Argeologie: Vestingwerke(1)

image_pdfimage_print

Argeologie: Vestingwerke(1) – Daan Pienaar

In die OT lees ons heelwat van oorloë en vestingstede. Argeologiese vondste brei ons kennis verder uit. ʼn Bekende verhaal is die inname van Jerigo deur Josua. Vandag kyk ons na Jerigo.

In die historiese gedeeltes van die Ou Testament is daar heelwat gegewens wat die tydgenootlike militêre konstruksies soos vestings, vestingwerke, garnisoene ens. toelig.  Heelwat van hierdie inligting is verder toegelig deur die argeologiese vondste.  Die Kanaänitiese  oorblyfsels van die Middelbronstydperk met sy massiewe verdedigingswerke het waarskynlik steeds ʼn rol gespeel in die Laatbronstydperk.  Die Middelbronstydperk word gekenmerk deur sy besonder goeie vestingwerke terwyl die Laatbronstydperk op sy beurt deur ʼn hoogsontwikkelde kultuurlewe met baie min vestingwerke gekenmerk word.  Daar is vakkundiges wat van mening is dat die Middelbronsvestingwerke steeds in gebruik was tydens die Laatbronstydperk.  Jerigo word dan as voorbeeld hiervoor genoem.

JERIGO

Opgrawings by Jerigo het nog geensins antwoorde verskaf oor die inname van die stad deur Josua nie. 

Die Hebreeuse teks van Josua vertel dat die Israeliete om die stad getrek het en uiteindelik het die mure geval.  Die LXX (Septuagint) skets op sy beurt ʼn ander prentjie van mense wat die stad omsingel het en so van die buitewêreld afgesny het.  Ons kan tot dusver op grond hiervan nie ʼn duidelike beeld van die inname van Jerigo skep nie.

Wat wel by Jerigo gevind is, is die Middelbrons mure met ʼn gepleisterde helling (“glaci”) van vasgestampte grond en ʼn steenmuur daar bo-op.  Met verloop van tyd is daar twee ander hellings bygevoeg – dit wil sê bo-oor die eerste helling.  Die laaste een is van klip en is in ongeveer 1750 gebou en in 1550 V.C. vernietig.  Die stad is weer bewoon, maar daar is tot dusver geen mure gevind wat van Josua se inname getuig nie.

Die vernietiging van die laat Kanaänitiese stad word in die dertiende eeu V.C. geplaas.

Hoe ons dit moet verstaan, is nie duidelik nie.  Sommige vakkundiges (Y.Yadin) is van mening dat die inwoners nog steeds die Middelbrons mure gebruik het terwyl andere beweer dat die Laatbrons mure eenvoudig wegge-erodeer het aangesien daar heelwat stortreëns in die gebied val.

 

v01

Dwarssnit van die Middelbrons mure by Jerigo 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 

image_pdfimage_print

You may also like...