Psalm 31 (6)

image_pdfimage_print

 

He that will play with Satan’s bait will quickly be taken with Satan’s hook. —Thomas Brooks

 

Psalm 31 (6)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

31:22 – 25:

Hier kry ons weer ‘n oorgang in die psalm – die Here het op die psalmis se pleidooie gereageer. Uiteindelik nooi dit ander mense uit om in die psalmis se oortuiging te deel. Sy doel met die samevoeging van klaag- en loflied is om te wys dat sy vertroue op die Here nie tevergeefs was nie. God hoor die klaaglied van ‘n gelowige en Hy doen iets daaraan.

 

22Die Here moet geprys word, want in ‘n beleërde stad het Hy sy troue liefde wonderbaarlik aan my bewys.

Die psalmis het die Here se antwoord gesien. Tot dusver het hy nog net daarvan gehoor. Die psalmis het tot dusver in die psalm deur moeilike werklikhede gekom, maar daar is ook redes vir vertroue. Wonders is gewoonlik God se groot optrede vir sy mense Dit was asof die psalmis ‘n beleërde stad wat op die punt was om ingeneem te word, gesien het, maar wonderbaarlik het die Here hom gered.

 

23Maar ek, ek het in my angstigheid gedink ek is afgesny, weg uit u gesigsveld. Nogtans het U my smeekgebed gehoor, toe ek na U om hulp geroep het.

Eerstens is daar die gevoel dat hy verlore is – hy is afgesny van die Here se hand of optrede. Hier voel hy ook asof hy buite die Here se gesigsveld is. God sien hom nie meer nie. Nogtans is die werklikheid anders as wat ander mense gedink het. Toe hy gebid en om hulp geroep het, het God gehoor. Dit is die vreugdevolle besef aan die einde van ‘n gebed.

 

24Julle moet die Here liefhê, almal wat aan Hom getrou is. Die Here hou betroubares veilig, maar vergeld, tot die uiterste, dié wat hoogmoedig optree.

Hy dank nou die Here sodat ander mense dit kan hoor. Hy praat met almal wat aan die Here getrou is. Hy begin met ‘n uitdaging oor hulle houding teenoor die Here. Die psalmis se ondervinding dien as getuienis om mense aan te moedig om op die Here lief te hê en te vertrou. Die Here wat betroubares veilig hou is die basis vir hulle liefde en vertroue.

 

25Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig.

Hier kry ons ‘n ander soort oproep. Dit gaan oor mense se verhouding met die lewe eerder as met God. Dit praat van ‘n ander gesindheid tot die lewe op grond van ons verhouding met die Here. Hy praat hier met die mense wat hulle hoop op die Here vestig. Die psalm getuig van die verlede waar met afwagting gewag word dat die Here sal hoor en verdere wag in afwagting om God se reaksie te sien. Die sleutel tot krag en moed is om op die Here te wag. Die wag op die Here impliseer dat jy seker is dat Hy gaan optree.

 

image_pdfimage_print