Alle Paaie lei na Jesus: Die Vervulling van profesieë

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die Vervulling van profesieë – Adrio König

Hoofstuk 7

In die volgende paar artikels hanteer ons die vervulling van profesieë. Ons begin deur na verskillende standpunte te kyk.

Die vervulling van profesieë

7.1 Verskillende standpunte

Die vervulling van profesieë het altyd baie aandag getrek, en bepaald nie die minste nie die profesieë wat in Jesus se lewe vervul is. Veral Matteus gaan uit sy pad uit om te toon hoeveel profesieë in Jesus se geboorte en aardse bediening vervul is. Net in die eerste vier hoofstukke behandel hy ses van hierdie profesieë.

As ons vra hoe profesieë in die toekoms vervul gaan word, is dit natuurlik vanselfsprekend dat ons sal kyk na dié wat reeds vervul is. En daarmee kan juis Matteus ons baie help. Waarskynlik juis omdat hy Jode probeer oortuig dat Jesus die verwagte Messias is, werk hy doelbewus met profesieë uit die Ou Testament wat in Jesus vervul is. Kom ons kyk hoe hulle volgens Matteus vervul is, en dan ook na ’n paar uit Handelinge.

 

Dit gaan hier oor twee vrae:

  • Word profesieë letterlik vervul?
  • Word ’n profesie net een keer vervul?

 

Daar is naamlik mense wat baie sterk daarop staan dat profesieë letterlik vervul word, wat beteken dat ’n mens voor die tyd uit die profesie kan aflei hoe die vervulling sal lyk. Dit beteken dat ons uit profesieë wat nog nie vervul is nie, presies kan aflei hoe dit sal gebeur. Ons kan as ’t ware vooraf ’n prentjie teken van hoe Jesus weer sal kom, en presies wat dan alles sal gebeur. Hierdie mense teken dan ook inderdaad detailprentjies van hoe die toekoms sal lyk, byvoorbeeld hoe die antichris sal optree, hoe die groot verdrukking sal verloop, hoe Christus tydens die duisend jarige vrederyk vanuit Jerusalem oor die hele aarde sal regeer. Hulle uitgangspunt is dat dit duidelik uit die Nuwe Testament blyk dat al die profesieë oor Jesus letterlik vervul is. Daaruit lei hulle dan af dat dit ook sal gebeur met alle profesieë wat nog vervul moet word.

 

Hierdie standpunt dat profesieë letterlik vervul word, het inderdaad ’n bepaalde waarde. Die waarde is dat dit die sogenaamde vergeesteliking van profesieë afwys. Alreeds in die vroeë kerk was daar die oortuiging dat elke uitspraak in die Bybel eintlik meer as een betekenis het. Origenes van Alexandrië was oortuig dat daar in elke Skrifgedagte ’n dieper betekenis is. Die letterlike betekenis is vir die ongeleerdes, en dis genoeg vir hulle om salig te word. Maar die gekultiveerde gelowige soek dieper, en kry dan die geestelike of dieper betekenis. Eintlik het hy soms selfs drie verskillende betekenisse onderskei: die letterlike, die morele, en die geestelike betekenis.

 

Hierdie beginsel is natuurlik oop vir erge subjektiwiteit. Daar is immers nie duidelike reëls oor hoe ’n mens die geestelike betekenis sou kon vasstel nie. Ons het al almal afgekom op die vreemde maniere wat sommige Christene het. In alles wat rooi is in die Ou Testament sal hulle die “geestelike betekenis” of die “dieper betekenis” van die kruis en die bloed van Jesus “ontdek”, soos die rooi tou van Ragab.

 

Teen hierdie manier van interpretasie moet ons inderdaad standpunt inneem, eenvoudig omdat ons nie in die Bybel enige gronde hiervoor kry nie. Tereg beklemtoon die dispensasionaliste dan: Letterlike interpretasie, waaronder hulle verstaan die gewone, alledaagse betekenis wat ons aan woorde gee.

 

Maar dit beantwoord nie regtig die vraag hoe profesieë vervul word nie. Daarvoor moet ons eenvoudig gaan kyk hoe spesifieke profesieë alreeds in die tyd van die Nuwe Testament vervul is. Ons vraag sal wees of ons bloot uit die profesie soos ons dit in die Ou Testament het, sou kon aflei hoe die vervulling sou lyk. Onthou ons het twee vorms van die profesie: die profesie self in die Ou Testament, en die vervulling in die Nuwe. Maar as ons geleef het in die tyd van die Ou Testament, vóór die vervulling in die Nuwe Testament, en toe ons die profesie gelees het, sou ons kon aflei hoe die vervulling uiteindelik in die Nuwe sou lyk?

 

In die volgende aantal artikels gaan ons na spesifieke vervullings kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...