Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (1)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (1) – Adrio König

10.4 God Drie-enig alreeds in die Ou Testament?

Ons moet netjies onderskei oor dit waaroor dit hier gaan. Daar is geen twyfel dat ons as Christene in die lig van die Nuwe Testament terugkyk en dan die drie-enige God in talle plekke in die Ou Testament raaksien nie. Ons het so pas in hoofstuk 9.3 gesien hoedat Paulus Jesus direk verbind met die uittog (die Paaslam, die rots). Natuurlik het ons sterk getuienis dat Hy saam met die Vader die Skepper van alles is (Joh 1:1-3; Kol 1:16). Ons sou hier ’n lang lys kon maak van nog talle voorbeelde.

Maar daar is twee ander oortuigings waarna ons hier wil kyk. Die een is dat daar al klaar in die Ou Testament self duidelikheid was dat God Drie-enig is, of ten minste dat daar ’n soort meervoudigheid in God is. Sommige meen die gelowiges van die Ou Testament het dit self al geweet. Ander meen hulle kon dit geweet het as hulle net goed opgelet het. En die tweede siening is dat ons veral vir Jesus op veel, veel meer plekke in die Ou Testament kry as wat in die Nuwe Testament aangedui word.

 

Kom ons kyk eers na nommer een. Mense is oortuig hulle kry die gedagte dat God meervoudig is, sommer oral in die Ou Testament, selfs net waar daar drie keer na mekaar na die Here verwys word soos in die priesterlike seën (Num 6:24-26). Dan is daar die “Ons” van die eerste skeppingsverhaal (“Laat Ons mense maak … ” Gen 1:26, 1953-vertaling). En dan na tuurlik die twee meervoudsvorms in die benamings van God waarna ons reeds verwys het (Adonai Jahwe en Elohim). Maar mense sou talle voorbeelde kon noem.

 

Na die twee benamings van God (Adonai Jahwe en Elohim) het ons reeds gekyk (10.1, 10.2) en die oortuiging uitgespreek dat die soort meervoudsvorms wat ons in Adonai en Elohim het, en die gebruik van hierdie benamings met enkelvoudige werkwoorde, nie regtig gronde vir die Drie-eenheidsleer bied nie. Dit is eenvoudig ’n ander soort meervoudsvorm. Maar mense voel veral sterk oor die volgende voorbeelde:

  • Die Gees in die Ou Testament
  • Die “Gees” in Genesis 1:2
  • Die “Ons” in Genesis 1:26
  • Jesus as die engel van die Here

 

10.4.1 Die Gees in die Ou Testament

As ons na die Ou Testament self kyk, lyk dit asof daar eintlik drie moontlike verhoudings tussen God en die Gees van God is. Die een is dat die Gees eintlik net die krag van God of God-in-aksie is. Die ander is dat die Gees alreeds ’n goddelike Persoon naas God die Vader is. En die derde is dat die Gees eintlik God self is.

 

Kom ons kyk eers na die laaste een: die Gees as ’n aparte Persoon naas God. Dit is veral mense wat oortuig is dat ons alreeds die volle Drie-eenheid in die Ou Testament kry, wat hierdie standpunt inneem. Teen hierdie gedagte dat die Gees reeds as ’n aparte Persoon in die Ou Testament bekend is, is daar sterk argumente. Daar is ’n aantal uitsprake wat makliker verstaan kan word as die Gees net die krag van God is. Die Here laat kom ’n deel van sy Gees wat op Moses was, op die 70 wat hom bygestaan het (Num 11:25). Dit kan beswaarlik van ’n aparte Persoon gesê word dat ’n deel van Hom op mense kom. Maar as die Gees die krag van God is, kan ’n deel van sy krag wel op ander oorgaan. En net so ook al die volgende uitsprake. Die Gees gee Simson krag (Rig 14:6, 19; 15:14). Die Here sal sy Gees in die Israeliete laat ingaan en hulle daardeur in staat stel om sy wet te hou (Eseg 36:27). Dink ook aan die Gees wat op of oor die Messias sal kom (Jes 42:1; 61:1). Al hierdie uitsprake pas goed by die gedagte van die Gees as die krag van God.

 

Tweedens is daar ander uitsprake wat ons inderdaad kan interpreteer as sou die Gees as ’n selfstandige Persoon naas God optree. Die Gees lei vir Simson (Rig 13:25) en die Gees sal aan die Messias wysheid en insig gee, raad en krag, kennis en eerbied vir die Here (Jes 11:2). ’n Mens kan jou moeilik voorstel dat die Gees net die krag van God is, maar dan wysheid en raad en eerbied aan die Messias gee. Dit is dinge wat ’n persoon doen.

 

En derdens lyk dit hier en daar of die Gees net ’n ander benaming vir God self is (Ps 139:7 ev; Jes 40:13 ev). Natuurlik kan ons “in hindsight” sê dis nie vreemd nie dat daar wel in die Ou Testament uitsprake oor die Gees is wat beter verstaan kan word as die Gees ’n aparte Goddelike Persoon naas God (die Vader) is. Maar is dit nie eerder omdat ons alreeds vooraf uit die Nuwe Testament en die geskiedenis van die kerk hierdie oortuiging het nie? Waarom kom die Joodse teoloë nie op die gedagte van die Gees as ’n aparte goddelike Persoon naas die Vader nie? Daar is, sover ek weet, geen erkende Joodse teoloog wat die Ou Testament só lees nie. Sien ons dit nie maar net raak omdat ons vooraf daarvan oortuig is nie?

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...