Wêreldsiening: Is daar ‘n God?

image_pdfimage_print

Head knowledge will never bring us to heaven (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Is daar ‘n God?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Hierdie is seker die belangrikste vraag om te vra, want dit is ‘n belangrike vurk in die pad as ons van wêreldsienings praat. Hoe jy hierdie vraag antwoord, het geweldige implikasies vir hoe jy jouself verstaan, jou verhouding met ander mense en jou plek in die heelal. Baie mense leef asof hierdie vraag nie werklik saak maak nie. Dit is ‘n baie groot fout.

Wat bedoel ons as ons sê God. Mense het verskillende sienings oor God. Kom ons begin voor: is daar ‘n Opperwese wat ons aanbidding verdien en sin, doel en rigting aan die mens en die heelal gee?

 

Baie mense glo dat daar ten minste een goddelike wese is. Daar is verskillende wêreldsienings binne die kategorie van teïsme. [Teïsme = Geloof aan die bestaan van een God, wat Skepper en Bestuurder van die heelal is.] Die verskillende sienings is belangrik. Teïstiese sienings glo daar is ‘n objektiewe verskil tussen goed en kwaad. Goedheid is in wese goddelikheid – om soos God te wees. Die grootste probleem vir teïstiese sienings is die probleem van die bose. As daar waarlik ‘n God is, hoekom is daar soveel boosheid in die wêreld? Hoe jy dink God is en hoe jy God se verhouding met die wêreld sien, bepaal hoe jy die teenwoordigheid van die bose in die wêreld kan verklaar.

Om hierdie God nader te omskryf gaan ons verdere vrae vra.

·         Is God ‘n persoonlike wese?

Teïstiese godsdienste aanvaar daar is ‘n God. Dit is maklik om te sê dat daar ‘n God is, maar nie so maklik om te sê hoe Hy is nie. Mense het verskillende sienings oor God. My begrip van God het betekenisvolle implikasie vir my verstaan van die heelal, die mens en ons eie natuur en plek in die heelal. Daar is mense wat glo daar is ‘n God, maar Hy is nie ‘n persoonlike wese nie. God is dan iets soos die “krag” wat ons in Star Wars kry. God is dan ‘n ordeningsbeginsel vir die heelal. God het die heelal gemaak en hou dit in stand. Maar ons heelal is ontwerp om intelligente lewensvorms soos ons te ondersteun. Die heelal vertoon die tekens van ‘n Ontwerper. Maar as God dan nie ‘n persoonlike wese is nie, sukkel ons om die ontwerp van die heelal te verklaar.

·         Is die heelal God?

Party mense sê dat die verhouding tussen God en die heelal eenvoudig is: hulle is identies. God en die natuur is verskillende name vir dieselfde ding. Die heelal as geheel kan nie ‘n persoonlike wese wees nie. Panteïsme is die siening dat daar ‘n God is en Hy is alles. God is nie groter as die heelal nie – Hy is die heelal. Dit beteken dat ons God – of ‘n deeltjie van Hom – is. Hierdie is ‘n siening wat ons meer in die Oosterse godsdienste kry – sekere vorms van Hindoeïsme, Boeddhisme en Taoïsme. In die Weste kry ons dit in die New Age beweging. As alles dan God is, moet alles tog goed wees.

·         Is die heelal in God?

As God en die heelal nie een is nie, is daar ‘n paar opsies. Een opsie is dat die heelal ‘n deel van God is. Die ander opsie is dat God van die heelal onderskei kan word. Daar  is ‘n nie-persoonlike Opperwese wat die heelal transendeer – daar is geen oorvleueling tussen God en die heelal nie. Die heelal is onderskeibaar van God en ondergeskik aan God. Panenteïsme is dat God alles wat bestaan insluit. Dit sluit die heelal in, maar daar is meer aan God as net die heelal. Hulle glo die verhouding tussen God en die heelal is soos die verhouding tussen jou en jou liggaam. Jou liggaam is jy, maar daar is meer aan jou as net jou liggaam. Maar daar is een groot probleem: die werklikheid van die bose in die wêreld.

 

·         Is God ‘n volmaakte wese?

God het geen beperkings nie; God is nie afhanklik van iemand of iets nie; Hy is volmaak. ‘n Volmaakte God moet alwys, almagtig en volledig goed wees. Party teïste glo dat God nie in alle opsigte volmaak is nie. Hy mag byvoorbeeld beperkte wysheid of mag hê. Maar as God dan beperk is, is Hy in beheer van die heelal?

Maar het God met mense gekommunikeer? Daarna kyk ons volgende keer.

image_pdfimage_print

You may also like...