Vrygewigheid en Gasvryheid

image_pdfimage_print

 

How I wish everyone had decent work! It is essential for human dignity – Pous Franciskus

 

Vrygewigheid en Gasvryheid

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die oorvloed wat God voorsien, is die teken dat ons nie alles self kan gebruik nie, maar met ander moet deel. Daarom moet ons bedag wees op die behoeftes om ons. As ons dink aan vrygewigheid dink ons onmiddellik aan geld. Natuurlik is geld belangrik, maar geld skep ‘n afstand tussen gewer en ontvanger. Een van die intiemste vorms van vrygewigheid is gasvryheid. Daar deel ons ons huis, tafel en onsself met ander.

 

Gasvryheid was ‘n belangrike kenmerk van die mense van die Ou Testament: Wanneer daar ‘n vreemdeling by julle in die land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ‘n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte (Levitikus 19:33 – 34). Israel moes die kwesbare vreemdeling in hulle land simpatiek behandel. Wat gasvryheid in die vroeë Christelike kerk uniek gemaak het, was dat dit mense ingesluit het wat nie die vermoë gehad het om terug te betaal nie.

Lukas 13: Jesus eet in die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër. Dit was die sabbatdag. Hy vertel vir hulle ‘n paar gelykenisse. Hy begin met ‘n gelykenis oor bekeidenheid waarin Hy hulle waarsku om nie sommer die voorste plek by ‘n bruilofsfees in te neem nie. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.

Daarna praat hy met die gasheer en sê vir hom: nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het. Daarna vertel Jesus die gelykenis van die groot maaltyd.

Spandeer ons as Christene nie te veel tyd om te besluit wie kan uitgenooi word na die feesmaaltyd nie? Ons verantwoordelikheid, en voorreg, behoort te wees om nog stoele nader te trek om plek vir meer mense te maak. Is dit ook ons prioriteit om soos Jesus saam met ons bure te eet en te ontspan?

Die kerngedeelte oor gasvryheid is sekerlik Matteus 25:34 – 40. Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. God is gasvry teenoor ons en ons moet gasvry teenoor Hom wees deur te sorg vir sy kinders wat kwesbaar is. Moeder Teresa het dit letterlik opgeneem: I see Jesus in every human being. I say to myself, this is hungry Jesus, I must feed him. This is sick Jesus. This one has leprosy or gangrene; I must wash him and tend to him. I saw because I love Jesus.

In die vroeë kerk was gasvryheid ‘n toets van karakter en ‘n vereiste vir leierskap.

So baie van ons moderne gasvryheid is geprivatiseer – dit word deur welsynsorganisasies, die kerk en die staat gedoen. Natuurlik speel hulle ‘n belangrike rol, maar dit verplaas persoon-tot-persoon gasvryheid. Hulle sorg is ook dikwels gespesialiseerd – hulle fokus op een probleem –  en nie holisties nie. Gasvryheid is nie onpersoonlike welsyn nie. Dit is om in ander die beeld van God raak te sien, om met hulle te verbind en aan hulle ruimte en sekuriteit te gee. Christelike gasvryheid beteken dat ons voorspelbaarheid en beheer oorgee, want God kom tussen ons op verrassende en vreemde maniere wat ons nooit te volle kan voorspel nie.

Aan wie moet ons gasvryheid bewys? Aan ons vriende en dié wat ons kan terugbetaal? Beslis, maar ook aan alle mense wat God op ons pad plaas.

image_pdfimage_print

You may also like...