Die Groot Geloofswoordeboek: Heiliges

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Heiliges

Heiliges

Die Christene word in die Bybel “heiliges” genoem. (*Heilig, *Heili­ging) In moderne vertalings is dit gewoonlik vertaal met iets soos: mense wat aan God behoort, of mense wat vir God afgesonder is. In ons kerklike taal kry ons dit in die geloofsbelydenis (“Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges”) of in die uitdrukking: “Die *volharding van die heiliges.”

Hierdie “heiliges” is nie ‘n buitengewone groep Christene wat verder gevorder het as ons gewones nie. Alle mense wat waarlik op Jesus Christus vertrou, is kinders van God of gelowiges. Hulle is ook heiliges, mense wat God vir Homself afgesonder het. Die Hebreeuse en Griekse woorde vir *heilig het ook iets te doen met eenkant sit, opsy sit, beskikbaar wees.

Maar in die geskiedenis van die kerk het daar die gewoonte ont­staan om sekere spesiale mense “heiliges” te noem. In som­mige de­no­minasies word die belangrike Bybelfigure “heiliges” genoem. In Engels kry ons St Paul van Saint Paul. Later het die gebruik ont­wikkel om sekere uitstaande Christene “heiliges” te noem. In die Katolie­ke Kerk kan iemand na sy of haar dood as “heilige” ver­klaar word indien hy of sy aan sekere vereistes voldoen. Die een groot saak is dat die persoon wonderwerke moes gedoen het. Die Ka­to­lieke het allerlei maniere om te bepaal of iets regtig ‘n won­der­werk was.

Vir die meeste Protestante is dit ‘n vreemde saak. Katolieke is egter oortuig dat dit eintlik tot die eer van God is, want dit is sy genade wat die persoon in staat gestel het om ‘n “heilige” te wees. Dit is dus eintlik God wat geëer word as iemand as ‘n heilige verklaar word.

 

Heiligheidsbeweging • AEB

Hierdie beweging het in Amerika ontstaan in die middel van die negentiende eeu onder invloed van John Wesley se leer oor *hei­ligmaking. Dit het beklemtoon dat ‘n mens na jou bekering ‘n tweede ervaring nodig het, die “*tweede genadewerk” (“Second Bles­sing“). Tydens jou bekering word jou sonde vergewe, maar jy is nog uitgelewer aan jou sondige natuur en die mag van die sonde. Die versoekings het dan nog altyd ‘n aanknopingspunt binne-in jou. Deur die tweede genadewerk word jy vry gemaak van die sondige natuur sodat die versoekings nou net van buite af kan kom, en jy dus baie effektiewer daarteen weerstand kan bied.

Die bekende naam in hierdie verband is AB Simpson. An­drew Murray het self aanknopingspunte by die heiligheidsbewe­ging gehad. In Suid-Afrika is die AEB, dit is die Afrika Evange­lie­se Bond, die beste voorbeeld van die heiligheidsbeweging. Hulle maak ‘n baie sterk bekeringsappèl en volg dit dan op met ‘n op­roep om die Here te vertrou vir die tweede genadewerk. Hulle het ook sterk oortuigings oor *Goddelike genesing, wat ook *Ge­loofsgenesing genoem kan word. Hulle werk interkerklik en werf nie mense vir spesifieke kerke nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print