Wat is goeie werke?

image_pdfimage_print

 

C.S. Lewis beskryf die kerk as “the only organization that exists primarily for the benefit of non-members.”

 

Wat is goeie werke?

As ons gevra word om een woord te kies om die Christelike lewe te beskryf, watter een sal jy kies? Geloof, want geloof is die fondament van die Christelike geloof. Maar die Christen se lewe moet ook deur goeie werke gekenmerk word. Ons word nie gered deur iets goeds wat ons gedoen het nie, maar opregte verlossing gaan altyd gepaard met ‘n veranderde lewe – nuwe denke, gesindhede en gedrag.

 

Toe Paulus vir die Tessalonisense skryf loof hy hulle vir die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus (1 Tessalonisense 1:3). Alles wat ons doen moet deur geloof, liefde en hoop wat in Jesus Christus gefundeer is, gemotiveer word.

 

Wat kwalifiseer as goeie werke in die lewe van ‘n Christen? Die Bybel is vol voorbeelde: die versorging van ander, die hantering van behoeftes, die gee van ons tyd en geld en ons betrokkenheid by aktiwiteite soos aanbidding, gebed en Bybelstudie,

 

Charles Stanley sê dat as ons die onderwerp van goeie werke oorweeg daar vier waarhede is wat ons in gedagte moet hou. Anders aanvaar ons dat ons definieer wat goed is, wat gedoen moet word en hoe dit gedoen moet word.

 

  1. God bepaal wat Hy wil hê dat elkeen van ons moet doen

God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Omdat ons aan Jesus Christus behoort – Hy het ons met sy bloed gekoop – het Hy volle gesag oor ons lewens. As ons volgens sy wil lewe is daar spesifieke take wat ons moet doen. As ons dink dat bywoning van eredienste op ‘n Sondag genoeg is, maak ons ‘n groot fout. Christene is die mense deur wie die Heilige Gees God se werk op aarde doen. Hy het Homself as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sondes te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen (Titus 2:14).

 

  1. God rus ons toe vir dit wat ons moet doen

Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).In elke geleentheid wat God aan ons gee, het Hy reeds alles voorsien wat ons nodig sal hê vir die taak. Hy het oneindige hulpbronne beskikbaar om ons in staat te stel om die goeie werke te doen. Sy inwonende Heilige Gees gee aan ons rigting en krag om te gehoorsaam, as ook gawes wat ons in staat stel om te dien. Hy gebruik die Skrif om ons in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg e stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16). Hy gebruik ook ons medegelowiges om ons te motiveer.

 

  1. Ons goeie werke moet God en nie onsself nie, verheerlik

In sy bergrede  sê Jesus dat sy volgelinge die lig vir die wêreld is. Hulle moet hulle lig so voor die mense laat skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:14 – 16). Kort daarna sê Hy: Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie (Matteus 6:1). Die verskil is motivering. Ons moet nooit die goedkeuring en lof van ander mense soek deur dit wat ons doen nie, maar ons lewe moet deur goeie werke gekenmerk word. Ons moet egter altyd onthou dat sonder Christus is ons niks nie.

 

  1. God sal eendag ons goeie werke oordeel

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontbang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Korintiërs 5:10). Ons sal vergoed word vir die goeie werke wat ons in gehoorsaamheid aan God, in sy krag en vir sy heerlikheid gedoen het.

 

Ons weet nie presies wat daardie beloning gaan wees nie, maar een ding is seker: Niks is waardevoller as lof van ons geliefde Verlosser nie. Laat ons dan vir Hom leef.

 

 

 

image_pdfimage_print