Bevry deur genade (2)

image_pdfimage_print

When we cease to worship God, we do not worship nothing. We worship anything. —G.K.Chesterton

Bevry deur genade (2)

In die vorige blog het ons wettisisme gedefinieer. Ons kyk nou na hoe ons wettisisme kan vernietig

 

Wettisisme vernietig

In Galasiërs 1 kry ons twee fundamentele waarhede wat wettisisme vernietig – die evangelie is gratis en die evangelie bevry.

 

  • Die evangelie is gratis

Genade en vrede vir julle. Dit kry ons reeds in die derde vers van die brief. Hy eindig die brief met: Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen. Die woord genade kry ons gereeld in hierdie brief. Van die begin van die brief leer ons dat God se guns verniet is. Sy verlossing is verniet. Sy liefde en genade en barmhartigheid is verniet. Dit is nie as gevolg van ons prestasies nie, maar op grond van wat Jesus Christus vir ons gedoen het.

 

God die Vader het ons verlossing geïnisieer. Genade en vrede vir julle van God ons Vader … Genade is van God; die evangelie is van God. Dit is God se wil dat sy mense sy genade moet ken. Paulus beskryf sy lewe voor sy bekering in Galasiërs 1:13 – 14. Dit gaan net oor ek en my. Maar dan verander hy: Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie van Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg nie (1:15). God het hom afgesonder; God het hom geroep; God het hom gered deur sy Seun aan hom te openbaar. Hoekom? Genade. God bewys genade aan ons.

 

Paulus het nie genade verdien nie – hy het nie eers daarvoor gevra nie. Genade kry ons. Dit hang nie van jou soeke na Hom af nie, maar sy soeke na jou. Hoe is dit moontlik? Hierdie evangelie is nie die werk van mense nie. Paulus het dit nie by ander mense geleer nie, maar direk van Christus. Die evangelie word deur God geopenbaar – niks mensgemaak daaraan nie.

 

God die Seun het ons verlossing bewerkstellig. Genade en vrede kom ook van die Here Jesus Christus. God en sy Seun word beide geïdentifiseer in die verlossingswerk. Die Seun is die Een wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld.

 

Hierdie is die kernwaarheid van die evangelie: verlossing gaan nie oor wat die mens kan doen nie, verlossing gaan oor wat Christus reeds gedoen het – Hy het alles wat nodig is reeds vir ons verlossing gedoen. Hy het ons sondeskuld volledig betaal. Die enigste manier waarop ons voor God aanvaarbaar kan wees, is deur Jesus Christus.

 

Die gemeentes in Galasië het nie die betekenis van Christus se dood raakgesien nie – hulle voeg ander vereistes by. Daarom sê Paulus dat hulle die evangelie verdraai en die mense verwar. Ons moet nie vergeet dat wat die Judaïseerders geleer het volgens die Bybel was nie. Hulle erken Jesus as die Messias – hulle erken selfs sy kruisdood. Hulle sê dat hulle alles wat ander Christene glo ook glo. Hulle sê nie dat hulle die evangelie ontken nie … hulle verbeter dit net. Hulle voeg vereistes en standaarde van die ou verbond by die nuwe verbond. Die werklikheid is dat as jy iets by genade byvoeg jy genade verloor. Daar is geen middeweg nie.

 

As ons peuter met die evangelie of iets byvoeg, verloor jy die hele evangelie. Die Bybel sê nie vir ons wat ons moet doen om God tevrede te stel nie; die Bybel sê vir ons dat God tevrede met ons is alleenlik oor wat Jesus Christus in sy dood en opstanding gedoen het en ons identifisering met Hom. Ons het Christus nodig. Punt.

 

Ons goeie werke is die gevolg van Christus se werk in jou – sy krag en sy teenwoordigheid in jou. Een van die besware wat ons dikwels hoor, is: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem (Romeine 6:1). Natuurlik sal daar mense wees wat genade misbruik, wat dink dat dit ‘n lisensie is om te leef net soos hulle wil. Dit is nie waar nie. Genade is nie goedkoop nie – die koste van genade is die kruis waar Jesus sy lewe vir ons sondes gegee het. Maar genade verander ook ons lewens.

 

Maar genade maak ook vry – daarna kyk ons volgende keer.

 

 

 

image_pdfimage_print