Sielsbande – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

JAN VRA

Daar word die afgelope tyd baie gemaak van sogenaamde “soul ties” (dalk “sielsbande” in Afrikaans?). Die bewering is dat ’n mens positiewe of negatiewe sielsbande met ’n ander persoon kan hê en dat sielsbande dus ’n positiewe of negatiewe uitwerking op ’n persoon se lewe kan hê. Daar is dan ook ’n meegaande teorie ontwerp vir die verbreking van hierdie bande. Natuurlik is modellering ’n werklikheid en ons blootstelling aan ander beïnvloed ons besluite, maar is daar enige waarheid in hierdie lering?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die feit dat ons vraagsteller die vraag oor sielsbande aan Bybelkennis se webblad rig, veronderstel ’n antwoord vanuit die Bybel. Want dis waaroor hierdie webblad gaan. Maar dis nie so maklik om oor iets soos “sielsbande” ’n antwoord te gee nie, gewoon omdat dit nie in die Bybel voorkom nie, altans nie op ’n direkte manier nie. Daar is nie tekste wat direk hieroor handel nie. Trouens, dis die probleem met enige eietydse sosiaal-etiese aangeleentheid waarvoor ons antwoorde in die Bybel – die oorsprongsdokument van ons Christelike geloof – probeer vind. Of dit nou gaan oor genadedood, geassisteerde selfdood, surrogaat-moederskap, embrionale inplantings, selfdegeslagverhoudings, of aardverwarming – alles brandende eietydse kwessies – die probleem bly dieselfde: Hoe vind ons antwoorde hiervoor in die Bybel? Want as Christengelowiges wil ons graag vanuit ons basiese geloofsoortuigings, wat in die Bybel verwoord word, ons daaglikse lewe voer en eietydse uitdagings die hoof bied.

Ons kan egter na analogie van hoe in Bybelse tye vanuit ’n geloofsperspektief in bepaalde gevalle opgetree of ’n saak beoordeel is, ’n eietydse kwessie benader. Met inagneming van die historiese afstand tussen ons tyd en dié van die Bybel, kan ons dan tog breedweg by sinvolle antwoorde uitkom.

Kom ons pas bogenoemde benadering toe op die kwessie van sielsbande. Sielsbande verwys blykbaar na ’n situasie waar daar ’n besondere siels- of emosionele band tussen twee mense ontwikkel wat maak dat hulle vir alle praktiese doeleindes onafskeidelik word. Die een kan nie sonder die ander nie. Hulle verkeer volkome op dieselfde golflengte en gaan so op in mekaar se bestaan dat hulle nie sonder mekaar kan of wil leef of belangrike besluite neem nie. Hulle is een van gees, siel en dikwels ook liggaam, bedoelende: dikwels groei so ’n sielsband uit ’n intieme seksuele verhouding, sonder dat die twee noodwendig getroud is. So ’n verhouding kan uiteraard ook tussen mense van dieselfde geslag bestaan. Soms gebeur dit dat een van die partye die leidende rol in die verhouding neem en dan so ’n groot invloed op die ander party uitoefen dat laasgenoemde totaal onder eersgenoemde se invloed is; ’n totale afhanklikheidsverhouding kom so tot stand. Maar dit kan ook wees dat hulle gelyke vennote in die verhouding is. Verder moet ook vermeld word dat sielsbande soms vanuit die New Age-filosofie beoordeel word, met ander woorde, dit word so gesien dat mense deel is van ’n groter werklikheid waar alles met alles op ’n kousale manier verbind is. Jou karma, of bestemming in die lewe, word deur allerlei onsigbare kosmiese kragte bepaal, wat onder andere meebring dat mense vanuit dieperliggende kragte tot mekaar aangetrokke voel en met sielsbande aan mekaar verbind word. Hieraan, volgens dié siening, kan jy niks doen nie; jy word eintlik ’n soort gevangene van jou karma. As jy so aan iemand anders verbind is, is dit jou lot in die lewe; jy moet dit aanvaar en nie daarvan probeer loskom nie.

Hoe beoordeel ons sielsbande, soos bo omskryf, vanuit ’n Bybels-Christelike perspektief? Daar kan inderdaad positiewe momente in sielsbande wees. Verhoudings kan tussen individue ontstaan waar daar enersyds gesonde afstand is maar andersyds wedersydse positiewe invloed op mekaar uitgeoefen word. In hierdie verband word dikwels na die verhouding tussen Dawid en Jonatan verwys. Hulle het ’n lang geskiedenis van hegte vriendskap gehad, waar Jonatan – ten spyte van sy pa, koning Saul, se haat-liefde verhouding met Dawid – van die begin af besonder geheg geraak het aan Dawid (vgl 1 Samuel 19:1) en voortdurend vir hom voorspraak gedoen het by en beskerm het teen Saul. En toe Jonatan, na ’n lang en tragiese geskiedenis, uiteindelik sterf, het Dawid oor hom gerou met die woorde: “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou” (2 Samuel 1:26).

En so kan mens baie ander verhoudings in die Bybel ook oor dieselfde boeg gooi – mense wat in innige en langdurige verhoudings betrokke was en mekaar grondig positief beïnvloed het. Dink aan Naomi en Rut, waar Rut haar eie mense verlaat en agter haar skoonma, Naomi, aan trek en ’n vreemde land as haar eie aanvaar, met die woorde: “… waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei” (Rut 1:16-17). En baie eeue later, Paulus en Timoteus. Laasgenoemde was Paulus se medewerker in die verkondiging van die evangelie en Paulus het aan hom belangrike werksaamhede toevertrou. So heg was die verhouding dat Paulus vir Timoteus “sy geliefde en getroue seun” noem (1 Korintiërs 4:17). Daar is selfs twee briewe in die Nuwe Testament wat Paulus aan Timoteus rig om raad te gee, en waar hy weer eens van Timoteus praat as sy “eie kind in die geloof” (1 Timoteus 1:2) en as “my geliefde seun” (2 Timoteus 1:2).

Hegte verhoudings tussen individue is dus niks vreemds in die Bybel nie; dit word ook nie negatief beoordeel nie. Trouens, hoekom sóú mens, want dit is tipies wat tussen mense gebeur – daar ontstaan hegte bande wat mens inderdaad “sielsbande” sou kon noem. Die rooi ligte begin egter flikker wanneer sielsbande toksies raak. En hiervan is daar ook baie voorbeelde in die Bybel. Dink aan Simson wat so onder die betowering van Delila was dat hy haar net nie kon uitlos nie, ten spyte daarvan dat sy met Simson se vyande – die Filistyne – saamgewerk het om sy ondergang te bewerk (vgl Rigters 16 [veral v15-16]). En dan is daar koning Agab wat so onder die demoniese invloed van sy vrou, Isebel, was dat hy geval het vir al haar bose planne (1 Konings 21:1-16). Hierdie is maar twee voorbeelde van mense wat ten nouste aan mekaar verbind was, maar mekaar oor en weer nadelig beïnvloed het. Wat ons weer by negatiewe of toksiese sielsbande bring. In sulke gevalle word een party gewoonlik as ’t ware deur die ander gevange neem en ’n persoonlike slaaf van gemaak. Of hulle word beide mekaar se slawe. Die benadeeldes in die verhouding voel hulle egter so afhanklik van die ander dat hulle nie kans sien om die verhouding te verbreek nie. Veral as daar ’n New Age-element bykom waar mense voel dat hulle deur kosmiese kragte na mekaar toe gelei is en vir tyd en ewigheid aan mekaar verbind is, en dat daar iets vreeslik met hulle sal gebeur as die verhouding verbreek word, word dit ’n bose kringloop. In so ’n geval moet mens ’n helder evangeliese woord van bevryding spreek, waar veral twee Bybelse motiewe belangrik is.

Die eerste is dat elke mens vir sy/haar eie lewe – én sonde – verantwoordelik is. Jy kan nie die ander beskuldig dat dié jou verlei het tot sonde of verknegting nie. Esegiël 18 is hier belangrik. Die Israeliete het tydens en ná die ballingskap gesê dat dit hulle vaders se skuld is dat hulle in die verknorsing sit, en daarom is hulle – die huidige geslag – te verskoon. Hulle het die spreekwoord gebruik: Die vaders het groen druiwe geëet en nou is ons tande stomp (Esegiël 18:2). Maar dan wys die profeet hulle daarop dat elkeen volgens sy eie sonde beoordeel word (18:30). Dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om tot bekering te kom en die sonde agter te laat; dan vergewe die Here. Moet dus nie ’n toksiese verhouding gelate aanvaar nie. Moenie sê nie: dit is nou maar my karma; ek is deur kosmiese kragte hierheen gelei, ek kan niks daaraan doen nie. Al is dit moeilik om uit te breek, is dit noodsaaklik ter wille van herstel en genesing. Elke mens maak sy eie keuses en word op eie meriete deur God beoordeel. Dit is ’n duidelike Bybelse motief (vgl Romeine 2:6; 14:12; 2 Korintiërs 5:10; Galasiërs 6:5).

Bogenoemde insig hang saam met ’n tweede motief – ’n mens het weliswaar die vryheid om by allerlei dinge betrokke te raak, maar jy mag jou deur niks laat verkneg en oorheers nie (1 Korintiërs 6:12-20). As jy vasgevang is ’n verhouding van sielsbande wat jou verkneg, verneder en sonde laat doen, het jy die reg, verantwoordelikheid en roeping om met die Here se genade daarmee te breek en in die vryheid van die kinders van God te leef. Want, die verhouding met die lewende Here lê ’n verpligting op ons, nie om volgens ons sondige natuur te lewe nie, maar deur die Gees ’n einde te maak aan die sondige praktyke (Romeine 8:12-13). En dit geld ook toksiese verhoudings. Spreuke 22:24 is ook hier van toepassing: “Moenie maats maak met ’n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar.” Enige soort toksiese verhouding waarin jy ten nouste betrokke raak – of dit nou willens en wetens, toevallig, of deur kortsigtigheid was – het die effek dat ’n mens kort voor lank in lewensgevaar verkeer. En daaruit moet jy breek; moet jou nie daardeur laat verkneg tot sonde nie. Dit is ’n Bybelse opdrag.

Om saam te vat: Bostaande oorsig is ’n aanduiding van die kompleksiteit van verhoudings, hoe ons kan baat by hegte verhoudings, maar ook daarin vasgevang raak, tot ons nadeel, en dan die roeping het om vry te raak van sulke verhoudings. Indien hierdie oorsig enigsins ’n aanduiding is van hoe die verskynsel van sogenaamde sielsbande verstaan en hanteer kan word – en ek dink dit bevat wel algemene riglyne – hoop ek dat die vraagsteller by die antwoord sal baat.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...