Apologetiek: Toegangsroetes (5)

image_pdfimage_print

 

Apologetiek: Toegangsroetes (5)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Vir postmoderne skrywers is beelde en nie woorde nie dié vorm van kommunikasie. Kyk maar na die advertensiewese. Meeste Christene gebruik woorde om te kommunikeer. Ons moet onthou dat beelde in hierdie moderne geslag spesiale gesag en mag het – meer as woorde.

 

Die menslike verstand werk deur beelde te genereer – beelde wat ons in staat stel om die wêreld om ons te “verstaan” en sin te maak daarvan. Dit help ons om die terrein van die werklikheid te karteer en ons plek hierin te identifiseer. Intellektuele sienings van die Christelike wêreldsiening kan maklik in beelde uitgedruk word wat die vermoë het om ons verbeelding aan te gryp. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde.

Plato (Republic) vra ons om ons in te dink in ‘n donker grot waarin mense sedert hulle geboorte geleef het – hulle ken geen ander wêreld nie. Aan die een kant van die grot brand ‘n groot vuur wat beide lig en warmte voorsien. Soos die vlamme helder brand gooi dit skaduwees op die rotswande. Die mense hou hierdie skaduwees dop en wonder wat dit kan beteken. Vir diegene wat in die grot woon is hierdie flikkerende skaduwees al wat hulle ken. Hulle begrip van die werklikheid is beperk tot dit wat hulle sien en ondervind in hulle donker tronk. As daar ‘n wêreld buite die grot is, is hulle onbewus daarvan – hulle kan hulle dit nie verbeel nie. Hulle horisonne is beperk en word deur die skaduwees bepaal. Net as hulle ‘n ander wêreld leer ken, sal hulle besef dat die grot in werklikheid ‘n tronk is.

Kan ons hierdie verhaal gebruik om die evangelie in vandag se wêreld te kommunikeer? Onthou jou enigste werklikheid is die grot. Vraag: Hoe sal die mense in die grot besef dat daar ‘n ander, beter wêreld buite die skemer grot is?

  • Iemand van die werklike wêreld buite kom in die grot in en vertel die grotbewonders van hierdie wêreld. Hierdie kom ooreen met ‘n Goddelike openbaring. Iemand kom van buite en vertel hulle van hierdie ander wêreld gebaseer op analogieë van die grot. Hulle mag selfs vir ons ‘n pad na buite wys. Dit herinner aan Jesus Christus se menswording – Hy kom die menslike wêreld in om vir ons te wys hoe dinge werklik is en ons in staat stel om uit die wêreld se bande uit te breek. Ons kry hierdie tema veral in die Johannes-evangelie: Die Woord van God het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien (1:14); Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het (6:51).
  • Die strukture van die grot self bevat leidrade van ‘n wêreld daar buite. Hierdie kom ooreen met argumente vir die bestaan van God gebou op leidrade in die struktuur van die wêreld. Daar mag tekens van die oorsprong van die grot of bewyse van ontwerpe of tekens van kompleksiteit wat fundamentele vrae na vore bring oor hoe dit daar gekom het.
  • Die grotbewoners het ‘n intuïsie dat daar ‘n beter wêreld as hulle grot is. Hierdie kom ooreen met argumente vir die bestaan van God gebou op menslike gevoelens. Dit mag ‘n oortuiging wees dat daar meer aan die wêreld is as net ‘n grot of ‘n intuïsie dat hulle vir ‘n ander plek bestem was. Dit mag ‘n begeerte wees na iets wat nooit bevredig word nie.

Volgende keer kyk ons na Paulus se gebruik van beelde.

image_pdfimage_print

You may also like...