Wag vir God: dit is moeilik

image_pdfimage_print

Some institutions are allowed to grow so old and venerable that the idea of scrapping them is unthinkably sacrilegious – F. F. Bruce

Wag vir God: dit is moeilik

Ons hou nie van wag nie. Maar wag is deel van die lewe. So wag ons byvoorbeeld vir ons gebede om verhoor te word, ons wag vir genesing … Soms lyk dit vir ons so onnodig. Maar God leer vir ons dat in ons wag,is daar ‘n doel – die geleentheid vir ons geloof om te groei. As jy moet wag, klou aan hierdie vier dinge vas:

  • Soewereiniteit in wag

As ons wag, is dit maklik om te begin twyfel. Is God soewerein? Is God goed? As God goed is hoekom laat Hy dit toe? As God soewerein is hoekom het Hy dit nie vermy nie? Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense … U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe (Psalm 66). Let op: God doen magtige dade vir sy kinders; hierdie dade sluit in beproewing – loutering soos silwer; God lê swaar laste op ons; maar God lei hulle deur dit alles. Maar dan kom 2 Petrus 2:9 en sê vir ons: Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red.

  • Dit word van Christene verwag om te wag

Die Bybel is vol stories van mense wat moes wag. Abraham en Sara moes jare wag vir ‘n baba; Josef wag nadat hy onregverdig in die tronk gegooi is; die Jode wag jare in Egipte vir hulle vryheid; Dawid wag jare nadat hy gesalf is voordat hy koning word; Paulus wag jare vir ‘n doring om verwyder te word. So kan ons aangaan. Was God in hierdie gevalle in beheer? Ja, God se volmaakte plan sluit wag in. Die wag wat ons ondervind is nie abnormaal in die lewe van ‘n Christen nie.

  • God laat ons wag om ons te seën

Dink maar aan Moses in die woestyn, Jakob wat met God stoei en Paulus met die doring in sy vlees. In tye van wag is God besig om ons vertroue op onsself af te breek en ons wakker te maak vir die werklikheid – ons het Hom nodig. Dan besef ons dat ons net by Hom ware vreugde sal ondervind.

  • Christus is beter

As ons so wag, kom die vraag by ons op: Is Christus voldoende? Dit is nie altyd maklik om hierdie vraag eerlik te antwoord nie. As die fokus van my aanbidding skuif van die Gewer na die gawes, van die Geneesheer na die genesing, sal God my fokus weer instel – dikwels deur my te laat wag.

As ons weer moet wag, moet ons onthou dat dit deel van God se plan is.

image_pdfimage_print