Twyfel

image_pdfimage_print

You might preach the gospel better, but you can’t preach a better gospel – Spurgeon

 

Twyfel

Daar is ‘n universele tema wat ons almal raak: Wat kan ek glo wat ongetwyfeld waar is? Twyfel is ‘n werklikheid – ook in die lewens van gelowiges. Miskien is hulle onseker van hulle verlossing; miskien is hulle onseker oor die egtheid van die Skrif; miskien twyfel hulle soms of daar werklik ‘n God is. Word hierdie twyfelaars gered? Is die definisie van ‘n Christen nie iemand wat Jesus vertrou nie?

Daar is verskillende soorte twyfel waartussen ons kan onderskei. B. B. Warfield erken dit. Toe hy twyfel bespreek het, sê hy daar is … shades of meaning expressed by our words: perplexity, suspense, distractions, hesitation, questioning, skepticism, shading down into unbelief.” Daar is gelowiges wat soms twyfel.

Kom ons kyk na verskillende twyfelaars.

  1. Die versigtige gelowiges: Tomas

Tomas was ‘n gelowige, maar hy het tog getwyfel. Hy het nie sommer alles aanvaar wat sy vriende gesê het nie. Hy vra dieselfde bewyse wat die ander dissipels reeds gekry het voordat hulle hulle ongelooflike gevolgtrekking dat Jesus uit die dood opgestaan het, gemaak het. Die ander dissipels was ook maar skepties. In Lukas 24:36 – 39 lees ons van Jesus wat aan die dissipels verskyn. Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees. Hy wys hulle sy hande en voete – voel aan My en kyk.

 

Tomas hoor dit en twyfel. Natuurlik moes hy nie getwyfel het nie, want hy het tog die Ou Testamentiese Skrif gehad as ook die voorspelling van Jesus self. Hierdie oorversigtigheid kry ons by baie gelowiges. Hoe moet ons op hierdie mense reageer? Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm (Judas 22). Die kerk moet ‘n veilige plek vir versigtige gelowiges wees – ‘n plek waar hulle van onsekerheid na sekerheid kan groei. Natuurlik was die opstanding van Jesus nie so maklik om te glo nie.

 

  1. Die verwarde gelowige: Johannes die Doper

Johannes die Doper was ‘n gelowige. Hy sterf ‘n marteldood vir sy verkondiging. Jesus verwys na hom as die grootste profeet van alle tye. Het hy ooit getwyfel? By geleentheid stuur hy boodskappers na Jesus om te hoor of Hy inderdaad die Messias was. Hy was verward. Hy sit in die tronk en wag dat Jesus die Romeine op hulle plek moet sit en God se koninkryk inlei. Hy was verward. Al wat nodig was, was dat Jesus vir Johannes aan die voorspellings van Jesus herinner. Dit was genoeg vir Johannes.

 

  1. Die nuuskierige vraesteller: Nikodemus

Nikodemus was nie ‘n dissipel van Jesus toe hy Jesus ontmoet het nie (Johannes 3). Hy besoek Jesus een nag om vrae aan Hom te stel. Anders as die ander Fariseërs probeer hy nie vir Jesus ‘n strik stel nie. Hy was nuuskierig en het probeer om te verstaan. Jesus reageer deur hom te onderrig. In Hoofstuk 7 verdedig Nikodemus vir Jesus teenoor die Fariseërs. By die kruisiging is hy een van die mense wat Jesus se lyk vir die graf voorberei. As ‘n nie-gelowige opregte vrae het oor die Skrif of die Christelike leer – oor hoe kan hierdie dinge waar wees – moet ons nie te skepties wees nie, maar eerder die Skrif aan hom verduidelik. Maar ons moet onderskei tussen ‘n nuuskierige vraesteller en ‘n oortuigde aanvaller.

 

  1. Die oortuigde aanvaller: Paulus

Hierdie groep twyfel ook, maar hulle vra nie vrae om hulle verwarring op te los nie, maar om hulle twyfel verder na ander te versprei. Hulle vra vrae soos: “Hoe kan jy die Bybel glo as Matteus sê dat Judas homself opgehang het en Handelinge sê dat hy vooroor geval en oopgebars het?” So probeer hulle Christene en hulle geloof bespotlik maak. Kan hierdie mense met die evangelie bereik word? Ja, maar jy moet hulle versigtig benader. Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is (Judas 22 – 23). Jy moet hulle uit die vuur ruk en keer dat jy nie self aan die brand slaan nie. Hierdie ongelowiges kan gered word – kyk net na Paulus. Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie (1 Timoteus 1:12 – 13).

 

  1. Die oortuigde afvallige: Himeneus

Hierdie is ‘n tragiese kategorie. Om lewendig dood te wees, is gevaarlik en aansteeklik. So ‘n persoon was deel van die familie van God, maar het toe afvallig geword – finaal. Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak Hom in die openbaar tot ‘n bespotting (Hebreërs 6:4 – 6). Jy kan nie die evangelie met hulle deel nie; jy kan nie aan hulle die liefde van God wys nie; jy kan hulle nie vertel van die impak van die Heilige Gees nie – hulle het dit reeds geproe en gesien … en verwerp. God kan natuurlik steeds ‘n wonderwerk doen, maar vanuit ‘n menslike siening is daar niks meer wat ‘n mens vir hulle kan doen nie.

 

In 1 Timoteus 1:19 – 20 lees ons van Himeneus: Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie. Ons lees later weer van hom: En hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daardeur vernietig hulle die geloof van sommige (2 Timoteus 2:17 – 18).

 

image_pdfimage_print