Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (2)

image_pdfimage_print

 

If I want to love God more, I have to know Him more deeply. The more I search the Scriptures and focus my mind’s attention on who God is and what He does, the more my soul breaks out in flames –R.C. Sproul

 

Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Eksodus 5:1 – 7:5)

Ons kom nou by God se derde belofte aan Moses.

 

  • God verlos (6:6 – 7:5).

In hierdie gedeelte kry ons ‘n hele aantal Ek sal … stellings. Kom ons kyk na vyf sulke stellings:

  • Verlossing

Ek sal julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. Ek sal julle van die verknegting verlos, Ek sal julle vry maak met mag en met groot reddingsdade (6:6). God gaan hulle deur Moses van hulle slawebande verlos. Dit gebeur deur genade; dit is nie iets wat Israel verdien het nie. Die doel hiervan is dat hulle die almagtige God kan dien. Ons kry hierdie waarheid ook in die Nuwe Testament. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring (Galasiërs 1:3 – 4). God verlos ons van ons geestelike slawerny en ons onvermoë om die wet te onderhou. Dit gebeur net deur genade in geloof. Die doel van ons vrylating is ook aanbidding. Slegs as ons vry is, kan ons God waarlik aanbid.

 

In ‘n sekere sin het dit reeds gebeur, maar ons kyk ook vooruit na wanneer Jesus ons vir altyd sal vrymaak van hierdie wêreld. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Ons wag angstig op die finale verlossing.

 

  • Vrylating

Ek sal julle vry maak met mag en met Goot reddingsdade (6:5). God kom om sy mense vry te koop. Sy familie – sy volk – was slawe en Hy kom om hulle te verdedig, vir hulle in te tree en hulle vry te maak. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur … van sy geboorte was Hy aan die wet onderworpe om ons wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kan word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: “Vader!” Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak (Galasiërs 4:4 – 7). God het in ons swaarkry ingegryp; Hy het ingegryp om ons van ons groot skuld vry te maak. Hy doen dit deur die dood van sy eie Seun. As Jesus weer kom om ons finaal vry te laat, sal ons probleme wat ons hier ondervind na niks lyk nie.

 

  • Aanneming

Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry het (6:6). Hier sien ons God se oneindige liefde. God het ons vrygelaat en verlos. Maar Hy het ons ook as deel van sy familie aangeneem. Wat ‘n wonderlike voorreg. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (1 Johannes 3:1). Dit is God wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon (Psalm 103:4). God het ons uit die graf van sonde gered en ons deel van sy familie gemaak.

 

  • Erfgename

 Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met ‘n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom. Ek is die Here (6:7). Hierdie is ‘n belofte wat God oorspronklik aan Abraham gemaak het. Hierdie mense het niks gehad nie – hulle was slawe in Egipte. Nou gee God aan hulle ‘n erfenis – die beloofde land. Hulle het dit nie verdien nie – dit is alles uit genade. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die Hemel ook vir julle in bewaring gehou word (1 Petrus 1:4). Ons is seker van hierdie erfenis.

 

Ten spyte van hierdie beloftes sukkel Moses en die Israeliete om te glo: Maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie (6:8). Die stryd om oorlewing is vir baie mense net te veel. God beveel Moses om terug te gaan na die farao. Moses se reaksie was een van ongeloof en wanhoop – hoe sal die farao nou na hom luister as die Israeliete dit nie wou doen nie. God beveel hom egter om te luister en te gehoorsaam. Dit bring ons dan by die vyfde belofte:

  • Oordeel en genade

Maar Ek sal die farao hardkoppig maak … maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar (7:3 – 4). God herinner vir Moses wie in beheer is. Farao het geglo dat hy ‘n god was, maar hier sit God hom op sy plek. God gaan Egipte oordeel. Hoekom doen Hy dit?  Sodat hulle kan besef dat Hy die Here is. Ons herken God deur sy barmhartigheid in sy verlossing, maar ook deur sy toorn in sy oordeel te ondervind.

 

God wag vir diegene wat Hom nie ken nie. Vertrou op Hom as die Verlosser. Glo in die God wat in sy genade sondaars vrylaat, verlos, aanneem en belowe dat hulle sy erfgename sal wees. Ons moenie soos farao ons harte verhard nie. Ons moet die evangelie hoor en glo. Ons moet in Christus vertrou.

 

 

image_pdfimage_print