Die Groot Geloofswoordeboek: Metodis

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Metodis

Metodis • Metodistekerk

‘n Metodis is óf lid van die Metodistekerk (Methodist Church), of iemand met dieselfde oortuigings as die Metodiste. Daar is ‘n groot verskeidenheid Metodistekerke veral in Engeland en Amerika. Daar is selfs ‘n paar wat nog as Wesleyaanse Kerke be­kend staan.

John Wesley was ‘n toegewyde prediker in die Church of Eng­land wat sterk beswaar gehad het teen die lae vlak van gees­te­likheid en toewyding in Engeland. Hy het veral op ‘n heilige lewe klem ge­lê, en gaandeweg ook ‘n besondere leer oor *heilig­ma­king ontwik­kel. Hy het dit beskou as ‘n tweede erva­ring ná be­kering waardeur ‘n mens geheilig word. Dit is later die *twee­de genadewerk genoem (Second Blessing). Sy leer het ‘n be­paalde vorm van *Perfeksionisme ingesluit waarop daar van baie kante af kritiek gekom het.

Hy het later van die Church of England weggebreek en die Me­todistekerk gestig. Sy leer oor heiligmaking het ‘n groot invloed uit­geoefen op die Keswickbeweging, en in die algemeen op die *Heiligheidsbeweging in Engeland en Amerika. In Suid-Afrika is iets daarvan ingedra deur Andrew Murray en die *AEB, die Afrika Evan­geliese Bond.

Alhoewel hierdie leer nog voortleef, is daar baie Metodistekerke wat nie meer daarvoor bekend staan nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print