God regeer?(2)

image_pdfimage_print

God regeer – Deel 2

Daniël ontvang die uitleg in Daniël 2, in ‘n nagtelike visioen.  Hy prys die God van die hemel hiervoor: lees gerus Daniël 2:20-23.  In sy loflied vertel hy waarom die droom gaan.

Dis ons God wat tye en geleenthede verander, en wat dit bepaal.  Hy dank konings af en stel konings aan…Hy openbaar wat diep verborge in die donker skoot van die toekoms rus.

Dan gaan vertel hy ook vir die koning die droom, sowel as die uitleg: “U Majesteit, toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in toekoms gaan gebeur.” Ons droom ook mos dikwels oor die dinge wat ons pla, waaroor ons bekommerd is, waaroor ons wakker lê terwyl ons wag vir die salige slaap om ons weg te neem uit die harde werklikheid van ons daaglikse lewe.

Hier staan ‘n nuwe Josef en verduidelik aan die Babiloniese koning dat hy in sy droom ‘n beeld  gesien het, van vier soorte metale: die kop van die beeld is van goud, die skouers en arms van silwer, die maag en heupe van brons, die bene van yster, en die voete van yster en klei. Dan gebeur iets vreemds – die koning sien in sy droom ‘n rots wat losbreek sonder dat die hand van ‘n mens daaraan raak, en dit vermorsel die beeld sodat niks daarvan oorbly nie.

Dit, sê Daniël, is wat die toekoms inhou: daar sal vier koninkryke wees wat mekaar opvolg, om aan die einde van tyd deur God tot verantwoording geroep te word, en vernietig te word.

Daniël wil sê: die heidense ryke is magtig, en sal kom en gaan – dit is deel van die verloop van die wêreld.  Gelowiges sal dikwels ly onder dié magte, soos tans gebeur.  Maar God se koninkryk sal na alles bly staan, en uiteindelik die toneel oorheers.

As aardse konings en koninkryke aan hul einde kom, sal die God van die hemel ‘n regering oprig wat nooit weer vernietig sal kan word nie.  Dit sal ook nooit weer deur ‘n ander vervang word, soos altyd met aardse koninkryke gebeur nie.  Dit sal alle ander, aardse koninkryke plat trap en vernietig, maar niks sal dit kan vernietig nie, want dit is God se koninkryk – Daniël 2:44.

En die verhaal word so vertel dat dit alle heidense wysheid belaglik maak, en die heidendom as bankrot voorstel.

 

Ons leef in die dag dat eksistensialisme vir ons beduie dat ons bestaan slegs in die huidige en hede lê.  Ons het ewig besig begin raak met die tydlose hede.

Die visioen van hoofstuk 2 wil ons oë vir die toekoms open.  Dit wil duidelik en hard sê dat heil nie aan die wêreld verbind word nie.  Die mens se hoop sterk verder en verby wat hy kan sien.

Dit lyk vir my of die droom en sy uitleg drie dinge wil sê – vir mense in ‘n oorlewingskrisis is dit waarskynlik die beste nuus wat hulle ooit kan hoor!  Dit wil vir mense wat perspektief verloor het, nuwe perspektiewe oopbreek.  Dit wil sê: jy mag maar hoop – daar is ‘n toekoms!  ‘n Wonderlike toekoms!   En om dit reg te kry, om dit kan sê, word die gordyn effe gelig sodat ‘n mens die eintlike bestuur van die heelal kan sien, en kan antwoord op die vrae: wie trek regtig die toutjies, wie besluit eintlik wat gebeur?

Daniël 2 sê drie dinge.  In die eerste plek: ons God stel konings aan, en dank hulle af – die tye en omstandighede van ons wêreld word deur Hom bepaal. Baie Westerse mense deel ‘n deïstiese lewensbeskouing, wat sê dat God wel bestaan en Skepper van alles is, maar dat sake op aarde volgens hul eie inherente kragte en wette verloop. Ons wêreld is soos ‘n horlosie wat opgewen is, en toe laat staan is.  Dit gaan op eie stoom voort.  En God het geen belang by die voortgang daarvan nie. Die boodskap wat Daniël bring, is: ons God is ‘n persoonlike God, wat in mense en hul omstandighede belang stel.  Hy is die Horlosie wat die wêreld op sy gang deur die eeue bestuur.

Ons dag word nie gekenmerk deur ‘n regering wat ons verbied om ons godsdiens te beoefen nie.  Tog is daar magte wat ons wil verlei om ons geloof te versaak.  Dit kan huislike, sosiale, besigheids-, finansiële en selfs kerklike belange wees wat ons van die Here wegneem. Ons mag egter steeds weet: die Here bly in beheer.  Die gebeure in ons wêreld, ook ons eie, persoonlike wêreld, betrap Hom nooit onkant nie.  Die derde millenium behoort aan onse God!

Dit is so maklik om ons blind te staar teen die geweld en korrupsie, die finansiële probleme en misdaad wat ons bestaan kenmerk.  Is dit nie die sake waaroor ons aanhoudend praat, en waaraan ons dink nie?  En as teenvoeter vir die negatiewe, koop ons versekeringspolisse en beleggings, effektetrusts en verbandlenings.  Dit kan daartoe aanleiding gee dat God soek raak, dat ons Hom nie in ons daaglikse lewe kan verdiskonteer nie.  Daniël 2 wou die Jood help om ‘n teologiese perspektief op sy dag te ontwikkel – God is hier, en Hy is in beheer.  Net so wil dit óns leer om Hom ook in óns lewe raak te sien.

In die tweede plek wil die tweede hoofstuk sê: die Here weet wat in die duister is. Hy hou die toekoms in sy hand.  Niks is vir Hom verborge nie.  Aardse magte is relatief in terme van die ewige wat verseker op pad is.  Al probeer ons wêreld God dood ignoreer, bly Hy die Koning wat die toekoms in sy hand hou.

En in die derde plek wil Daniël 2 sê: Hy rig ‘n koninkryk op wat vir ewig sal bestaan. Dit wil ons leer om op twee vlakke waar te neem en te bestaan: op ‘n analities-wetenskaplike waar ons ons aandag op ons wêreld en die verbetering daarvan rig, maar ook op ‘n geloofsvlak waar ons die verleiding van sekularisme vermy deur God in ons daaglikse lewe in te dra.  Ons word vry om vir die hede te leef wanneer ons onthou dat ons ín die wêreld, maar nie ván die wêreld is nie.

Perspektiefblindheid wil dat ons die almag en alheerskappy van God in ons daaglikse wêreld miskyk, terwyl die wêreld se oënskynlike mag ons oë verblind.  As gelowiges het ons die voorreg om te leef asof die almagtige God saam met ons is, omdat Hy in Christus Immanuel geword het.

In die onsekerheid aan die begin van die derde millenium, mag Christene dit bely: ons God gee die mag en heerskappy en krag aan wie Hy wil, vir solank Hy wil.  Maar aan die einde van die dag sal alle mag weer na Hom terugkom, en sal almal voor Hom staan.  En as gelowige mense lewe ons met die oog op daardie dag, die dag wanneer sy ewige koninkryk aanbreek – daarop is ons hoop geplaas.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 

image_pdfimage_print

You may also like...