Twyfel is ‘n probleem (1)

image_pdfimage_print

 

Twyfel is ‘n probleem (1)

In die vorige blog het ons gesien dat Johannes die Doper begin twyfel het. In hierdie blog gaan ons na die anatomie van twyfel kyk (Matteus 11:2 – 6).

 

Daar is ten minste drie dinge wat ons van twyfel in hierdie gedeelte leer:

  • Twyfel kom dikwels in moeilike omstandighede

Johannes was ‘n profeet in die woestyn wat onder moeilike omstandighede God se woord verkondig het. Met moed berei hy die weg vir die Messias voor. Hy wys mense na Jesus. Nou, as gevolg van hierdie getroue verkondiging, ondervind hy skande. Honger, marteling en ‘n emosionele stryd daar waar hy in die tronk sit. Dit herinner ons aan Elia wat vir Isebel vlug en gereed was om die handdoek in te gooi (1 Konings 19). Moeilike omstandighede kan lei tot twyfel.

 

  • Daar is verwagtings waaraan nie voldoen is nie.

Jesus was immers die Messias wat gestuur is om vir die gevangenes vrylating aan te kondig (Jesaja 61:1). Dit is duidelik dat Jesus aan baie van die verwagtings nie voldoen nie. Hierdie is die verwagtings wat baie van die Jode vir Hom gehad het. Johannes het verkondig dat die Christus sou oordeel (3:11 – 12), maar die Romeinse heerskappy was steeds in plek – en Johannes sit daarom in die tronk. Dit moes vir Johannes verwarrend gewees het. Rome is nog in beheer; sonde is oorvloedig; politieke en godsdienstige korrupsie vier steeds hoogty. Alles lyk nog soos dit al geslagte lank gelyk het. In plaas van Rome omverwerp spandeer Jesus tyd met sondaars en leer hulle van vergifnis. Hy vas nie eers nie. Is dit die Messias wat ons moet verlos, dink Johannes.

 

  • Johannes se persepsie is beperk

Hy verstaan eenvoudig nie alles wat besig is om te gebeur nie. Daarom stuur hy sy volgelinge om navraag te doen.

 

Spruit ons twyfel nie dikwels uit dieselfde faktore nie? Dit is dikwels te midde van uitdagende omstandighede waar geloof moeilik is. Dit gebeur veral as ons getrou saam met die Here geloop het en Hom gedien en aanbid het. Dan volg ‘n tragedie en ons begin wonder waar God is. Ons verstaan nie waarom sekere dinge gebeur nie, veral as ons beproewings ons vermoë om Hom te dien, belemmer. Ons weet dat God goed is, maar ons verstaan nie waarop hierdie swaarkry nie wil klaarkry nie.

 

Twyfel is dikwels die gevolg van sonde in ons lewens of in die lewens van diegene om ons. Selfs as dit nie as gevolg van ons sonde is nie, moet ons altyd onthou dat ons persepsie beperk is. Johannes het geen idee gehad hoe die verhaal van Jesus gaan verloop nie. God was besig met ‘n nuwe en anderse tipe koninkryk. Dit was meer as net ‘n verandering van ‘n politieke regime; God bring verlossing vir die hele wêreld. Johannes is verward. Was die Messias nie veronderstel om seën en oordeel in die nabye toekoms te bring nie? Wanneer sou sy koninkryk kom?

 

Soos Johannes is ons perspektief ook beperk. As omstandighede moeilik is en as daar nie aan ons verwagtings voldoen word nie en vrae kom na vore, moet ons altyd onthou ons perspektief is beperk. Ons moet vertrou dat God weet wat Hy doen.

 

Maar wat is die antwoord as ons twyfel? Daarna kyk ons in die volgende blog.

 

image_pdfimage_print