Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (2) – Adrio König

Ons is nog besig om na heil en saligheid te kyk. In die vorige gedeeltes het ons na die doel van die skepping as ook na die Ou Testament gekyk. Nou gaan ons na die Nuwe Testament kyk. Hier gaan ons veral na vier aspekte kyk:

 

  1. 1.Heil sonder gawes (gedoen in vorige gedeelte).
  2. 2.Toekomstige heil (hierdie gedeelte).
  3. 3.Verheerliking (die volgende gedeelte).
  4. 4.Die ewige lewe.

 

2.3.2 Toekomstige heil

Waarna ons nou moet kyk, is die toekomstige apokaliptiese (bonatuurlike) deurbraak wat Jesus en die apostels verwag het. Dit is in elk geval vreemd om ’n situasie te kry waarin die Here en sy gawes losgemaak is van mekaar. Hoe kan dit nou aanvaarbaar wees dat ’n mens in gemeenskap met die Here leef, maar juis daarom sy gawes ontbeer, en juis daarom vervolg word? Dit kan tog onmoontlik die finale situasie wees.

 

En natuurlik is dit ook nie. In die Nuwe Testament het ons ’n tydelike noodsituasie wat wag op opklaring. Daarom is een van die grootste sake wat deur die hele Nuwe Testament loop, die verwagting van ’n nabye wederkoms. Hierdie ongekende spanning kom sterk na vore in Paulus se Romeinebrief. “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is … Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop” (8:18-19, 24). NLT vertaal die laaste sinnetjie: “Now that we are saved, we eagerly look forward to this freedom.” Daar wag ’n toekoms!

 

En dis onmoontlik vir die kinders van God wat weet hoe die heil in die Ou Testament gelyk het, om die onnatuurlike situasie van die Nuwe Testament as finaal te beskou, die situasie waarin ons op God se aarde permanent sy gawes moet ontbeer. Gelukkig spel die Nuwe Testament in bonatuurlike beelde uit hoe die heil uiteindelik sal lyk. En ons sal sien die heil skakel eintlik in die toekoms oor in ’n ander rat.

 

Maar net hier kan ons ’n fout maak. Die hoër rat is nie geestelike heil teenoor die aardse heil van die Ou Testament nie. Dit is nie waar dat die Ou Testament nog aards, tydelik, stoflik gedink het, maar dat ons nou ’n geestelike verwagting het van ewige hemelse geluksaligheid nie. Die toekomstige, volmaakte heil is net so aards en fisiek as dié in die Ou Testament. Die oorskakeling lê op ’n ander vlak. Dit gaan om die verheerliking. Maar daarna kyk ons later.

 

Kom ons kyk eers na die aardsheid van die toekomstige, finale vorm van heil. Alhoewel ons in die Nuwe Testament die nuwe verwagting het van die opstanding, is dit nog steeds die liggaamlike opstanding. Dit is dus mense wat in die toekoms die volle heil sal geniet. Dit gaan, net soos in die Ou Testament, nie om siele-heil nie, maar om “mense-heil”. En dis opvallend hoe hierdie liggaamlike opstanding beklemtoon word. Paulus sit selfs op hierdie punt die hele evangelie op die spel: “As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes” (1 Kor 15:16-17).

 

Die res van die hoofstuk beklemtoon juis dat dit ’n liggaamlike opstanding sal wees, en nie ’n geestelike opstanding soos sommige Christene toe – en nou! – geglo het nie. In 15:35-44 kom die Griekse woord vir liggaam tien keer voor! Verder gee die laaste hoofstukke in die Bybel ons dieselfde aardse, fisieke beeld van die finale heil. Die kinders van God sal in die gemeenskap van God en die Lam op die nuwe aarde die oorvloed van die gawes van God geniet.

 

Dis merkwaardig hoe sterk juis die Ou Testament na vore kom in hierdie laaste hoofstukke.

  • Dit gaan om die aarde. Ons het hier presies dieselfde nadruk as in Genesis 1. Dáár lees ons hoe God die hemel en die aarde geskep het, maar net die skepping van die aarde word bespreek. Hier sien Johannes ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Op 21:1), maar net die nuwe aarde word bespreek.
  • Die nuwe Jerusalem word in besonderhede bespreek (21:10-27). Ons moet onthou dat Jerusalem die eintlike simbool was van die teenwoordigheid van God by die volk. Dáár het Hy in die tempel gewoon, en daar het die volk tydens die groot feeste sy seëninge in sy teenwoordigheid geniet. Nou sal ons die finale vorm van die heil juis in die nuwe Jerusalem geniet.
  • Die stad word in terme van die tuin van Genesis 2 beskryf. Die tuin was gekenmerk deur die vrugtebome en die groot rivier. Nou kry ons juis dit in die nuwe Jerusalem: die groot rivier en die boom van die lewe (22:1-2). ’n Mens kan heelwat kleiner verwysings na die toekoms van die aarde hier byvoeg. Jesus beloof die nuwe aarde aan die sagmoediges (Matt 5:5). Paulus skryf: “Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders” (Rom 8:21, NLV). En net terloops, ons weet natuurlik dat hy nie hier na die hemel kan verwys nie, want dié is nie aan slawediens onderworpe nie. Verder kom hierdie nadruk op die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem natuurlik al in die Ou Testament self voor (Jes 65:17-25).

 

Verarming? Ek het min twyfel dat baie Christene hierdie nadruk op die aardsheid van die heil as ’n vreeslike verarming sal beleef. Daar is onder baie gelowiges ’n diep verlange na die hemelse geluksaligheid. Nie dat dit in ons eie geskiedenis altyd so was nie. Ons ken die ou verwysings na ons oorgrootouers waar die een wat op sterwe is, vir die ander sou gesê het: “Ek ontmoet jou by die Oospoort.” Dit was ’n duidelike verwysing na die nuwe Jerusalem (Op 21:12 ev).

 

Maar ons beslissende vraag is nie of ons daarvan hou of nie. Die beslissende vraag is wat ons hieroor in die Bybel kry. Ons het alreeds vroeër verwys na Psalm 115:16: “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee.” In die Nuwe Testament is daar ook nie duidelike verwysings daarna dat gelowiges hemel toe gaan nie. Daar is wel twee verwysings wat so geïnterpreteer word. Jesus verklaar dat Hy in die huis van sy Vader vir ons gaan plek gereedmaak. Daarna sal Hy weer kom en ons na Hom toe neem sodat ons ook kan wees waar Hy is (Joh 14:2-3).

 

Ons sal dus saam met Hom wees waar Hy is. Maar waar sal Hy aan die einde wees? Tog saam met die Vader in die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde (Op 21:22-23; 22:1). Terloops, ek het self effens huiwering om hierdie twee gedeeltes op hierdie wyse met mekaar in verband te bring, maar daar is onder gelowiges ’n wydverbreide Skrifbeskouing wat só werk, en ek probeer op hierdie wyse saam met hulle dink.

 

Die ander verwysing is Jesus se kruiswoorde aan die een moordenaar: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43). Die woord “paradys” kom net drie keer in die Nuwe Testament voor, hier, by Paulus (2 Kor 12:4) en in Openbaring 2:7. In nie een van die gevalle verwys dit na die einde nie, maar elke keer na die tyd waarin ons nou nog leef. Watter betekenis ons dus ook al aan paradys gee, en sommige is oortuig dit verwys na die hemel, dit sien op ’n voorlopige toestand. Die eindheerlikheid word in Openbaring 21, 22 beskryf: die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde.

 

Kom ons staan ’n oomblik weg van enkeltekste en kyk na groter lyne hieroor. Is dit so dat ons in die Bybel ’n duidelike lyn kry van God wat na ons op die aarde kom, en nie ons wat na God in die hemel gaan nie?

  • God skep die aarde om mense daarop te sit en dan kom Hy na hulle toe (Gen 2:16; 3:8).
  • Wanneer die Here besluit om vir Hom ’n nuwe volk te skep, doen Hy dit nie in die hemel nie, maar op aarde (Gen 12 ev).
  • As Hy met hulle gemeenskap wil hê, kom Hy na hulle toe in die tempel. Hulle glo selfs dis sy woonplek.
  • As Hy die mensdom wil verlos, maak Hy nie van die mense gode nie, maar God word mens.
  • Hy vat nie die gereddes hemel toe nie, Hy kom in Jesus aarde toe, bevry mense van bose magte, en doen versoening aan die kruis op ’n bultjie buite Jerusalem.
  • As Hy dan vir Hom onder die heidene ’n gemeente wil versamel, neem Hy nog ’n keer nie mense na Hom toe nie, Hy stuur sy Gees aarde toe en versamel hulle hier.
  • En as Hy uiteindelik alle teenstand oorwin en alles nuutmaak, vernietig Hy nie die aarde en vat al sy kinders na ’n ander plek (hemel) toe nie. Hy vernuwe die aarde en kom woon by sy kinders in die  nuwe Jerusalem op die nuwe aarde.

 

Is dit nie dalk die eerste “eenrigtingstraat” in die geskiedenis nie: van die hemel na die aarde? En beteken dit nie dat God getrou is, dat Hy sy doel bereik: Om mense op aarde te hê en daar met hulle in gemeenskap te leef nie? Maar nou die hemel? Verloor ons dit dan? Miskien tog nie. Waar sou die hemel wees? Ek weet nie. Maar ek weet ten minste dit moet wees waar God is. Maar as Hy dan aan die einde by ons op die nuwe aarde is, sal hierdie nuwe aarde dan nie wees waar die hemel dan is nie? En is dit nie dalk die diepste betekenis van “hemel op aarde” nie?

 

Ons het reeds verwys na die Joodse teoloog Martin Buber wat ons Christene beskuldig van “verraad aan die aarde”. Ons het die neiging om die aarde gering te skat. Hoe lank het ons nie gesing nie: “Hoe skoon die aarde, dit het min waarde”? Hoe het gelowiges nie alles wat “aards” is, vermy en net na die hemel verlang nie.

  • Wie het die aarde gemaak?
  • Waarom vertel die hele eerste skeppingsverhaal net van die fisieke dinge wat gemaak is? Sou dit nie die fisieke, harde kante van die werklikheid belangrik maak nie?
  • En wie het die eerste mens uit die stof van die aarde gevorm? Onthou daar staan in werklikheid dat Adam uit adamah (stof, grond) gemaak is. Lê dit nie ’n baie noue verband tussen mens en grond/aarde nie?
  • Wie werk eeue lank al met mense op aarde?

 

Ons sal moet leer dat ons vir die aarde gemaak is. Of liewer: Ons sal moet leer dat ons vir God op die aarde gemaak is om op aarde in sy gemeenskap te leef en sy seëninge te geniet. As God ons hier geplaas het, en Hy nie afsien van sy doel met ons nie, sal ons hier bly, maar natuurlik op die skoongemaakte en nuutgemaakte aarde.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print