering slaan jou wanneer jy dit nie verwag nie.

image_pdfimage_print

The church lives from something toward something that is greater than the church itself –  Miroslav Volf

Ontnugtering slaan jou wanneer jy dit nie verwag nie.

In tye wat rustig is, kom ‘n ongemaklike vraag soms na vore: Is dit regtig my lewe? Ontnugtering kom nie net as dinge nie volgens ons beplanning verloop nie. Ontnugtering is diep teleurstelling in iets of iemand wat slegter verloop het as wat ek verwag het.

Madeline L’engle het by geleentheid gesê: “pain is an angel that tells us something is wrong.” Ontnugtering klink nie na ‘n engel nie, maar tog laat dit ‘n alarm in ons afgaan. Dit is nie noodwendig sleg nie – dit mag ‘n geleentheid wees om weer te fokus en ‘n nuwe perspektief te kry.

 

 

Hier is drie vrae om te vra in tye van ontnugtering:

  • Wat het jy verwag?

Mense met ‘n toekomsvisie is kreatief en inspireer ander. Hulle sien hoe hulle lewens kan lyk en hulle jaag dit na. Die probleem is dikwels dat mense met hoë verwagtings en ideale dikwels voor die werklikheid te staan kom dat die wêreld nie noodwendig is soos hulle hulle dit voorgestel het nie. Ons het verwag dat ons pad makliker sou wees. Ons toekomsdrome vergeet soms van die harde werk en moegheid wat voorlê. Ons ideale is dikwels selfsugtiger as wat ons dink.

 

  • Waar is jou geloof?

Miskien ‘n beter vraag: In wie/wat glo jy? Die skrywer van die Hebreërbrief sê: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (11:1). Die skrywer sê dat die dinge wat ons moet glo onsigbare dinge is. Hierdie is ‘n beweging weg van ons selfgesentreerde ideale. God maak dit duidelik dat om in enigiets anders as in Homself te glo, van geen waarde is nie. Wat glo jy sal jou gelukkig maak? Wie glo jy sal vir jou vrede bring? Die logiese volgende vraag is:

 

  • Wie vertrou jy?

Ontnugtering word nie net deur jou omstandighede bepaal nie. Dit gaan ook oor jou hoop en jou geloof. Dit gaan daaroor om eerlik met jouself en met God te wees as die lewe jou verras – soms op maniere waarvan jy niks hou nie. Dan moet jy jouself afvra: Is jy bereid om Jesus Christus te volg al raak die lewe moeilik?

Ontnugtering lê vir ons almal voor. Vra hierdie drie vrae en antwoord hulle eerlik.

image_pdfimage_print