Vra vir ‘n handdoek en nie vir ‘n titel nie

image_pdfimage_print

 

I think of life as a good book. The further you get into it, the more it begins to make sense.”— Harold Kushner

 

Vra vir ‘n handdoek en nie vir ‘n titel nie

Ontwikkeling van leiers deur die bemagtigende krag van die Heilige Gees behoort ‘n belangrike waarde in elke gemeente te wees. Die gemeente se vooruitgang word deur sy leiers bepaal. Maar dit is belangrik dat hierdie leiers doeltreffende leiers moet wees. ‘n Kernbestanddeel van leierskapsontwikkeling is om mense te dien. Anders gestel: leiers lei deur die gemeenskap te dien. Dit is nie opsioneel nie.

 

Paulus gebruik die beeld van die liggaam om die kerk te beskrywe. Hy sê: Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde (Efesiërs 4:16). Sonder dienaarleiers kan die liggaam nie doeltreffend funksioneer nie.

 

Die probleem is dat baie mense ‘n titel en nie ‘n handdoek soek nie. Bybelse leierskap is nie om mense te vertel wat hulle moet doen nie – jy moet self uitleef dit wat jy wil hê ander moet beliggaam. Luister net wat sê Jesus vir sy dissipels: By die nasies is dit so; konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien … Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien (Lukas 22:25 – 27). Die dissipels soek ‘n titel en Jesus gee vir hulle ‘n handdoek.

 

Jesus was saam met sy dissipels. Hy het reeds geweet dat die tyd gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan (Johannes 13). Wat doen Hy? Hy maak ‘n handdoek om Hom vas en was sy dissipels se voete. Dit is die kern van leierskap. Dink net hoe anders sou die wêreld vandag gewees het as dit is hoe ons gelei het.

 

Wat het Jesus in staat gestel om so nederig te wees?

  • Hy het geweet van waar sy waardigheid en mag vandaan gekom het – Hy het geweet dat die Vader alles in sy hande oorgegee het.
  • Hy ken sy identiteit – dat Hy van die Vader gekom het.
  • Hy ken sy bestemming – Hy gaan terug na die Vader toe.

 

As ons weet waar ons waardigheid en mag vandaan kom, wat ons identiteit en bestemming is – die onbeperkte, onvoorwaardelike liefde van God in Christus – kan ons ook vir die handdoek in plaas van ‘n titel vra.

 

 

 

image_pdfimage_print