Die Eerste Brief van Johannes (11)

image_pdfimage_print

Die Eerste Brief van Johannes (11) – Jan van der Watt

Deel 3: Die ratte loop op liefde – maar steek ook vas

Hoofstuk10: Liefde wat iets kos

Ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God af, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God (1 Joh. 4:7). Hoe moeilik die opdrag ook al soms klink, is daar beslis ’n manier hoe ons ware liefde prakties in ons lewe kan ervaar.

’n Gesin deur lojaliteit aan mekaar gebind

Ons het reeds gesien dat Johannes sê dat die gelowiges die gesin van God is. Die onsigbare band wat die gesin as eenheid aanmekaar bind, is liefde (1 Joh. 3:11).

As liefde dan so belangrik vir gelowiges is, moet ons seker presies weet wat met liefde bedoel word. Kyk na die volgende verhaal.

Steven kom van Rusland af en het nog nooit van die Christendom gehoor nie. Hy kyk baie TV en is veral lief vir die sepies. Daar hoor en sien hy gereeld dat mense “liefde maak”. Veronderstel nou ’n gelowige vertel vir hom van die Christendom en sê dat Christene mekaar moet “liefhê”. Wat sal hy dink?

Misverstande kom maklik voor soos agtergronde en verwagtings verskil.

Die vraag is nou:

(1) Wat presies beteken liefde waarvan gelowiges praat? Gee jou definisie hieronder.

Onthou jy nog dié agtergrond van die Johannese gemeente: Hulle het hulleself gesien as ’n groot gesin waar die belange van die Vader sentraal staan. As groeplid was die welsyn van jou broers en susters vir jou belangriker as jyself. Jy is primêr groeplid en nie indiwidu nie.

(2) Met bogenoemde in gedagte, verduidelik in jou eie woorde wat presies met die volgende verse oor die aard van Christelike liefde gesê word.

Maak seker dat jy vir jouself hieruit duidelik antwoord op die vraag of liefde ’n gevoel of emosie is, of dit dade is, of dalk ’n gesindheid.

1 Joh. 4:7–8:

1 Joh. 4:19 en 21:

1 Joh. 5:1–3:

Uit hierdie verse is dit duidelik dat Christelike liefde die liefde volgens die patroon van die Vader van die gesin is.

Verder is die liefde iets wat die Vader en kinders op soortgelyke wyse aanmekaar bind. Soos die kind teenoor die Vader voel en optree, so moet hy ook teenoor die ander lede van die gesin voel en optree. (Dink aan die samevatting van die wet.)

Christelike liefde is meer as emosie of gevoel of gesindheid. Dit beteken totale lojaliteit aan die ander lede van die gesin. Dit is om jouself, jou gesindheid, jou gevoel, jou dade, jou wil geheel en al aan hulle te bind.

Christelike liefde is meer as emosie of gevoel of gesindheid. Dit

beteken totale lojaliteit aan die ander lede van die gesin. Dit is om

jouself, jou gesindheid, jou gevoel, jou dade, jou wil geheel en al

aan hulle te bind.

Deur die liefde van God is jy bereid om die belange van die ander lede van die gesin eerste te plaas en om vir hulle die opofferings te maak wat van jou gevra word.

Daarom kan “Christelike liefde” die “band wat gelowiges tot volmaakte eenheid saambind,” genoem word (Kol. 3:14).

Haat (1 Joh. 2:9) begin nie eers as jy die een of ander wrok teen iemand begin dra nie, maar dit begin al as jy hom doodgewoon nie liefhet nie.

 

Hoe lyk die praktyk?

(1) Wat is die betekenis van bogenoemde lojaliteit vir:

jou houding teenoor die ander lede van die gemeente?

jou reaksie as daar ondersteuning in die gemeente vir iets gevra word?

(2) Gee aan jou gemeente punte uit 10 (1 = sleg; 10 = uitstekend) vir die “liefde” wat onderling bestaan.

(3) Dink jy die onderlinge liefde kan in die konteks van die moderne wêreld verbeter word? Het jy dalk enige voorstelle of planne wat dit kan help verbeter?

 

Liefde … hoe ver nog?

Lojaliteit en opoffering is alles goed en wel. Maar presies wat word van ’n mens gevra? Hoeveel moet jy opoffer en hoe ver moet jy gaan?

Moet jy vir elke bedelaar iets gee? As iemand vra om iets van jou te leen, moet jy dit doen, al weet jy dat jy dit nie gaan terugkry nie? Moet jy, vrou alleen in die motor, ’n duimgooier oplaai?… en so aan.

(1) Lees 1 Joh. 3:16–17 en 4:9.

(2) Hoe ver moet liefde gaan volgens die Skrifgedeeltes hierbo?

(3) Wie se voordeel word deur liefde gedien?

Die hart van liefde is absolute opoffering ter wille van die ander lede van die gesin.

Jesus het die voorbeeld kom stel. Hy is tersefdertyd die bewys dat die Vader nie iets van ons vra wat Hy nie self bereid is om te doen nie. Hy het sy Seun tot ons voordeel gegee.

Die hart van liefde is absolute opoffering ter wille van die ander

lede van die gesin.

Jesus het sy lewe vir ons gegee: Daar was dus ’n situasie waar ons sy hulp dringend nodig gehad het.

Die mens was kniediep in die moeilikheid, besig om in die sonde weg te sink. Jesus het ons kom help … vir ons het Hy redding gebring, maar self met sy lewe geboet. Hy het nie halfpad opgehou omdat dit Hom “te veel” begin kos het nie. Nee, om ander te kan help, het Hy nie aan Homself gedink nie.

En nou, wat van ons?


Wat moet ons doen?

Hoe moet ons optree in die lig van wat ons hierbo gesê het?

Ons moet soos Jesus wees!

Ons lojaliteit teenoor ons mede-gelowiges moet so sterk wees dat hulle nood óns nood word. Ook ons kan nie halfpad omdraai of sê dat dit ons nou te veel kos nie. Ons behoort ook ons lewe vir ons naaste af te lê!

(1) Hoe, dink jy, kan ons dit in die alledaagse lewe doen?

(2) Lees weer 1 Joh. 3:17. Daar gee Johannes aan ons ’n voorbeeld van hoe ons ons lewe vir ander kan aflê.

As iemand iets nodig het en ons kan hom help en ons doen dit nie, dan tree ons nie in liefde op nie, maar in haat!

Let mooi op wat die gedeelte hierbo inhou:

In die gedeelte vra die persoon nie om hulp nie. Jy sien hy het behoefte! Dis nie reaksieliefde nie, maar aksieliefde.

Nood spreek mense met liefde aan. Sover jy kan, sal jy jou broer of suster wil help.

Liefde hou nie halfpad op nie. Daar word nie na die prys gevra nie.

Maar hoe lyk die praktyk? In ons samelewing en selfs in ons kerke is mense nie juis daarop ingestel om mekaar te help nie. Mense help nie mekaar regtig meer so graag nie. Ons wil nie eintlik by mekaar betrokke raak nie.

Dit is ook nie so maklik om by mekaar betrokke te raak nie—al wil jy. Daar is soveel angels. Jou program is maar besig. En soms kry jy mense wat in plaas van die pinkie die hele hand gryp en ’n oorlas van hulleself maak. Of mense wil nie hê dat jy hulle help nie omdat dit hulle “trots” aantas; asof hulle bang is hulleself of iemand anders dink hulle kan nie vir hulleself sorg nie. En so kan ons nog “angels” opnoem.

Ons moet soos Jesus leef. Ons behoort ook ons lewe

vir ons naaste af te lê.

Nou kom die turksvy: Die Bybel sê dat die belangrikste ding vir ’n Christen is om sy broer en suster onvoorwaardelik lief te hê en om bereid te wees om hom in enige nood te help. Maar ons sukkel om dit regtig reg te kry!

(3) Is daar enige manier of maniere waaraan jy nog kan dink wat meer sigbare liefde in jou gemeente sal bevorder?

Kyk ’n slag goed na die Christelike liefde wat in jou is. Dink aan die geweldige opdrag wat in die eenvoudige woorde saamgevat word: “Jy moet jou naaste liefhê.”

Bid dat die Here jou daagliks sal leer om meer lief te hê.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...