Die weg van die Here is die weg van die woord

image_pdfimage_print

 

Christianity preaches the infinite worth of that which is seemingly worthless and the infinite worthlessness of that which is seemingly so valued – Bonhoeffer

Die weg van die Here is die weg van die woord

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Jesus Christus het ‘n hoë agting vir die Skrif. Hy ken dit en verwys gereeld daarna. Toe Hy reg aan die begin van sy bediening deur die duiwel in die woestyn versoek is, antwoord Hy hom deur uit die Skrif aan te haal. Sy sending was om die Skrif te vervul; nooit het Hy van die Skrif vergeet of dit geminag nie; nooit het Hy van die Skrif verskil nie. Hy glo aan die inspirasie van die Skrif – die hele Skrif. Hy erken die menslike outeurskap, maar getuig oor die uiteindelike Goddelike outeurskap van die Skrif.

 

Die Hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17).

In ‘n sekere sin hoef ons niks meer oor die Skrif te sê nie –as ons weet dit is deur God geïnspireer, is dit tog voldoende. Ons weet nou dat alles in die Bybel van God kom. Hoekom het ons nie hier begin nie?

  • Hierdie verse is betekenisvol, maar dit sê presies wat al die ander verse gesê het. Hierdie is ‘n bevestiging van: Wat die Skrif sê, sê God.
  • Hierdie vers beklemtoon voortsetting.. Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo (3:14). In vers 11 dink Paulus aan die mense wat hom vervolg het; in vers 13 dink hy aan goddelose mense en bedrieërs wat van kwaad tot erger gaan. En dan die teenstelling: Maar jy … (vers 14).

Paulus waarsku vir Timoteus om nie soos die goddelose mense en bedrieërs te wees nie. “Jy het grootgeword in die woord. Jou uitdaging is om aan te hou groei; hou vas aan die selfde geloof; hou aan in die regte rigting beweeg.” Dit beteken dat Timoteus naby aan God se woord moet bly: Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (vers 15).

Hierdie is goeie raad vir elke Christen, moenie afdwaal nie. Dit mag beteken dat ons vervolg sal word (vers 12).

Met alles wat ons van die Bybel weet, moet ons harte vol lof wees en ons moet reg wees vir optrede. Ons moet reg wees om voort te gaan – in die waarheid van sy woord en om alles te glo wat in sy woord bevestig word. In ‘n wêreld wat alles wat nuut is najaag, moet ons onthou dat God gister, vandag em môre dieselfde is. Aangesien Hy nie verander nie, verander sy waarheid ook nie. U woord is die waarheid (Johannes 17:17)

image_pdfimage_print

You may also like...