Die Evangelie volgens Lukas: Jesus bring die tyd vir beslissing (Luk 12:49-53) – Francois Malan

image_pdfimage_print

12:49-50  In die Ou Testament word dikwels gepraat van mense wat deur vuur getoets en geoordeel word, of oorweldig word deur ’n see van moeilikhede (Ps 66:10-12; 69:2-3; Jes 43:2-4), maar doop is nie ’n Ou Testamentiese begrip nie, hoewel die woord ‘doop’ gebruik word om in bloed gedruk te word (Eks 12:22), te besprinkel en op die altaar uit te giet (Lev 9:9) in die water druk om te reinig (Lev 11:32; ), vir Naäman om in die Jordaan gewas te word (2 Kon 5). Doop kom eintlik van die opdrag aan Jesus se voorloper, Johannes die Doper (Luk 3:3). Hier gebruik Jesus ‘doop’ as beskrywing van sy eie dood (soos in Mark 10:38-39). Johannes het voorspel dat Jesus die mense met die vuur van God se oordeel sal doop, wat die kaf sal verbrand (Luk 3:16). Maar Johannes het nooit kon dink dat Jesus die eerste sal wees wat daardie doop moet ondergaan nie.

Hierdie rare kykie in die gemoed van Jesus wys iets van sy worsteling as ’n mengsel van verlange na en weerstand teen sy kruisdood. Jesus is oortuig dat God se plan vir die verlossing van die wêreld vereis dat Hy die vuur moet aansteek deur gedoop te word in die toorn van God oor die sonde op aarde (Luk 12:49). Dit begin egter nie by ander mense nie, maar by Jesus, om self die oordeel van God oor die sonde van die wêreld te dra (Joh 1:29). Hy wens dat dit kan begin sodat mense daardeur gereinig kan word van hulle sonde. Maar daar is ook ’n menslike weerstand teen die verskriklikheid van sy dood, deur die straf van God op al die sonde van die ganse mensheid op Hom te neem (vgl. sy bede in Getsemane, Luk 22:42,44; en Joh 12:27-33). In Lukas is dit die eerste heenwysing in die mond van Jesus oor sy aanstaande lyding. Dit word aangekondig met ‘Ek het gekom, en Ek is hier, om ’n vuur op die aarde te werp’ (ballō gooi, bring, aansteek). Dit gaan oor die aardbol versprei. Dit bring God se oordeel oor die sonde van die mensdom (soos destyds vir Egipte), maar vir dié wat in die Lam van God glo (waar die bloed van die Lam aan die deurkosyne gesmeer is) is Hy die Paaslam wat vir ons geslag is (1 Kor 5:7)), en het die koninkryk van God gekom. Vir hulle het die vuur van die Heilige Gees gekom om hulle te lei.

12:51-53 Die Joodse geskrifte tussen die Ou en Nuwe Testament is vol waarskuwings oor die ellende (wee julle) wat oor die wêreld sal kom voor die vestiging van die koninkryk van God, maar nêrens is daar ’n gedagte dat die Messias wat hulle verwag, self deur die diep waters moet gaan nie. Miga 7:6 beskryf die opbreek van die gesin as simptome van Israel se degenerasie, maar sou nie daaraan dink dat God self gesinne gaan opbreek om sy doel uit te werk nie. Want die vuur wat Jesus kom aansteek het, bring skeiding tot in gesinne (diamemerismenoi mense wat verdeeld is in teenoorstaande en vyandige eenhede; die Griekse idioom om ‘vuur te werp/aan te steek’ beteken ook om onmin en verdeeldheid te veroorsaak). Die koms van Jesus beteken ’n onvermydelike konflik van lojaliteite, om eens en vir altyd te kies tussen God se koninkryk en jou eie nasionalisme. Jesus het geweet as die Jode Hom verwerp, verwerp hulle hulle laaste kans om nasionale veiligheid en vrede te kry. Vir mense wat vir Jesus kies is daar die ‘vrede op aarde vir dié mense in wie God ’n welbehae het!’ waarvan die engele gesing het (Luk 2:14). Maar mense wat nie in Hom glo nie, staan reeds veroordeel (Joh 3:17-21). Vir baie is Jesus ’n struikelblok (vgl. Rom 9:33 en 1 Petr 2:6,8 se aanhaling uit Jes 28:16).

In een gesin van vyf, die nouste menslike gemeenskap as voorbeeld, sal twee teen drie, en drie teen twee, verdeeld wees: (1) pa teen (2) seun, (3) ma teen (4) dogter en teen (5) skoondogter, wat almal in een huis sou woon; die ouer geslag teenoor die jonger geslag en die jonger geslag teenoor die ouer geslag (in 1 Kor 7:12-16 is dit selfs tussen man en vrou). Die mens wat vir Jesus kies, sal gehaat en vervolg word deur dié wat teen Hom kies.

 

Die volk word tot bekering geroep (Luk 12:54-13:9)

Vanaf 12:1 het Lukas woorde van Jesus byeengebring. Hier gaan hy daarmee voort. Maar nou gaan dit nie meer soseer oor die posisie van sy volgelinge in die wêreld nie, maar is dit meer ’n oproep tot die volk, wat geluister het na Jesus se onderrig aan sy volgelinge, om hulle te bekeer. Die oproep kom ná die aankondiging van die skeiding wat Jesus bewerk tussen gelowiges en ongelowiges. Lukas skilder nie meer die samedromming van die skare om Jesus soos in 12:1 nie. Die tema van Jesus se prediking word nou meer ’n oproep tot die skare om hulle te bekeer tot die aanvaarding van Jesus en God se koningskap oor hulle lewe. Vir Israel word dit ’n onmiddellike krisis.

 

Beoordeling van die tyd (Luk 12:54-56)

12:54-55 Die volk is almal kenners van die weer. As die westewind oor die Middellandse see ’n wolkie aanwaai, bring dit reën. As die wind egter oor die woestyn in die suide waai, beteken dit droë warm dae.

12:56 Hulle kan die weerpatrone, die ‘gesig/voorkoms van die aarde en die lug’ beoordeel. Maar hulle weet nie hoe om hierdie besondere geleentheid (kairos), toe die Skepper van die aarde en die Lig van die wêreld na hulle toe gekom het, te beoordeel nie. Jesus noem hulle ‘skynheiliges.’ Hulle rig hulle lewens in volgens die weerpatrone wat hulle vertrou, maar die God agter die weer word nie vereer en vertrou nie. Johannes die Doper het hulle reeds geroep om hulle siening van hulleself as God se uitverkore volk te heroorweeg. Hulle verkiesing is nie bedoel om as nasie daarop trots te wees nie, en ook nie om wêreldse grootheid aan hulle te bied nie. Johannes het hulle tot berou oor hulle sonde en tot bekering tot God geroep, om God se nederige dienaars te wees. Toewyding aan God en barmhartigheid teenoor jou medemens is ware heiligheid. Hulle sien nie die wolk van genade en seën wat Jesus vir ’n groot aantal mense gebring het raak nie, en ook nie die gloeiende hitte van die oordeel oor dié wat Hom ongehoorsaam is nie. Hulle uiterlike godsdiensritusse het hulle verhinder om die betekenis van Jesus en sy koms raak te sien. Hulle besef nie die dringende erns van die saak nie. God gaan die Romeine in 70 n.C. gebruik om Israel te verstrooi, soos Hy in 722 v.C. die Assiriërs as sy roede gebruik het (Jes 10:5-6). Slegs ’n onmiddellike berou kan hulle red. Die erns van die saak word in die volgende drie paragrawe uitgespel.

 

Versoen jou met die een wat jou aankla (Luk 12:57-59).

12:57-59 Die insolvente skuldenaar wend elke moontlike poging aan om sy saak buite die hof te skik, eerder as om heeltemal tot niet te gaan deur in die tronk gegooi te word vir sy skuld. Daar het hy geen moontlikheid om geld te verdien om sy skuld te betaal nie, of om losgelaat te word voor al die skuld betaal is nie. So wag die eindoordeel op Israel en sal dit vir hulle beswil wees om die saak met God dadelik uit te maak deur hulle bankrotskap voor Hom te bely en hulle op sy genade te werp. Daarom vra Jesus vir die Jode wat die weerpatrone kan onderskei: hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie (dikaion, reg in die oë van God, om in die regte verhouding tot God te wees)? Jesus bied versoening met God vóór die oordeelsdag aan, deur jou aan Hom te verbind in die geloof. Die voorbeeld roep tot versoening met God en met jou medemens terwyl jy nog op pad is. Jesus het juis gekom om sondaars tot bekering te roep (Luk 5:32).

image_pdfimage_print

You may also like...