Bid vir almal

image_pdfimage_print

You are never too old to dream a new dream – C. S. Lewis

 

Bid vir almal

Paulus praat in 1 Timoteus 2 oor openbare aanbidding. Die gemeente is omring deur mense wat niks van die verlossing van mense deur Jesus Christus weet nie. As niks verander nie, is hulle eindbestemming die ewige hel. Wat moet jy as kind van God doen? Bid. Paulus gebruik vier verskillende woorde in vers 1 wat almal met gebed te doen het: smeking, voorbidding, danksegging. In die direkte vertaling kry ons ook voorbedes. (Die KJV praat van supplications, prayers, intercessions and giving of thanks.) Wat belangrik is, is dat Paulus gebed beklemtoon.

 

Vir wie moet ons bid?

  • Vir alle mense. Dit gaan hier vir alle soorte mense – jy kan tog nie vir elke mens in die wêreld bid nie. In Efese beteken dit dat die gemeente vir die Jode en die heidene moet bid. Ons mag nie ons gebede tot ’n klein groepie beperk nie. Gebed is nie ‘n nasionalistiese of rassistiese of selektiewe praktyk nie.
  • Vir dié wat regeer en almal wat gesag uitoefen.  Paulus noem hulle spesifiek. Ons moet onthou dat Nero op daardie stadium die keiser was. Tog vra Paulus dat die gemeente vir hierdie heidense regeerders moet bid. Bid vir die regeerder onder wie jy swaarkry; bid vir die regeerder met wie jy verskil; bid vir die regeerder van wie jy nie hou nie. Dit is God se wil. Ons kan nie net na die nuus kyk en gefrustreerd met ons leiers word nie – bid vir hulle.

 

Waarvoor moet ons bid? Bid vir die leiers sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. Een doel van Paulus se gebed is vrede te midde van vervolging. Ons bid vir vrede sodat die kerk kan groei en die evangelie vryelik verkondig kan word. Natuurlik kan die kerk te midde van vervolging groei, maar as daar vrede is, kan Christene en gemeentes vryelik die roeping van Christus uitleef – hulle kan so lewe dat almal dit kan sien. Ons moet ook vir ons broers en susters bid wat in lande leef waar Christene vervolg word. Bid dat deure sal oopgaan vir die vreedsame verkondiging van die evangelie.

 

Maar daar is ook ’n tweede doel met ons gebede. Ons bid dat heersers, leiers en selfs vervolgers gered word en tot kennis van die waarheid kom. Chrisostomus het gesê dat dit baie moeilik is om iemand te haat as jy vir hom bid.

 

Paulus sê dus vir die kerk: die eerste en belangrikste ding wat julle moet doen, is om te bid. Die gevolgtrekking is dat die vooruitgang van die evangelie in die wêreld afhanklik is van die gebede van God se kinders. Verlossing is God se werk – selfs ons gebede is die gevolg van sy werk in ons. Tog gebruik God die gebede van sy kinders om sy wil te bereik. Ons is omring deur mense wat Hom nie ken nie. Ons is op ‘n lewensreddende sending – bid vir hulle. Sien hulle raak.

 

image_pdfimage_print