Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (7)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (7) – Adrio König

2.4 Kolossense 2:16

Tog is daar Christene wat oortuig is dat ons Kolossense 2:16 verkeerd verstaan. Hulle meen dit gaan daarin nie om die gewone weeklikse Sabbat nie. Daar word onder andere twee argumente aangebied.

  • Dit gaan hier oor ander feesdae as die gewone Sabbat. Daar sou ook ander feesdae wees wat “Sabbat” genoem was.
  • Die Griekse woord vir “Sabbat” is hier in die meervoud. Dit sou bevestig dis nie die gewone Sabbat waarna Paulus verwys nie.

 Kom ons kyk eers na die meervoud. Die vorm van die Griekse woord lyk na ‘n meervoud. Maar dit is presies dieselfde woord wat in die Ou Testament (in die Septuagint) gebruik word vir die weeklikse Sabbat. Daar is twee moontlikhede: Dit is óf werklik ‘n meervoud, óf dit is die transkripsie van die Hebreeuse woord in Griekse letters. En dit maak geen saak watter een van die twee korrek is nie. Dit is die woord wat in die Ou Testament vir die weeklikse sabbat gebruik is.

 

En dan die bewering dat “sabbat” hier nie verwys na die weeklikse Sabbat nie, maar na ander feesdae.

 

Dit is inderdaad moontlik dat daar enkele gevalle is waar ‘n ander feesdag as die gewone Sabbat ook “Sabbat” genoem word (Lev 16:31; 23:9, 15, 32). Dit gaan hier onder andere oor die groot versoendag. Maar dit kan nie wees wat Paulus hier onder “Sabbat” bedoel nie. Hy noem dan klaar hierdie feeste onder “die jaarlikse feeste” (“die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbat” Kol 2:16).   

 

Wat egter veel belangriker is, is die feit dat hy die staande uitdrukking hier gebruik wat oor en oor in die Ou Testament vir Israel se totale feeskompleks gebruik word: “Die jaarlikse feeste, die nuwemaanfees, en die Sabbat”. Waar hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word, beteken “Sabbat” altyd die weeklikse Sabbatdag. Dit kan dus nie hier skielik na ‘n ander feesdag verwys nie. Kyk gerus na hierdie uitdrukking in die Ou Testament (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10. Kyk ook na 2 Kon 4:23; Jes 1:13; Eseg 46:1, 3; Amos 8:5; Jes 66:23; Klaagl 2:6). Dit is ook duidelik dat “Sabbat” in hierdie uitdrukking die weeklikse sabbat bedoel (Jes 66:23; Eseg 45:17; Neh 10:33).    

 

‘n Mens kom dus nie maklik weg van die oortuiging dat die Sabbat nie net skynbaar verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene nie, maar selfs dat Paulus die gelowiges heeltemal vry wou maak daarvan.

 

Hierdie oortuiging word nog versterk deur sy opmerking in Galasiërs. Onthou die eintlike stryd in Galasiërs gaan oor die wet en die besnydenis. Maar dit raak ook ander gebruike uit die Ou Testament. Die dwaalleraars in Galasië is Fariseërs wat tot bekering gekom het, maar nie van die Ou Testamentiese reste van hulle geloof wou afsien nie. Hulle eis dat die heidene wat Christene word, die wet moet hou, en dan veral besny moet word. Ons kry tekens hiervan meer kere in die Nuwe Testament, oa ook in Handelinge 15:2, 5.

 

Paulus wys nie net hierdie eise skerp af nie – so skerp dat dit nie eintlik skerper kán nie (Gal 5:2-4). Dis ‘n kwessie van alles of niks.

 

Maar dan kom hierdie ander gebruike uit die Ou Testament ook ter sprake. “Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:10-11).

 

Daar is gelowiges wat meen dit gaan hier ook nie oor die weeklikse Sabbat nie, maar oor hierdie (moontlike) ander “Sabbatte”.  Maar dit is om ‘n paar redes nie regtig moontlik nie.

 

Dis duidelik dat Paulus dieselfde bedoel as in Kolossense. Dit is in al sy Briewe net op hierdie twee plekke waar hy die vreemde uitdrukking gebruik: “wettiese godsdienstige reëls” (Gal 4:9; Kol 2:20). En beide kere gaan dit oor dieselfde feeskompleks. In Galasiërs is hy net baie negatiewer. Hy noem dit hier: “die minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”.  Hy skryf dus die hele feeskompleks radikaal af.

 

Verder is die reeks woorde wat hy gebruik duidelik ‘n aanduiding van die totale feeskompleks van die Ou Testament. Hy voeg eintlik by die lys in Kolossense nog een soort fees by. Naas die dagfees (Sabbat), die maandfees (nuwemaansfees), en die feesgeleenthede  (die jaarlikse feeste), voeg hy ook die “jare” by, dit is die Sabbatjaar- en die jubeljaarfees, dus letterlik al die feeste.

 

En sy waarskuwing is baie ernstig. Hy is bang hulle deel nie regtig meer in die genade nie, hulle het nie regtig gelowiges geword nie. Dit is presies ook wat hy oor hulle onderhouding van die wet en die besnydenis geskryf het (5:2-4). Dit beteken tog dis net so gevaarlik om met hierdie feeste aan te hou as om besny te word. 

 

Volgens Paulus moet mense kies:

  • óf Jesus,
  • óf die gebruike van die Ou Testament soos die besnydenis en die Sabbat en die feeste.

 

Ons sal later sien dat die skrywer aan die Hebreërs verder nog die tempel, die priesters, en die offers byvoeg. Dit gaan dus op die ou end oor die hele Ou Testamentiese kultus. Dit was ‘n eenheid.  Daaruit kan ‘n mens nie willekeurig ‘n paar kies en die ander los nie.    

 

Is die Sabbat deel van die tien gebooie? Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print