Wees duidelik en reguit

image_pdfimage_print

True and sound wisdom consists of two parts: the knowledge of God and of ourselves – Johannes Calvyn

Wees duidelik en reguit

In Matteus 21:23 – 27) is Jesus in die tempel besig om die mense te leer. Die priesterhoofde en die familiehoofde nader Hom met ‘n vraag: Met watter gesag doen U hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?  Jesus sien onmiddellik dwarsdeur hulle denke. Hulle vraag is  nie ‘n eerlike vraag nie. Daarom antwoord Hy hulle vraag met ‘n vraag van sy eie: Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af? As hulle hierdie vraag antwoord, sal Hy hulle vraag oor sy gesag antwoord.

 

In plaas van eerlik te antwoord, word hulle denke nou glibberig. Hulle redeneer onder mekaar en besef dat wat hulle ook al antwoord hulle in die moeilikheid is. As hulle sê Johannes se doop kom van God af, sal Jesus onmiddellik wil weet waarom hulle hom dan nie geglo het nie. As hulle sê dat Johannes se doop van die mense kom, is hulle ook in die moeilikheid, want die mense het Johannes as ‘n profeet beskou. Daarom antwoord hulle: Ons weet nie.

Jesus praat nie met sulke mense nie. Daarom sê Hy vir hulle:Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. Is dit nie ook soms ons benadering nie? Ons kom nie openlik na vore nie, maar gebruik ons denke op allerhande slinkse maniere. Hoe moet ons dan optree? Paulus gee vir ons die antwoord: Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waarvoor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ‘n eerlike gewete het (2 Korintiërs 4:2).

image_pdfimage_print