Vorm en funksie – retoriek

image_pdfimage_print

 

“All the flowers of the field, and many of the beasts of the plain, and now the very orbs of heaven, are turned into metaphors and symbols by which the glory of Jesus may be manifested to us. Where God takes such pains to teach, we ought to be at pains to learn.” C. H. Spurgeon

Vorm en funksieretoriek

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 

In Lukas se wêreld moes die spreker die korrekte vorm en tegnieke gebruik as hy mense wou oortuig. Die verhaal en die toesprake in Handelinge se doel is om mense te beweeg om iets te doen – om goeie voorbeelde na te volg en slegte voorbeelde te vermy. Lukas wil sy gehoor onderrig en oortuig. Hierin speel die toesprake ‘n belangrike rol.

 

In Handelinge is daar twee toesprake wat as model kan dien oor hoe om nie-Christene te benader – mense met min of geen agtergrond van Bybelse idees nie. Dit is belangrik vir ons, want baie mense in ons kultuur het slegs ‘n vae idee van die Bybel.

Die toespraak in 14:13 – 17 is gerig aan ‘n nie-Joodse gehoor – baie entoesiasties, maar verstaan nie mooi wat aangaan nie. Paulus wys vir ons hoe jy ‘n groep wat nie ‘n Bybelse verwysingsraamwerk het nie, moet benader.

In Atene word Paulus na die Areopagus geneem. Hier moet hy sy siening verdedig – nie sommer gesels met ‘n groepie belangstellendes nie. Hier kry ons nie die relatief eenvoudige benadering van Handelinge 14 nie. Inteendeel, Paulus bou kulturele brûe deur by Griekse skrywers wie se werke gebruik kan word om sy boodskap te steun,  te leen. In beide Listra en Atene mag mense iets van Israel se Skrif geweet het (in Atene was ‘n sinagoge). Daar was beslis geen prediking van Jesus as die Messias nie. Hierdie toesprake dien as templaat oor hoe gelowiges die verkondiging van die evangelie op gehoor-spesifieke maniere kan struktureer.

Die toesprake bied ook aan Lukas die geleentheid om die gebeure te interpreteer.

Drie elemente van die toesprake

  • Die toesprake gee nie alleenlik die kern van wat die sprekers gesê het nie, maar dien ook as template/modelle om na te volg as die lede van Lukas se gehoor die evangelie aan hulle bure verkondig.
  • Die toesprake word op die manier wat die meeste betekenis vir die hoorders sou hê, aangebied.
  • Daar is ‘n gemengde reaksie op die toesprake. Verkondigers van die evangelieboodskap moet verwag dat sekere mense die boodskap gaan verwerp. Simeon het reeds van die baba Jesus gesê: Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word (Lukas 2:34).

Volgende keer kyk ons na Paulus se gehoor.

image_pdfimage_print