Die Handelinge van die Apostels: Genesing van die verlamde (Hand 3:1-10) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die volgende episode is die genesing van die verlamde man, wat die gedeelte tot Handelinge 4:22 inlei. Dit gaan eers oor sy genesing (3:1-10); dan oor Petrus se boodskap aan die mense in die tempel oor die genesing (3:11-26); en dan oor Petrus en Johannes se verskyning voor die Sanhedrin oor hulle verkondiging oor Jesus se opstanding uit die dood en dat Hy die verlamde genees het (4:1-22). Dié hele verhaal vorm die basis vir die volgende deel 4:23-31 oor die rol van gebed in die lewe van die gemeente.

3:1 Op die negende uur (na sonop, nl. 15:00), die Jode se uur van gebed, het die twee apostels, Petrus en Johannes, na die tempel opgegaan (hieron verwys na die tempelkompleks en nie na die sentrale heiligdom, naos, waar slegs priesters ingegaan het nie).  

3:2 ’n Man, wat van voor sy geboorte af verlam is, en gedra moes word, is daagliks by die tempelpoort, bekend as Mooi Poort, neergesit om van die mense wat die tempelterrein binnegaan ’n aalmoes te vra.  Die Mooi Poort is waarskynlik die poort tussen die voorhof van die vroue met 15 trappies na die voorhof van die Israeliete. Terwyl die ander binnepoorte met goud oorgetrek was, was dié een van glinsterende korinthiese koper gebou, wat geskenk was deur ‘n Alexandrynse Jood Nikanor, en ook die Nikanorpoort of Korinthiese Poort genoem is. Om aalmoese te gee was beskou as ’n verdienstelike goeie werk. Van die offergawekiste vir vrywillige offers het juis in die voorhof van die vroue gestaan voor jy die voorhof van die Israeliete ingegaan het. ‘Van voor sy geboorte af’ – letterlik ‘van sy moeder se skoot af’ moes hy gedra word.

3:3  Twee van die twaalf dissipels wat Jesus uitgekies en apostels genoem het (Luk 6:13), Petrus die segsman, en Johannes, wil deur die Mooi Poort die voorhof van die Israeliete binnegaan vir die daaglikse gebed om 3nm. Die lam man sien hulle is op die punt om in te gaan, vra om van hulle ’n aalmoes te ontvang, en kry ’n verrassende gawe.

3:4 Soos hulle stip na Jesus gekyk het met sy hemelvaart (1:10), staar hulle nou stip (atenizō) na die lam man – volgens Mattheus 25:40 sal Jesus eendag as Regter sê: ‘Wat julle ookal vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’ Petrus sê vir die lam man: ‘Kyk na ons!’ – blepō let fyn op; gereed om te luister en te reageer op die mag van die woord wat hulle gaan sê. Daarmee word hy losgemaak uit sy gewone dubbelslagtige aanvaarding dat enkeles iets sal gee en ander verbystap, en word die verwagting geskep van ’n positiewe reaksie op sy bedel om ’n aalmoes.

3:5 ‘Hy het toe sy aandag op hulle gevestig (epechō) met die verwagting om iets van hulle te ontvang’ – hy weet egter nie wat of hoeveel dit sal wees nie, maar dink in terme van geld.

3:6 Petrus stel sy verwagting teleur: ‘Silwer en goud het ek nie;’ maar stel iets baie beters voor: ‘Wat ek egter het, dit gee ek vir jou: “In die Naam (namens) Jesus Christus (die verwagte Messias) van Nasaret, [staan op en] loop (rond)’- Petrus is slegs die mondstuk van Jesus wat eintlik die man genees, soos Hy tydens sy aardse lewe gedoen het (Mark 2:11; Luk 7:22) en nou daarmee voortgaan deur die woord van sy gevolmagtigde gesant. Dit is die bewys dat Jesus die verwagte Verlosser Messias van Israel is. Maar Hy is ’n ander soort Verlosser as wat hulle verwag het. Hy het van die klein dorpie Nasaret gekom as ’n nederige dienskneg van die mensdom. Die uitdrukking ‘staan op en’ is in die vyfde eeu ingevoeg in die oorspronklike teks, maar word veronderstel in die enkele opdrag ‘loop! (rond)’ (peripateō).

3:7 ‘En terwyl hy (Petrus) hom stewig aan die regterhand gevat het, het hy hom opgehelp; en onmiddellik is sy voete en sy enkels (deur die Here) sterk gemaak’ – die passiewe werkwoord estereōthêsan impliseer dat die Here sy voete en enkels onmiddellik sterk gemaak het op Petrus se enkele woord ‘loop!’ 

3:8 Lukas beskryf die jubelende man met ’n stortvloed van woorde: Hy het van die grond af opgespring, op sy voete gaan staan, rondgestap, saam met hulle (twee) die tempel ingegaan al lopende en springende in die lug van vreugde terwyl hy God prys (aineō) – so het die hemelse menigte aan die begin van Lukas se Evangelie ook God geloof (aineō, 2:13). Sy eerste reaksie op sy wondergenesing is om God in die tempel te gaan loof saam met die Here se twee verteenwoordigers wat die magswoord van Jesus uitgespreek het.So word Jes 35:6 vervul: lammes sal soos takbokke kan rondspring. So het Miriam en al die vroue tamboeryne gevat en dansend die Here geloof vir hulle redding uit Egipte en deur die Rietsee (Eks 15:20-21), so het Dawid al dansende die ark Jerusalem ingebring (2 Sam 6:14) en word die Psalmboek afgesluit met Ps 149:3 en 150:4 se jubeling. 3:9-10 Die hele volk het hom sien loop en God prys. Op die uur van gebed is daar baie mense by die tempel. Hulle het so pas by hom verbygestap op pad tempel toe, sommige het moontlik nog vir hom ’n aalmoes gegee. En hier dans ‘n man skielik voor hulle, wat hulle begin herken as die lam man wat al jare lank sit en bedel voor die tempel se Skone Poort (vgl. 4:22) en hy loof God uit dankbaarheid vir sy genesing. Die volk reageer met verwondering en verbasing oor die duidelike wonder van God – ‘verwondering (thambos) oor die skielikheid en ongewone van die verskynsel; ‘verbasing’ (ekstasis intense verbasing, buite jouself van verbasing). Deur die ontmoeting met die wonderkrag van God word die mens uit sy gewone denke uitgeruk. Uit die wondergenesing is dit duidelik dat Jesus sy werk op aarde voortsit deur sy gesante. Die gebeure vorm die aanleiding tot die volgende rede van Petrus, wat aan die verbaasde mense in die tempel gerig word.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...