Bekering

image_pdfimage_print

 

I am glad you feel you are ‘standing still’ in your spiritual life. I should be still better pleased if you felt you were losing ground! Whatever makes for humility is so much to the good.” John Chapman

 

Bekering

Bekering is ‘n belangrike komponent van die evangelie en die Christelike lewe. Johannes die Doper se boodskap was: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Markus 1:4). Jesus begin sy openbare bediening met hierdie woorde: Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15).

 

Thomas Watson (1620 – 1686) sê: Repentance is a grace of God’s Spirit whereby a sinner is inwardly humbled and visibly reformed. Hy identifiseer ses bestandele wat noodsaaklik vir ware bekering is.

  1. Besef van sonde. Die mens sien duidelik dat sy leefwyse sondig is: Toe kom hy (die verlore seun) tot inkeer (Lukas 15:17). As ‘n mens nie sy sonde raaksien nie, is hy baie selde gemotiveerd om hom te bekeer.
  2. Ware berou oor sonde. Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my (Psalm 38:19). Ons moet die spykers van die kruis in ons siel voel as ons sondig. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei (2 Korintiërs 7:10). Hierdie is nie ‘n wêreldse hartseer nie. Ons sal dit duidelik sien uit die optrede wat dit tot gevolg het.
  3. Belydenis van sonde. Die nederige sondaar spreek vrywillig ‘n oordeel oor homself uit. Hulle erken opreg hulle spesifieke sondes. In die Skrif kry ons ten minste sewe voordele van sondebelydenis:
  • Belydenis van sonde vereer God. Josua sê vir Akan: My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom (Josua 7:19)
  • Belydenis van sonde is ‘n manier om die siel nederig te hou. Asarja probeer keer dat die koning, Ussia, wierookoffers bring – iets wat net die priester mag doen. Ussia word briesend. Met die wierookpan is sy hand, gereed om die offer te bring: Maar terwyl hy teen die priesters uitvaar, breek daar melaatsheid op sy voorkop uit (2 Kronieke 26:19)
  • Belydenis van sonde gee verligting aan ‘n hart wat bekommerd is. Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie (Psalm 51:12 – 13)
  • Belydenis van sonde suiwer ons van sonde.
  • Belydenis van sonde maak Christus vir die siel wat versoening nodig het, bemind.
  • Belydenis van sonde maak plek vir vergifnis. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9)
  • Belydenis van sonde maak plek vir genade. Wie sy sonde wegsteek, moet niks goed te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spreuke 28:13).
  1. Skaam vir sonde is ‘n bestandeel van ware bekering. Esra bid: My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog (Esra 9:6). Die verlore seun was so skaam vir sy sonde dat hy gevoel het dat hy nie verdien om nog seun te wees nie (Lukas 15:21). Sonde maak ons nakend voor God – misvormd in sy oë.
  2. Haat vir die sonde. Hoe meer ons vir Jesus liefhet, hoe meer haat ons die sonde. Bekering begin met die liefde vir God en eindig met die haat vir sonde. Om sonde te verdra, is die begin van sonde doen.
  3. Draai jou rug op sonde en keer terug na die Here. Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! (Joël 2:12). Dit impliseer ‘n verandering. Dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas (Handelinge 26:20). Esegiël skryf hierdie  woorde van God aan Israel: Bekeer julle! Laat staan julle afgode! Hou op met julle afskuwelike dade! (14:6).

 

Bekering beteken ook dat ek my volledig op God rig en in Jesus glo. Bekering se basis is dat ek die sonde haat en dat ek met blydskap bewus word van God se liefde en goedheid wat tot blydskap lei. Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot  bekering wil lei nie (Romeine 2:4). Ons verheug ons daarin dat Christus alles wat ons nodig het vir ons verlossing vir ons gedoen het.

 

 

 

image_pdfimage_print