Christen met ‘n voorwaarde – Hermie Zyl

image_pdfimage_print

Danie vra:
So baie keer loop jy mense raak wat sê hy is ʼn Christen, maar later sê hy vir jou dat hy het sekere voorwaardes waarvolgens hy sy Christenskap uitleef. Ek noem hierdie mense die “maar, jy moet net onthou”-Christene. Hoe moet ek sulke standpunte aanspreek? Is dit dat mense wat so redeneer nie in ʼn lewende verhouding met God staan nie? In my klein omgewing vind ek meer en meer mense wat kerkgangers is en nie dissipels van Jesus is of wil wees nie. Hulle hoor Sondag vir Sondag die Boodskap, maar dit wil vir my voorkom dat die Jesus wat ons verkondig nie neerslag vind nie. Alhoewel ʼn dag 24 uur het, is daar na my mening meer en meer mense wat nie tyd vir God het nie! Verder, meer en meer mense is Sondag-Christene! Jy moet nie iets reël vir in die week nie, dan hoor jy verskonings op verskonings: “ek moet eers my broer gaan begrawe”. Graag verneem ek van julle uitstekende “bronne” van inligting oor hierdie onderwerp.

 

Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord
Ek dink die essensie van die saak wat die vraagsteller aanraak, is dat almal van ons wat bely dat ons Christene is, sukkel om in volle oorgawe aan Christus te leef. Dit raak ons almal, nie net dié wat konstant verskonings uitdink wanneer op hulle knoppie gedruk word nie.

Hierdie saak kom reeds voor in die tyd toe Jesus op aarde was. Vir party wat hulleself aanbied as volgelinge, sê Jesus: “Onthou, Ek het nie ‘n vaste woning nie” (Luk 9:57). Ander vir wie Jesus uitnooi om Hom te volg, het weer allerlei verskonings: “Ek moet eers my pa gaan begrawe” (9:59); of: “Laat ek net eers my familie gaan groet” (9:61). Vir almal stel Jesus die eis dat wanneer dinge op die spits gedryf word, die koninkryk van God voorrang moet geniet.

Ook vir die ryk jongman, wat graag die ewige lewe (= koninkryk) wou verkry, het Jesus gesê om alles op te gee en Hom te volg (Mark 10:21). Waarop die man bedroef weggaan omdat dit darem te veel gevra is.

Ons het maar almal die gevoel dat die vereistes vir navolgingskap van Christus, d w s om sy dissipel te wees, darem net te streng is. Die dwarslat word te hoog gestel, ons kom nie daaroor nie. En wat het dan geword van Jesus se uitnodiging: “Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee?” (Matt 11:28). Is hier nie ‘n ingeboude teenstrydigheid nie? Dit lyk of Jesus enersyds wil rus gee, maar andersyds lyk dit net na ‘n manier om ‘n mens nader te lok, en as Hy jou eers het, dan moet jy dit “ontgeld”. Dit lyk so maklik om Christen te word – jy moet net kom, jy moet net glo – maar as jy dit eers is, dan begin die “moeilikheid”: daar word van jou verwag om alles wat vir jou belangrik, lief en dierbaar is, prys te gee.

Ons het hier te doen met ‘n saak wat regdeur die Nuwe Testament voorkom: enersyds die feit dat die verhouding met God gebou is op liefde, aanvaarding, genade en vergiffenis van sonde. Ons hoef ons nie eers blink te vryf vir God nie. Hy vat ons net soos is. Die evangelie gaan oor die regverdiging van sondaars, nie van goeie, gawe, ordentlike mense nie. Selfs die moordenaar aan die kruis het dit gemaak.

Maar andersyds lós God ons nie soos ons is nie. Vir die vrou wat in owerspel betrap is en volgens die wet van Moses gestenig moes word, sê Jesus: “Gaan, Ek veroordeel jou nie” (Joh 8:11). Hy spreek haar vry, Hy verklaar haar regverdig. Maar sy vryspraak is nie ‘n vrypas om voort te gaan met haar ou lewe nie. Nee, Hy roep haar tot ‘n nuwe lewe, want Hy voeg by: “en moenie meer sonde doen nie”. Dis by hierdie laaste moment dat die navolging van Christus begin. Nou volg daar ‘n lewenslange leerskool as dissipel van Jesus. En dis nie asof Jesus jou gaan laat “les opsê” as jy dit nie honderd persent regkry nie. Dissipelskap is eerder ‘n uitnodiging om jou voet op die pad van geregtigheid te plaas en te kyk waarheen dit jou lei. Sommige loop hierdie pad met groot oorgawe; ander is huiwerig, halfhartig, val terug, kry swaar met die lewe en die sonde. Dis nie vir ons om te sê wie is beter Christene as ander nie, wie is ware volgelinge en wie is huigelaars nie. Gód sal daaroor oordeel. Ons is wel geroepe om mekaar aan te moedig en te help om weer op te staan as daar gestruikel word. Gal 6:1 sê nie verniet nie dat ons iemand in ‘n gees van sagmoedigheid moet reghelp as hy/sy in sonde geval het. Dis altyd beter om die dwarstrekkers en agterossies met goeie voorbeelde te trek as om met ‘n lat te dreig. Ons het nodig om voortdurend opgewek te word om ons status as volgelinge van Jesus ernstig te neem, om te wees wie en wat ons bely dat ons is. Dít is ons lewensroeping wat sal duur tot wanneer ons die kop neerlê, en waarmee die Heilige Gees ons met sy krag bystaan.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...