1 Korintiërs 1:1-3: ʼn Briefaanhef met ʼn boodskap

image_pdfimage_print

1 Korintiërs 1:1-3: ʼn Briefaanhef met ʼn boodskap – Francois Malan

God roep vir Paulus en die gemeente om deur Christus Jesus sy genade en vrede uit te leef en aan ander uit te deel. So word die hele brief ingelei en opgesom.

1 Korintiërs volg die Griekse gebruik om ʼn brief te begin met ʼn aankondiging van die skrywer, die ontvangers en ʼn groete. Maar die aanhef van 1 Korintiërs word gevul met betekenis wat die hele brief tipeer.

Die skrywer se ouers het hom ‘Saul’ (van God ‘gevra’) genoem, na die eerste koning van Israel, wat ook uit die stam van Benjamin gekom het (Handelinge 13:21; Filippense 3:5). Van die begin van sy eerste sendingreis as gesant van Christus Jesus word hy egter ‘Paulus’ (‘klein’, ‘gering’) genoem (Handelinge 13:9), en sy nederigheid as die ‘geringste van die apostels’ spreek deur die hele brief as voorbeeld vir elke volgeling van Jesus Christus (vergelyk 15:9 en hoofstuk 4).

Hy is ʼn apostel (‘’n gestuurde gesant’) van die gekruisigde koning wat ons verlos, Christus (‘Gesalfde’) Jesus (‘Verlosser’). Paulus is ʼn voorbeeld vir die gelowiges. Soos Christus soek hy nie sy eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word (2:2; 10:33-11:1). Hy is oortuig dat hy vir die taak deur God geroep is, die God wat vir Christus uit die dood opgewek het om as koning oor alles te heers, totdat God alles vir alles sal wees (15:20-28). Sostenes, ʼn medegelowige, skryf waarskynlik Paulus se woorde neer (vergelyk 16:21).

Die lesers word daaraan herinner dat hulle God se gemeente in Korinte is, sy gesante in die heidense Griekse handelstad. Deur Christus Jesus is hulle aan God toegewy (‘geheilig’), as mense wat geroep is om heilig (aan God toegewy) te lewe, en nie langer saam met die heidene die afgode te dien en onsedelik te lewe nie (vergelyk 1:30; hoofstukke 5-10).

Hulle is deel van die liggaam van Christus, saam met almal wat op elke plek aan ons Here behoort deur sy Naam aan te roep as die Here, wat die seggenskap oor hulle lewe het. Daarom kan hulle nie in opponerende groepe verdeel, of los van die ander gemeentes ʼn eie koers inslaan nie (vergelyk 1:13; hoofstukke 3, 11-14).

Die Griekse groetewens word vervang met die toesegging van die seën van God en van die Here, aan wie die aarde met alles daarop behoort (10:26). God word ‘ons  Vader’ genoem, die Vader wat sy groot gesin van gelowiges versorg, uit wie alles is en vir wie ons lewe. Jesus Christus is die Here deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (10:6).

Van ons Vader en van die Here ontvang ons genade en vrede:

  • Genade is God se onverdiende guns waardeur Hy ons sonde vergewe, die krag gee om ons daarvan te verlos, en ons daagliks met sy Gees te lei om met sy wysheid regte besluite te neem (1:18,21,30;  2:10-16).
  • Vrede sluit aan by die Hebreeuse woord sjaloom, om in vrede met God en met mekaar te lewe, gesond, heel en vervuld (6:19-20; 7:15; 16:23).

God het vir Paulus geroep (vs. 1), en God het die gemeente geroep (vs. 2) om sy genade en vrede uit te leef en aan ander uit te deel (vs. 3). In die drie verse word ‘God’ drie maal genoem en eenmaal word Hy ‘Vader’ genoem. ‘Ons Here’ word vier maal genoem, twee maal word Hy ‘Christus Jesus’ (die gesalfde Jesus) en tweemaal ‘Jesus Christus’ (Jesus die gesalfde) genoem. Die brief gaan oor wat God deur Christus Jesus met Paulus en die gemeente doen.

 

Outeur: Dr Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...