Die Christen se wapenrusting

image_pdfimage_print

Die Christen se wapenrusting – Francois Malan

Estelle het drie vrae oor die Christen se wapenrusting gevra. Hulle word as ‘n eenheid hanteer: 

(a) Verduidelik die Wapenrusting en waarom hierdie voorbeeld as agtergrond gebruik word deur Paulus?  

(b) Verduidelik die oorlogsterrein in Efesiers met die wapenrusting.

(c) DieWapenrusting: verduidelik die geveg, die neerlaag, die oorwinning 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Die agtergrond van die volle wapenrusting van God wat Paulus gebruik is die profesie van Jesaja wat die wapenrusting van die Here en sy Messias (gesalfde koning) beskryf in Jes.11:4-5; 59:17; vgl. 49:2; 52:7.

Jes.11 praat van die Messias koning uit die geslag van Dawid. Nadat God vir Assirië gebruik het om Israel met brute geweld in ballingskap weg te voer, omdat hulle God verlaat het, ten spyte van die waarskuwings van Amos, Hosea en Jesaja, het Hy Juda laat oorbly en konings soos Joas en Hiskia uit die nageslag van Dawid die seun van Isai vir Juda laat terugkom na die Here, en hulle het met geregtigheid regeer omdat die Gees van die Here op hulle gerus het (Jes.11:1-2).

11:4b sê letterlik: (Die Here) sal die aarde met die roede (rottang) van sy mond en met die asem van sy lippe die goddeloses doodmaak (soos in die OAV – ou Afrikaanse vertalings van 1933/53. Die NAV – nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 sê: Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring)

Die Here se krag word hier uitgedruk met die roede van sy mond en die asem van sy lippe. Die brute krag van die bosbouer sal nie meer nodig wees om Israel uit te kap nie. Egte gesag sal deur die koning se wetgewing uitgeoefen word, en die skuldige misdadiger sal deur ‘n ordelike regsproses aan bande gelê word.

Vgl.Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

11:5 sê letterlik: En geregtigheid sal die gordel om sy lende wees, en getrouheid die gordel om sy heupe (soos die OAV. NAV sê: hy sal regverdig en betroubaar regeer).

Vgl. Ef.6:14 die waarheid as gordel om julle heupe, met die borsplaat van geregtigheid (NAV vryspraak deur God).

In Jesaja 49, 52 en 59 praat ‘n profeet in die gees van Jesaja oor die Persiese konings wat God gebruik het om Juda terug te stuur na Jerusalem, nadat die Babiloniërs onder Nebukadneser hulle na Babel weggevoer het (vgl. 44:28-45:1 vir die Persiese koning Kores).

49:2 praat van die mond wat ‘n skerp swaard is, vgl. Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

52:7 praat van die voete van die boodskapper van die goeie tyding, vgl. Ef.6:15 se bereidheid om die evangelie (goeie boodskap) van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

Jes.59:17 praat van geregtigheid soos ‘n pantser en redding as die helm op sy kop – vgl. Ef.6:14 se borsharnas van geregtigheid (NAV vryspraak), en 6:17 se helm van verlossing.

In Efesiërs 6 praat Paulus van elke gelowige. God gee, deur sy Gees wat in ons kom woon het, aan ons die krag om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon met sy liefde, om ons daarin te wortel en te grondves, dat ons gevul mag wees met die volheid van God se liefdeskrag (Ef.3:14-19). Daarom loop Paulus se hele argument in die brief uit op die oproep om die volle wapenrusting wat God tot ons beskikking gestel het, aan te trek. 6:10 sê letterlik: word sterk gemaak! (NAV soek julle krag). Dit gebeur deur ons noue verbindtenis en gemeenskap met die Here (Jesus Christus) as die bron van ons krag. Ons staan nie meer onder die tirannie van die vors van die onsigbare bose magte nie, die gees wat aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is nie (2:2). Ons staan nou onder Christus se regering van liefde met Hom as ons hoof (1:21; 3:18).


2.  Die oorlogsterrein van Ef.6 is die stryd van die Here se kerk gesamentlik en elkeen wat in Christus glo afsonderlik teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug, die listige aanslae van die duiwel (6:11-12), dit is die Bose mag vir wie hierdie wêreld se mense volg in ongehoorsaamheid aan God (2:2). Dit is God wat stry teen die satan wat ons aanval, en Hy staan ons in die stryd by. Met die aantrek van God se volle wapenrusting wat Hy aan ons beskikbaar stel, gebruik Paulus ‘n beeld, soos hy in 4:22-24 letterlik die beeld van ou klere uittrek en nuwe klere aantrek gebruik het (soos in OAV. NAV sê: breek met die ou sondige mens in julle…lewe as nuwe mense). Die oorlogsterrein is ons alledaagse lewe (lees die bespreking daarvan in Ef.4:25-5:21: ons stryd teen: leuens, kwaadword, steel, vloek, bitterheid, woede, lastering, hoerery, gierigheid, dronkenskap.


3.  Die geveg. Dit is ‘n geveg om te lewe soos kinders van God wat vasstaan teen die aanslae van die duiwel (vier maal word die woord staan, vasstaan, weerstaan gebruik: 6:11,13,13,14). Daar is aanhoudend en ‘n wye verskeidenheid van aanslae van die duiwel. V16 sê dit soos brandende pyle wat hy teen ons afskiet. Dit kom as versoekings in ons om verkeerd op te tree, maar kom ook van buite deur mense en groepsdruk wat ons verlei (soos die reeks in 4:25-5:21 aandui). Christus het reeds die stryd gestry en oorwin. Daarom moet ons by Hom skuil, en deel in sy oorwinning deur nee te sê vir die versoekings van ons eie hart en geaardheid, en beklee word met die liefde van Christus in ons denke en optrede. Paulus noem die geveg ‘n worstelstryd (NAV stryd) met ‘n beeld uit die stoeigevegte van sy tyd (v12). Maar hier is dit nie twee liggame se spierkrag teen mekaar nie, maar ons gees teen die bose gees wat ons aanval in ons denke en optrede, en van buite deur die denke en optrede van ander mense.

Ons wapens is egter die waarheid as gordel om ons heupe (6:14), soos die Romeinse soldaat se leer gordel wat sy onderlyf en bobene beskerm teen pyle. Ons moet die waarheid van die evangelie se verlossing en nuwe manier van lewe aantrek en dit in ons houding, taal en gedrag uitleef (4:25).

Ons borsharnas is geregtigheid (4:25; NAV vryspraak), die regte verhouding teenoor God en die regte optrede teenoor mense (vgl. 4:24 volgens die wil van God; 5:1,2 in liefde). Die Romeinse soldaat het ‘n koper borsplaat gedra om sy borskas en hart te beskerm teen pyle en swaarde. So moet ons harte beskerm word deur reg te lewe met God en ons medemens.

Die Romeinse soldaat het leerskoene gedra vir die lang opmarse sodat sy voete kan bly marsjeer of hardloop (6:15). Die gelowige moet gereed wees om die goeie nuus van die vrede wat Christus vir ons met God en met mekaar bewerk het (2:14-18) te gebruik om op die geestelike terrein te gaan veg teen die ongelowiges, deur vir hulle van die vrede te vertel en dit teenoor hulle uit te lewe.

Geloof as skild (6:16). Die Romeinse soldaat het ‘n groot skild gedra, met ‘n houtraam wat met kalfsvel oorgetrek is en bo en onder met yster versterk is, om sy hele liggaam te bedek teen pyle wat met pik gesmeer en brandend afgeskiet is, en swaard aanvalle. Die geloof is vir die Christen sy skild teen die aanvalle van die Bose. Die geloof is ook ‘n gawe van God (2:8 letterlik: dit – nl. redding en geloof; NAV redding). Dit is vertroue in God, in Hom wat ons saam met Christus Jesus uit die sonde opwek en ons gemaak wat ons nou is. In Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:7,10).

Die helm van verlossing (6:17). Dit moet ontvang word (NAV opsit). Die Romeinse soldaat het ‘n bronshelm gedra om sy kop te beskerm. God het ons verlos uit die dood, die oordeel oor ons sonde, en die slawerny van die sonde, en ons in die nuwe koningkryk geplaas waar Christus regeer. Dit is sy gawe aan ons. Daarmee moet ons kop en ons denke gevul word.

Die swaard van die Gees (6:17). Die duiwel moet nie slegs teengestaan word nie, maar ook aangeval word. Die woord wat hier gebruik word, is die kort swaard wat die Romeinse soldaat gebruik het in man tot man geveg. Die Gees maak die swaard wat ons hanteer kragtig. Die swaard is die woord van God, die evangelie, die goeie nuus oor Christus se verlossing wat ons aan ander vertel, en wat die Gees gebruik om hulle te oortuig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...