Alle Paaie lei na Jesus: Jesus eindig en vervang bepaalde dinge (1)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus eindig en vervang bepaalde dinge (1) – Adrio König

Hoofstuk 11

Alle paaie lei na Jesus

“For the trees they cannot see the wood.”

Kom ons sorg dat dit nie ook met ons gebeur nie. Ons het in baie besonderhede na hierdie wonderlike verskynsel gekyk, hoe al die groot temas in die Bybel na Jesus lei. Ons kon seker na nog tien ander ook gekyk het. Dit was ’n detailstudie. Ons het een vir een na die bome gekyk. Maar hoe lyk die geheelprentjie, die bos? Kom ons kyk na die bos. Kom ons vra ’n paar vrae.

Lei elke tema op presies dieselfde manier na Jesus? Sit Jesus maar net iewers passief en kyk hoe die tema ons na Hom toe lei? Is Hy elke keer net die eindpunt? Of vervul Hy as eindpunt in werklikheid verskillende funksies? Is dit nie dalk Hy wat die temas na Hom aantrek nie? Presies watter rol vervul Hy as die mikmerk van elke tema? Dit lyk my ons kan onderskei tussen drie rolle wat Hy speel. Hulle is:

  1. 1.Jesus beëindig enbepaalde dinge
  2. 2.Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge
  3. 3.Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge

 

11.1 Jesus beëindig en vervang bepaalde dinge

Ons kan hier aan ’n paar temas dink:

  • Die tempelkultus (hoofstuk 3.7.2)
  • Die wet as heilsweg (hoofstuk 3)

 

11.1.1 Die tempelkultus (hoofstuk 3.7.2)

Ons het hier een van die radikaalste breuke in die hele Bybel. Ons het veral na Hebreërs gekyk. ’n Mens moet onthou die uitgebreide tempeldiens in Jerusalem was die hart van Israel se godsdiens. Hier is die feeste hoeveel keer per jaar gevier. Hier in die tempel is die Psalms gesing, die volk in die wet onderrig, die offers gebring, offers vir die hele volk en ook individuele offers. En die voorskrifte oor al hierdie dinge het goddelike sanksie gehad. Die boeke waarin alles in besonderhede voorgeskryf was (die eerste vyf boeke), was selfs vir ’n groot deel van die volk die enigste openbaring van God. Die res van die Ou Testament is in elk geval hieraan gemeet.

 

Onthou verder dat daar in die tyd van die Ou Testament nog geen sinagoges was nie. Dit het eers later gekom, veral na die ballingskap. Om aan die feeste deel te neem, om self offers te bring soos die eerstelingsoffer elke jaar, moes hulle tempel toe in Jerusalem. Die tempel, die priesters, die offers was die hart van hulle godsdiens. En dan kom die skrywer aan die Hebreërs met die aller radikaalste uitsprake:

  • Die tempel was maar net ’n namaaksel (9:24).
  • Die priesters was in die orde van Aäron, maar dié was heeltemal minderwaardig teenoor die orde van Melgisedek (7:11).
  • Die offers moes jaarliks herhaal word omdat dit die mense net uiterlik gereinig het (9:13), omdat dit nooit regtig die mense kon vrymaak van sonde nie (10:2), trouens die offers kon glad nie sonde wegneem nie (10:4).

 

Waarom hierdie aardbewing in die totale godsdienstige sisteem van Israel? Omdat Jesus gekom het.

  • Hy is self die tempel,
  • Hy is die eintlike Priester,
  • Hy bring die een finale offer, en dit beëindig die hele sisteem.

 

Besef ons hoe ’n krisis dit was vir ’n gelowige Jood om Jesus te volg as hy/sy God met erns gedien het volgens die voorskrifte van die eerste vyf boeke? Waarvan moes hy/sy alles afsien! Is dit vreemd dat die Joodse bekeerlinge volgens die Hebreërbrief begin huiwer het? Hulle het begin besef watse breuk dit met hulle heiligste oortuigings inhou as hulle Jesus wou volg!

 

Word dit aan die ander kant nie ook nou ’n bietjie duideliker waarom die Joodse godsdienstige leiers so fanaties teen Jesus was nie? Dis een ding om nie van iemand te hou nie. Dis selfs moontlik om skerp teen iemand se beskouings standpunt in te neem en dit te veroordeel. Maar om ten alle koste die wreedste dood te eis by ’n regter wat uitdruklik verklaar dat die man nie skuldig is nie?! Maar was Jesus nie vir hulle die simbool van Godslastering nie? Dis tog presies waarvan hulle Hom telkens beskuldig het. En Godslastering moes met die dood gestraf word (Lev 24:10-23). Hulle eis dat Hy gekruisig moes word, was dus in gehoorsaamheid aan die wet van God! Maar dit veronderstel natuurlik dat Jesus God inderdaad gelaster het. Jesus was so radikaal dat mense wat nie in Hom geglo het as die Seun van God nie, inderdaad oortuig was dat Hy met sy groot aansprake God laster.

 

Dit lyk my dis duidelik dat ’n mens eenvoudig vooraf in Jesus moes glo om sy aansprake te kon aanvaar, en dat daar sterk argumente was om Hom te verwerp as jy nie vooraf klaar in Hom geglo het nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...