Die gelykenis van die verlore skaap

image_pdfimage_print

“A little knowledge of God is worth more than a great deal of knowledge about Him.” J. I. Packer

Die gelykenis van die verlore skaap

Hierdie gelykenis is die eerste van drie opeenvolgende gelykenisse waarin ons die hart van God sien: Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10).  Hierdie gelykenis daag ons uit om na ons eie harte te kyk en God se hart te sien – en met deernis na ongelowiges uit te reik.

 

Hierdie gelykenis kom net nadat die Fariseërs en skrifgeleerdes gekla het dat Jesus sondaars ontvang. Hierdie gelykenis eindig met die blydskap oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie (Lukas 15:7). Maar nou kom Paulus en hy sê: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10). Die stelling in Lukas 15:7 verwys dus na mense wat dink hulle is regverdig en nie bekering nodig het nie. Ons is regverdig, nie oor dit wat ons self doen nie, maar oor dit wat God in genade vir ons gedoen het.

In hierdie gelykenis stel Jesus die gekla van die godsdienstige elite teenoor die blydskap in die hemel oor die een sondaar wat tot bekering gekom het. Ons sien die intense fokus van God op diegene wat nog verlore is. Dit herinner ons daaraan dat God nie net in ons belangstel nie, maar  dat Hy ook belangstel in diegene wat Hom nog nie ken nie. Net nadat Jesus Hom as die goeie herder geopenbaar het, sê Hy: Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie Ek moet hulle ook lei Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder  (Johannes 10:16).

Die verlossingswerk wat God in ons begin het, was nie bedoel om by ons te eindig nie. Ons moet altyd onthou dat ons ‘n God dien wat voortdurend op soek is na die een verlore skaap. Die verbasende is dat God ons gekies het om sy ambassadeurs te wees om sy sending op aarde  te vervul. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Korintiërs 5:18 – 20).

In die gelykenis laat die herder die 99 skape in die veld staan en soek die verlore een. In vers 4 is daar ‘n belangrike vraag: Wat doen hy dan?  Jesus wil sy hoorders tot optrede dwing. Sal hulle ook die 99 los en die verlore een gaan soek? As ons God wil volg, moet ons sekere dinge los en diegene wat nog nie met Hom versoen is nie, gaan soek. Ons moet ons gemaksones en selfsugtige begeertes agterlaat en by God aansluit op soek na verlore skape.

 

image_pdfimage_print