Die einde met vuur

image_pdfimage_print

Die einde met vuur – Francois Malan

Jan Smith vra:

[Hierdie is ’n opvolgvraag]

Is dit die bedoeling dat die huidige aarde en hemele met vuur sal vergaan soos wat Petrus aandui? In 11 Petrus 3: 12 en 13 is daar vermelding van “julle” wat die koms van die dag van die Here verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt maar “ons” verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Saamgelees met vers 7: Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf (destruction) van die goddelose mense.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 2 Petrus 3 waarsku Petrus die gemeentes teen die dwaalleraars wat nie meer die wederkoms van die Here verwag nie, en ook nie ‘n oordeelsdag nie (v4). Hy wys eers daarop dat die dwaalleraars gerieflik die feit ignoreer dat dit  God is wat die hemel en die aarde geskep het deur sy woord, en deur sy woord die hemel en die aarde onderhou (v5). Deur sy woord is die wêreld in die ou tyd deur water verwoes/vernietig (v6, NAV vergaan). Deur die woord van God bestaan die hemel en die aarde vandag nog tot by die wederkoms van Christus om die goddelose mense te oordeel en te verdelg (v7, dieselfde woord van God wat deur water die aarde verwoes/ vernietig het volgens v6).

Die vergelyking met die sondvloed waardeur die wêreld verwoes is, gee ietwat van ‘n aanduiding dat die nuwe hemel en nuwe aarde wat deur die woord van God geskep gaan word na die verbranding van die hemel en die aarde, wel ‘n verband sal hê met die huidige hemel en aarde wat die Here deur sy woord geskep het en in stand hou; maar dat dit heeltemal nuut sal wees.

Die nuwe aarde wat te voorskyn sal kom as God sy oordeel oor alles laat gaan het, as die hemele verbrand en die elemente in die vuur weggesmelt het (3:12), as die son verduister het en die maan sy glans nie meer gee nie, as die sterre van die hemel geval het en die magte van die hemel wankel (Markus 13:24-25; Mat 24:29) – die nuwe aarde wat dán te voorskyn sal tree, sal die ou aarde wees wat God geskep het, maar deur God se oordeel gereinig is van al die sonde en die gevolge van die sonde. Dit sal die aarde wees soos God dit oorspronklik bedoel het en sou gewees het as daar geen sonde was nie.

Die Bybel praat van ‘n wêreld wat verbygaan of ondergaan (Markus 13:31 vgl. Jes.34:2,4; Joel 2:10), wat verdwyn of bevry word van diensbaarheid aan die verganklike (Openbaring 21:1; Romeine 8:19-22), wat soos ‘n kledingstuk verwissel word, of deur vuur gelouter word. Hoe dit gebeur weet ons nie. In die Skrif gaan dit nie om ‘n presiese beskrywing van ‘n ou wêreld wat ondergaan of ‘n nuwe wêreld wat opstaan nie. Alleen enkele en algemene buitelyne word vir ons getrek: die nuwe aarde sal anders wees as die ou aarde, maar steeds die aarde wat God geskep het, waarop alles tans doodgaan weens die sonde van die mens, maar wat smag om van die dood verlos te word saam met die kinders van God.

Na die eerste argument teen die valse leraars, volg die tweede oor God wat ‘n ander tydsmate het as die mens (2 Petr.3:8) en die derde argument oor God se lankmoedigheid om die oordeel uit te stel en mense nog ‘n kans gee om tot bekering te kom (v9). Dan volg die vierde argument in vers 10 om die gemeente lewendig gereed te hou, dat Jesus onverwags sal kom soos ‘n dief in die nag op ‘n tyd wat niemand ken nie. Daarby word dan uitgebrei oor die vernietiging van die hemel en die aarde. Die hemel sal met ‘n groot gedruis verbygaan, ophou bestaan, die hemelliggame sal brand en wegsmelt en die aarde met alles daarop sal vergaan (die woord ‘sal vergaan’ is ‘n groot vertaalprobleem – die Griekse woord wat gebruik word in die beste manuskripte uit die vroeë derde eeu n.C., nl. ‘sal gevind word’,  pas nie in die konteks van die vers nie (vgl. by v12). Daarom het ou manuskripte dit probeer verander (‘n derde eeuse teks voeg ‘n ‘nie’ in: ‘sal nie gevind word nie; ‘n 4e eeuse manuskrip voeg ‘n woord by: ‘sal versmelt/ontbind gevind word’;  5e eeu se tekste verander die woord na: ‘sal verdwyn’;  of: ‘sal verbrand word’).

Met die vier argumente wil Petrus die gemeente wakker skud om aan God toegewy te lewe (v11), terwyl ons uitsien na die dag wanneer God kom om die hemel en die elemente te laat verbrand en wegsmelt, soos met Sodom en Gomorra gebeur het, sodat ons kan woon op die nuwe aarde met die nuwe hemel waar geregtigheid sal heers, dat ons met God in die regte verhouding sal lewe as sy kinders wat sy wil doen en daarin ons vreugde vind om Hom en ons naaste uit liefde te dien (v12,13). So waarsku Petrus teen die dwaling van beginsellose mense wat ons van ons standvastigheid wil beroof (3:17), maar dat ons steeds moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (v18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...